Kannas: Só lyk die wenners

Tinarie van Wyk Loots en Paul du Toit in Hemelruim. Foto: Verskaf

Tinarie van Wyk Loots en Paul du Toit in Hemelruim. Foto: Verskaf

Die Kanna-toekennings, wat jaarliks aan die beste produksies en akteurs by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees uitgeloof word, is die afgelope naweek vir die 22ste keer by Youngblood Africa in Kaapstad uitgedeel.

Vanjaar het John Kani, Athol Fugard en Winston Ntshona se klassieke Suid-Afrikaanse drama, Sizwe Banzi is Dead, met drie Kanna-pryse weggestap.

Sizwe Banzi is Dead, onder regie van John Kani en vervaardig saam met Mannie Manim, is bekroon met die Kanna vir beste teateraanbieding, beste regisseur en Atandwa Kani het die Kanna vir beste akteur gekry.

Klara Maas se hart is gebreek, met Wessel Pretorius en David Viviers, het die Kanna vir beste debuutwerk ontvang. Dié produksie was saam met nege ander deel van Kunste Onbeperk se innoverende kortkuns-teaterkonsep, Uitkampteater.

Een van die groot hoogtepunte was optredes deur die dansgeselskap, Cape Dance Company, met A thousand shepherds en Blue. Mthuthuzeli November, een van dié dansers, het die Kanna vir beste opkomende kunstenaar ontvang vir sy bydrae tot die dansprogram, A thousand shepherds.

Danie Marais, sameroeper van die Kannapaneel, sê dit was besonder moeilik om die Kanna-wenners te kies. “Vanjaar se program was ’n fees van gehalte en verskeidenheid. As jy net Oudtshoorn toe gereis het om die meesterlike tentoonstelling van klassieke Suid-Afrikaanse teater soos Sizwe Banzi is Dead by te woon, was dit al die moeite werd.”

Hugo Theart, kreatiewe hoof van Kunste Onbeperk, het die gehalte van vanjaar se produksies geloof. “Die sukses van ’n fees is gewortel in die gehalte en verskeidenheid van aanbiedings en genres,” het hy gesê. “Dit is wonderlik om met die Kannas nie net die kreatiwiteit en vaardigheid van individue te beloon nie, maar ook ’n geleentheid vir Kunste Onbeperk om die honderde kunstenaars se toegewyde bydrae tot die Suid-Afrikaanse kunste en die KKNK te vier en hulle te bedank.”

Hier is die Kanna-wenners van 2016:

Kanna vir Beste Teateraanbieding
Sizwe Banzi is Dead

Kanna vir Beste Akteur
Atandwa Kani (Sizwe Banzi is Dead)

Kanna vir Beste Byspeler: Mans
Albert Pretorius (Hond se gedagte)

Kanna vir Beste Aktrise
Tinarie van Wyk Loots (Hemelruim)

Kanna vir Beste Byspeler: Vroue
Karli Heine (Hensop!)

Kanna vir Beste Musiekproduksie
Die Afrikaansvatter

Kanna vir Beste Klassieke Musiekuitvoering
Corelli à la mode

Kanna vir Beste Regie
John Kani (Sizwe Banzi is Dead)

Kanna vir Beste Debuutwerk
Klara Maas se hart is gebreek

Kanna vir Beste Opkomende Kunstenaar
Mthuthuzeli November (Dansprogram: A Thousand Shepherds)

Kanna vir Beste Visuele Kunsaanbieding
Sandra Hanekom (kurator van: Huisgenoot. Hartgenoot. Kultuurgenoot: 100 jaar)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.