Klassieke Tsjechof in Afrikaans in die Baxter

Die seemeeu. Foto: Verskaf.

Die seemeeu. Foto: Verskaf.

Saartjie Botha se verwerking van Anton Tsjechof se Die seemeeu is vandeesweek in die Baxter-teater in Kaapstad te sien.

Dié klassieke verhaal van onbeantwoorde liefde, soeke na sukses, aftakeling en vervulling het onder die regie van Christiaan Olwagen gehore by Aardklop, die KKNK en Woordfees op hul voete gehad. Die stuk is bekroon met twee Fiëstas, twee Kannas asook ’n Aardvark-prys vir grensverskuiwende werk.

Irina Arkadina (Sandra Prinsloo), ’n suksesvolle aktrise wat weet haar geluk – en lyf – gaan nie vir ewig hou nie, breek weg vir ’n kort vakansie op haar broer, Pjotr Sorin (Marius Weyers), se plaas. Aan haar sy is die skrywer Boris Trigorin (Alyzzander Fourie), ’n forse man … met ’n dwalende oog. En dan is daar Irina se seun, Konstantin Treplyov (Albert Pretorius), wat smag na ’n meisie wat hom nie wil hê nie en na roem wat hom nie beskore is nie.

Voeg hierby ’n fladderende nimf (Rolanda Marais), ’n plaasbestuurder (Deon Lotz) sonder ’n grein emosionele intelligensie (wel, as sy vrou, gespeel deur Martelize Kolver, jóú vrou was, sou jy dalk ook so optree), ’n buierige tienerdogter (Cintaine Schutte) wat enige ouer na die bottel sal laat gryp, en jy begin die prentjie kry. O ja, moenie van die orige onderwyser (Geon Nel) en die erg onbeholpe dokter (Gerben Kamper) vergeet nie. En die wodka. Og, die wodka!

Die seemeeu is die eerste van Tsjechof se vier groot dramas – en so amper ook sy laaste. Met die openingsaand in 1896 is dit só sleg ontvang dat hy sy rug op die teater gekeer het. Totdat dit in 1898 weer op die planke gebring is – toe met groot lof en met Tsjechof se ster as dramaturg skitterend.

Die seemeeu is tot 31 Oktober om 19:30 in die Baxter-teater in Kaapstad te sien. Kaartjies is hier tussen R80 en R150 beskikbaar. Daar is ’n ouderdomsperk van 14. Engelse onderskrifte word voorsien.

Rolverdeling: Sandra Prinsloo, Marius Weyers, Gerben Kamper, Alyzzander Fourie, Deon Lotz, Rolanda Marais, Martelize Kolver, Albert Pretorius, Geon Nel en Cintaine Schutte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.