‘Koöperasiestories’, ʼn gehoorgunsteling, nou in Bellville en Pretoria te sien

Die verhoogproduksie van PG du Plessis se geliefde verhale was ʼn groot gehoorgunsteling by die KKNK en is nou binnekort in die Bellville Burgersentrum en die Atterbury-teater in Pretoria te sien.

Du Plessis se bekende verhale speel af in ʼn kleindorpse omgewing en in ʼn vorige era, maar eie aan al sy werk is die karakters en hulle probleme tydloos. Die gehoor herken hulle in die skynheiligheid, geskinder en onderlinge twis van die karakters. Onderliggend bly egter die deernis. Dis volksteater, vol lag en ʼn bietjie traan.

Sandra Prinsloo, wat ook die regie van Du Plessis se Sophia Mentz beredder haar boedel en Teerling behartig het, is die regisseur.

Marion Holm, bekend vir haar solovertonings, is saam met Chris van Niekerk, Margit Meyer-Rödenbeck (Dowwe Dolla), die veelsydige Wessel Pretorius en Carel Nel te sien in die rolverdeling.

Van Niekerk het jare gelede in die TV-produksie van Koöperasiestories die rol van die “kakkerlak-ondersoeker” vertolk. Volgens hom is dit “werklik ʼn eer om dié keer in die verhoogproduksie in die briljante Emgee Pretorius se voetspore te volg en die rol van die amper siniese Veldsman te vertolk”.

Die teks is vir die verhoog verwerk deur Alexa Strachan en die verhoogontwerp is gedoen deur Juanita Ferreira.

Koöperasiestories is by die Bellville Burgersentrum te sien van 2 – 14 Mei. Kaartjies kan hier gekoop word. Die produksie maak ook ʼn draai in Pretoria by die Atterbury-teater van 18 – 21 Mei. Koop jou kaartjie hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Louis ·

Wonderlik! Ek’s baie bly ons gaan dit innie Transvaal ook te siene kry!
Leef (die oorspronklike) Tant Mietie; Marie Pentz, nog?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.