Komediante samel ook geld in ná Driehoek-tragedie

Hannes Brümmer, Schalk Bezuidenhout en Casper de Vries tydens ‘n vorige vertoning by die Atterbury-teater. (Foto: Alet Pretorius)

Die akteur en komediant Schalk Bezuidenhout en sy grapjasvriende in die vermaakbedryf het kragte saamgesnoer om geld in te samel vir Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark.

Daar sal twee aanbiedings in Gauteng gehou word waarvan die totale opbrengs aan Hoërskool Driehoek geskenk sal word as ʼn bydrae tot herstelwerk en onderhoud van dié skool.

Hoërskool Driehoek het op 1 Februarie ʼn tragedie beleef toe vier leerders gesterf het nadat ʼn loopbrug by die skool meegegee het.

Erns Grundling, bekende skrywer en Bezuidenhout se bestuurder, vertel hulle het verlede week tydens Bezuidenhout se optrede in Atterbury-teater in Pretoria gesels oor die groot skenking wat aan die skool en ʼn leerder gemaak is op JacarandaFM.

“Schalk het toe voorgestel dat ek en hy twee konserte reël om ook ʼn positiewe bydrae te maak,” sê Grundling.

Die Humor Help-konserte vind op 18 Februarie in die Atterbury-teater en op 19 Februarie by Hoërskool Jeugland in Kempton Park, waar Bezuidenhout gematrikuleer het, plaas.

Komediante soos Casper de Vries, Alfred Adriaan, Bennie Fourie, Joey Rasdien, Hannes Brümmer, Cobus van Rensburg en Mariëtte Loubser sal saam met Bezuidenhout op die verhoog te sien wees.

“Die kunstenaars tree almal gratis op en al inkomste word aan Hoërskool Driehoek geskenk as ʼn bydrae tot herstelwerk en onderhoud van die skool se infrastruktuur en verdere hulpverlening aan beseerde leerders,” voeg Grundling by.

Die Atterbury-teater en Hoërskool Jeugland het albei hul venues gratis aangebied vir dié vertonings.

Ander kunstenaars wat te sien sal wees, is Bouwer Bosch en Deon Meiring as die groep Dans Dans Lisa, Van Pletzen en Danie du Toit van die groep Spoegwolf.

Die optrede op 18 Februarie in die Atterbury-teater begin om 20:00. Kaartjies kos R150 en is beskikbaar by iTickets. Hier is die skakel: https://itickets.co.za/events/418739

Die optrede op 19 Februarie by Hoërskool Jeugland in Kempton Park begin ook om 20:00. Kaartjies kos R100 vir leerders en R150 vir volwassenes en is beskikbaar by 064 650 2633 of [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Hanna ·

Koos, nou kritiseer jy die mense. Hulle probeer ten minste iets doen om die skool te help. Schalk ek hoop julle trek vol sale, welgedaan.

Help ·

Ek salueer die kunstenaars. Ek is seker daarvan dat die mense nie die impak van die tragedie besef op ons gemeenskap nie. Gister toe daai kinders op die paviljoen opening gehad het, en daarna in die reën in tente op die rugby velde skoolgaan, net om daarna na ‘n roudiens te gaan om 4 mede skoliere finaal te groet, ek dink die almal besef die tauma en hartseer nie. Driehoek leerlinge julle is ysters, en ALLE hulp wat julle mag toekom gun ek julle uit die diepte van my hart. Finansies sal NOOIT die pyn wegvat nie, maar ek kan met eerlikheid sê, elke sent help, en sal in die toekom ook help

GM ·

Koos, gestel jou baas (as jy vir een werk) is op die punt om bankkrot te speel, en kan nie bekostig om jou salaris te betaal nie. Hy gaan speel die lotto, wen ‘n klomp geld en voel hy kan nou weer probeer aangaan met sy besigheid. Gaan jy jou salaris aanvaar as jy weet dis eintlik lotto geld?
Ek speel glad nie lotto nie, dis geldmors en teer op arm mense se hoop op ‘n beter lewe. Maar as ek hard gewerk het en my kinders moet gevoed word, kan ek eerlikwaar nie myself sien my salaris weier net omdat die baas lotto gespeel het nie.
Netso met kerke. Ek kan nie insien dat skenkings geweier word as hul klomp lewens daarmee kan verbeter nie. Maar dan is die vraag weer, waar trek mens die lyn? Mens sou tog nie geld van ‘n dwelmhandelaar wou gebruik het as jy geweet het hoeveel lewens in die proses verwoes is nie.
Die kerke moet maar voorwaardes stel en sê dat hul nie wil weet vanwaar die geld afkomstig is nie. Wat die oog nie sien nie, maak die hart nie seer nie. Geld wissel in elk geval so van hande, almal besit seker al lotto geld.
Ek is nie ‘n aanhanger van Casper nie, en ek ken nie die res van die mense nie, maar ek wens julle alle sterkte toe!

Marianne ·

Great stuff you guys!!! Dis wonderlik om te sien hoe ons kunstenaars saam staan en hul harte oop maak vir ander.
Julle is merkwaardige mense wat Gesèènd sal wees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.