“Ek was in my eerstejaar op universiteit toe ek die DVD van die fliek Cat on a Hot Tin Roof gekyk het. En daar het ek gevoel, hiérdie mense moet Afrikaans praat.”
Só vertel Nico Scheepers oor die produksie Katvoet wat volgende maand by Aardklop in Potchefstroom te sien sal wees.
Katvoet is ʼn verwerking van Tennessee Williams se Pulitzerprys-drama Cat on a Hot Tin Roof. Maar in plaas daarvan dat die Pollitt-familie op die familie se landgoed in Mississippi bymekaarkom, is dit die Mouton-gesin wat op die familie se wildsplaas in die Limpopo-bosveld bymekaarkom.
“Ek kom van Limpopo af en dié produksie wys waarhede en realiteite wat mense waar ek vandaan kom nie wil weet nie,” verduidelik Scheepers. “Dit is hoekom ek so graag die toneelstuk in Afrikaans wou doen. En dit is hoekom sommige mense kwaad raak wanneer hulle die produksie kyk, omdat dit so naby aan die waarheid is,” sê Scheepers.
Cat on a Hot Tin Roof vertel die verhaal van ʼn familie wat almal byeenkom vir die welgestelde katoenmagnaat Big Daddy Pollitt se verjaarsdag. Die hele familie is bewus daarvan dat Big Daddy besig is om aan kanker te sterf, behalwe Big Daddy self en sy vrou, van wie die nuus weerhou is om hulle die pyn te spaar. Die toneelstuk ondersoek die verhoudings tussen lede van die Pollitt-familie, veral tussen Big Daddy se seun, Brick, en Brick se vrou, Maggie, met temas soos gierigheid, leuens, oppervlakkigheid en die dood wat na vore kom.
“Hierdie karakters sê wat ons almal dink. Hulle het geen filter voor hul monde nie,” sê Scheepers. “Dit is wat vir my so fassinerend is. Mense sal kwaad raak oor wat op die verhoog gesê word, maar hulle stap nie uit nie. Hulle bly en kyk. Want dit is tog die doel van teater, nie om jou te paai nie, maar om jou uit te daag.”
Hy vertel hy moes aansienlik aan die oorspronklike teks sny aangesien Cat on a Hot Tin Roof ʼn drie uur lange produksie met twee pouses is. “Dit is basies tot op die bare minimum gesny sonder om enige van die kerninhoud te verloor of om ʼn armoede aan konteks en narratief te skep,” sê hy.
Hy verduidelik die verwerking van só ʼn toneelstuk is egter nie bloot ʼn geval van vertaal en verkort die teks en verander die plekname nie. “Die karakters praat nie net Afrikaans nie, hulle ís Afrikaans. En omdat dit Afrikaanse karakters is, is daar ʼn spesifieke ritme en manier hoe hulle praat. Die hele toneelstuk moet verplaas word na hul leefwêreld. Die storielyn van die stuk is egter presies dieselfde.”
Asof die wêreldbekende storielyn van Katvoet nie genoeg is om gehore na die teater te lok nie, spog die produksie ook met ʼn indrukwekkende rolverdeling wat dit onmisbaar maak.
Marius Weyers, Marion Holm, Tinarie van Wyk Loots, Martelize Kolver, Albert Pretorius, Laudo Liebenberg, Geon Nel, Mia Dippenaar, Inge Dippenaar en Nina Dippenaar – ʼn verbysterende samevoeging van ervaring en talent. Scheepers doen self die regie en is saam met Patrick Curtis ook verantwoordelik vir die stelontwerp.
Scheepers erken hy het reeds vir Weyers (Big Daddy) en Van Wyk Loots (Maggie) in gedagte gehad toe hy Katvoet geskryf het. “Nog voordat ek al geweet het of die produksie gaan gebeur of nie, het ek hulle so stilletjies nadergehark en gesê as dit ooit gebeur, moet hulle daarvan deel wees. So toe die teks klaar is, toe moet hulle maar instem, want hulle het klaar ja gesê,” skerts hy.
Nadat die teks geskryf is, het Scheepers sorgvuldig oorweeg wie vir elke rol gepas sal wees om die betrokke karakter te speel, terwyl hy ook in gedagte gehou het hoe die ensemble saam op die verhoog sal werk.
“Dit is ongelooflik om met só ʼn rolverdeling te werk,” erken hy. “Hulle is almal ongelooflike akteurs én ongelooflike mense. Sodra die proses begin, verdwyn almal se ego’s by die deur uit. Of dit nou dié groep akteurs is, en of dit nou ʼn klomp tieners in ʼn tienertoneel is, die ervaring is dieselfde. The only god is the story, daar is nie plek vir ego nie. En dit is wat ek ook met hierdie groep akteurs beleef.”
Aardklop sal die vyfde speelvak van Katvoet wees – die eerste was tydens die US Woordfees in Maart vanjaar, en daarna het KKNK, Innibos en Vryfees gevolg. En by elke fees was die produksie uitverkoop.
Scheepers sê die oorweldigende positiewe reaksie op die produksie is bemoedigend, maar hy vind dit ook interessant om te sien hoe mense se reaksies verskil. “Die karakters is eintlik almal aaklige mense, en dit is so interessant om na die tyd te hoor wie het teatergangers die jammerste gekry, want almal sê iemand anders,” sê hy met ʼn lag.
“Dit is die wonderlike ding van teater, dat dit altyd aan die verander is. Tussendeur die verskillende feeste skaaf en skuur ons heeltyd aan die stuk. Dit is die ding van teaterproduksies, jy haal asem saam met die gehoor waarvoor jy speel. Daarom kan jy dieselfde produksie ʼn duisende keer gaan kyk en dit sal altyd ʼn ander ervaring wees.”
Scheepers voeg by dit is uiters bemoedigend dat daar steeds só baie feeste is wat ʼn platform vir Afrikaanse teater en kunste bied. “Mense kla oor die bedryf, maar hulle kla oor die onsekerheid, hulle kla nie oor die gebrek aan geleentheid nie,” sê hy.
“Dink daaroor, hierdie is seker die enigste plek in die wêreld waar een taalgroep dit regkry om ses groot kunstefeeste in plattelandse dorpe aan die gang te hou. Dit is eintlik ongelooflik! Ja, akteurs en kunstenaars kla dat dit sleg gaan met die bedryf, maar hulle vergeet dit gaan sleg met almal. Die feit dat ons nog steeds kan doen wat ons doen, en nog steeds ʼn lewe daaruit kan maak, is fantasties.
“Ja, theatre is always in crisis, but theatre has never died. Teater is die eerste ding wat ons om die kampvuur gedoen het en dit sal die laaste ding wees wat ons doen wanneer die wêreld sy oë toemaak. Mense moet nie hul trots verloor om deel te wees van hierdie dapper stryd vir die kunste en Afrikaans nie.”
Katvoet sal van 24 tot 28 September by Aardklop in Potchefstroom te sien wees. Kaartjies is nou by Ticketpro beskikbaar. Geen onder 16’s toegelaat nie.