Jong teaterskrywer maak opslae met eerste stuk

Kanya Viljoen is ʼn 24-jarige teaterstudent aan die Universiteit van Kaapstad wat reeds diep spore in die teaterbedryf trap met die eerste stuk uit haar pen, RAAK.

RAAK vertel die eenvoudige verhaal van ʼn man en vrou en die begin en einde van hul verhouding. Die stukkie garing begin stadig ontrafel, dan ál vinniger, tot die punt waar jy nie meer daaraan kan vasklou nie.

Waar begin die einde? Is dit ʼn oomblik van geweld, van weet? Of is dit iets wat ontaard uit jare van stilte, sluk, soek en staar? Is dit Raka, die ding wat binne elke mens woordeloos wag? Soos die bokkoppe wat teen die huis se muur hang? Staties. Sonder skroom. Iets oorgeërf. Jare lange verstaan en wanbestaan? Of is dit iets wat ons binne mekaar vind? ʼn Ontdekking?

“Die stuk het ontstaan omdat ek in ʼn Afrikaanse huis grootgeword het en nog altyd gefassineer is deur die konsep van jag en uitgaan veld toe. Dit word gekombineer met Raka, die werk van NP van Wyk Louw,” vertel Viljoen in ʼn telefoniese onderhoud met Maroela Media.

Die stuk het vanjaar op die Vrystaat Kunstefees gedebuteer en is genomineer as beste produksie op dié kunstefees. “Ek is net nederig dankbaar. Ek dink nie dit is elke dag dat iemand die geleentheid kry om hul teaterstukke verder te voer as universiteit nie,” vertel sy.

“Ek is bly die stuk word die kans gegun om te reis. Ons het so pas die nuus gekry dat die stuk ook vir die Woordfees aanvaar is, so dit is baie opwindend dat die stuk verder kan leef.”

Kanya Viljoen. (Foto: Facebook)

Kanya Viljoen. (Foto: Facebook)

Volgens Viljoen is die teks baie fyn, verwikkeld en verweef. “Elke keer dat ons dit uitvoer, word die stuk meer kompleks en meer in detail en bied dit my die geleentheid om nog verder daaraan te kan werk. Dit is hoekom ek so lief is vir teater, want een vertoning kan nie regtig ooit tot op die laaste detail gedupliseer word nie.”

Sy vertel sy was gedruk vir tyd om die stuk klaar te skryf tydens haar studie. “Ons was bang dat die studenteonluste op die kampus weer sou uitbreek en daarom het ons toe net drie of vier weke gehad om ons stukke teen September af te handel.”

David Viviers en Anoescha Kruger vertolk die hoofrolle in RAAK. Viviers is geen vreemdeling op die verhoog nie en is tans te sien in die splinternuwe Afrikaanse musikale oorlogsdrama Kanarie. “Hy was ʼn vierdejaarstudent toe ek eerstejaar was. Ek was destyds al so beïndruk met hom. Toe dit tyd word om akteurs vir my stuk te kies, was ek baie waaghalsig en het hom gevra of hy saam met my wil werk. Ek is verskriklik dankbaar dat hy ingestem het om die projek saam met my aan te pak.”

Kruger het self ʼn hele rits teaterrolle agter haar naam. “David kom meer sku en skugter voor en ek het geweet ek wou ʼn vrou hê wat sterk op die verhoog staan. Ek wou graag met daardie dinamiek werk – dat dit nie ʼn swak vrou en dominerende man op die verhoog is nie. Ek wou eerder kyk hoe dit sou lyk as dit omgekeer is. Die stuk sou beslis nie wees wat dit is sonder hulle nie,” sê Viljoen.

Sy glo die stuk is iets vir almal wat verstaan hoe dit is om 16 jaar oud te wees en verlief te raak op die matriekseun of -meisie. “Daar is baie mense wat aanklank kan vind by die uitbeelding dat ʼn mens saam met iemand in ʼn huis kan leef en steeds nie daardie persoon herken nie en hoe die verhouding dan ontrafel weens hoë verwagtinge en druk vanuit die samelewing.”

Nog een van Viljoen se stukke getiteld “mank”, is ook vroeër vanjaar tydens Kunste Onbeperk se Teksmark deur Aardklop en die Atterbury Trust gekies om haar teks volledig te ontwikkel, deur middel van ’n teksbeurs.

RAAK is op 7, 8 en 9 Desember te sien by die Baxter-teater in Kaapstad. Kaartjies is beskikbaar by die teater of aanlyn by Webtickets.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.