Ivan Zimmerman – Asems Uit die See

30 Julie 2011 / Ou Meulteater

Dit was ‘n droom wat al lank wag om waar te word. Ivan Zimmermann is bekend as akteur in gewilde reekse soos Dit Wat Stom Is, Egoli en 7de Laan, maar hy het nog altyd geweet dat hy eendag ‘n CD sal opneem. Dit het gebeur toe hy Asems Uit die See in 2010 vrygestel het.

“Ek skryf al baie lank gedigte en so vyf jaar terug het ek van dit begin toonset,” vertel hy. “Ek het daaraan geskaaf en vir mense van die liedjies begin speel. My droom om ‘n CD op te neem, het al nader gekom. Daar was twee dinge wat vir my baie belangrik was met die album: al die liedjies moet oorspronklik wees en dit moet iets vir my beteken.”

Elkeen van die elf snitte op Asems Uit die See het ‘n storie. So is Weskus van God, die eerste snit op die album, ‘n liedjie wat Ivan sewe jaar terug geskryf het toe hy Lize Beekman se huis in Melkbosstrand aan die Weskus opgepas het. “Dit was eers ‘n gedig en ek het dit later in Saldanha getoonset. My liefde vir die Weskus het juis begin toe ek in Saldanha in die vloot was,” vertel Ivan. Ek Weet Jy Weet is ‘n liedjie van hoop. “Ek was nog altyd baie geinteresseerd in meerminne. Wanneer vriende vra waar my meisie is, spot ek en sê sy is ‘n meermin wat net vir ‘n rukkie weg is. Maar die liedjie Ek Weet Jy Weet is eintlik ‘n liedjie van hoop – nie net hoop vir liefde nie, maar hoop vir die lewe. Mens moet nooit ophou hoop nie. En in die lewe kan jy sê wat jy wil, maar aan die einde van die dag gaan dit oor dade, oor wat jy dóén.”

Wat wil hy met die album bereik? “Ek glo ek praat ‘n taal wat mense kan verstaan en ek hoop my liedjies beteken iets vir hulle. Ek hoop die album laat hulle dink en dalk ook help om iets terug te kry wat hulle in hul lewens verloor het. Daar is in elkeen van die liedjies iets waar mense hulle in my skoene kan plaas.”

Ivan is in November vanjaar te sien in Platteland, `n Afrikaanse fliek met groot name soos Steve Hofmeyr, Bok van Blerk en Lianie May in die rolverdeling.

Vertoning begin 20;00
Prys R80,00pp

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.