Judas Iskariot – Die Passiespel is tans die grootste Afrikaanse gemeenskapsteaterprojek in Suid-Afrika waar meer as 70 akteurs, sangers, dansers en ekstras op die verhoog gaan wees. Die hoofrolle word deur professionele akteurs vertolk en die kleiner rolle deur mense uit die gemeenskap gevul.
Die produksie word in samewerking met Pacofs, ATKV en Radio Rosestad opgevoer en volgens die vervaardigers van dié produksie is dit gemeenskapsteater op sy beste.
Die teks is deur Gertjan Holtzhausen geskryf en Jacobus Silwer het splinternuwe musiek en lirieke gekomponeer. Die regie word deur dr. Niel van Niekerk en Michelle Hetzel behartig, terwyl Jaco Bezuidenhout die musiekregisseur is. Heinrich Lategan dirigeer ʼn jeugorkes van 50 instrumente wat Judas Iskariot sal begelei. Die produksie word op 1 April vanjaar in die Sand du Plessis Teater in Bloemfontein op die planke gebring.
Dit is vars. Dit is uniek. Dit is groot … en dit is in Afrikaans! Wat is die prys van bloedgeld? Kom vind uit … Judas Iskariot – Die Passiespel.