‘Kontreistories’ vier Afrikaans

Johny Klein, Alanka Craffert en Fanus Hansen op die Kontreistories-verhoog

Deur Megan Gittins

ʼn Hanslam in die stad, ʼn plattelandse begrafnis met baie kore maar sonder ʼn herder, en ʼn fratsongeluk wat die “harsings” laat waai.

Dis maar enkele van die stories wat jy sal hoor as jy kom saamkuier by Kontreistories, Maroela Media se storievertel-produksie by Aardklop vanjaar. Die akteur Johny Klein, alombekend vir sy vertellings van Ferdinand Deist se kortverhale en die anker op die Kontreistories-verhoog, lei die gesprek, met die ervare storievertellers Fanus Hansen en Alanka Craffert wat met hom die verhoog en ʼn koppie boeretroos deel.

Die dekoratiewe verhoog, wat herinner aan ouma se kombuis, Alanka se talle aksente en oordrewe handgebare en Fanus se preekstoelstories gekombineer met die nostalgiese musiek van Michael van der Walt en Muller Brandt, het die gehoor meegevoer. Ten spyte van die koue en die wind wat buite gewaai het, het die gehoor saam gekuier, saam gelag en lekker saam gesing.

Muller Brandt en Michael van der Walt

“Ons weet dat die kultuur van storievertel deel is van ons Afrikaanssprekendes se karakter, en daarom het ons Kontreistories aangepak,” sê Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media. “Die idee van storievertel kom daaruit dat daar min dinge is wat ons so onderskei soos ons kos en die stories wat ons vertel, daarom wil ons vir mense iets laat beleef van Maroela se kultuur asook van die Afrikaanssprekendes se kultuur en die kontreistories wat eie is aan spesifieke streke in ons land.”

Johny reken die produksie is ʼn moet vir elke feesganger. “Kontreistories is nie net ʼn produksie van Afrikaanse stories met verskillende dialekte en verskillende aksente uit elke kontrei wat ons wil hê moet voortbestaan en oorvertel word nie, maar dis ook ʼn lekker saamkuier geleentheid. Dis vir almal, oud en jonk.”

Kaartjies vir Kontreistories by Ticketpro en by die deur beskikbaar teen R100 per persoon.
Wanneer: 26 en 27 September om 19:30
Waar: Aardklop-feesterrein in die oop restaurant-area (langs die Virseker-tent by Overvaal Stereo se uitsaai-eenheid)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.