‘Koöperasiestories’ op US Woordfees, KKNK  

Foto: Facebook/Margit Meyer-Rödenbeck

Foto: Facebook/Margit Meyer-Rödenbeck

Burgemeester Genis is beswaard. Diep beswaard. Daar is mense wat sonder eer aan die volgende plaaslike verkiesing deelneem, die dorpsbestuur is in wanorde en die regering is net daar vir sekere mense om hulle sakke te vul… 

Die verhoogproduksie van PG du Plessis se geliefde verhale begin op die US Woordfees in Stellenbosch, waarna speelvakke op die KKNK, in die Bellville Burgersentrum en die Atterbury-teater in Pretoria volg.

Sandra Prinsloo, wat ook die regie van du Plessis se Sophia Mentz beredder haar boedel en Teerling behartig het, is die regisseur.

Du Plessis se bekende verhale speel af in ʼn kleindorpse omgewing. Dit speel af in ʼn vorige era, maar soos eie aan al sy werk is die karakters en hulle probleme tydloos. Die gehoor herken hulle in die skynheiligheid, geskinder en onderlinge twis van die karakters. Onderliggend bly egter die deernis. Dis volksteater, vol lag en ʼn bietjie traan.

Marion Holm, bekend vir haar solovertonings, is saam met Chris van Niekerk, Margit Meyer-Rödenbeck (Dowwe Dolla), die veelsydige De Klerk Oelofse, en Carel Nel te sien in die rolverdeling.

Van Niekerk het jare gelede op in die TV-produksie van Koöperasiestories die rol van die “kakkerlak-ondersoeker” vertolk. Volgens hom is dit “werklik ʼn eer om dié keer in die verhoogproduksie in die briljante Emgee Pretorius se voetspore te volg en die rol van die amper siniese Veldsman te vertolk”.

Volgens Holm is dit heerlik om saam met ander akteurs te werk: “Die feit dat daar ʼn teks, regisseur, stel- en kostuumontwerper en boonop ʼn vervaardiger is, laat my voel ek is in Hollywood!”

Vir sy generasie, reken De Klerk Oelofse, is Koöperasiestories “ʼn oulike televisieprogram uit die 80’s”.

“Wat my dadelik opgeval het met die eerste lees en kyk na PG du Plessis se werk, is hoe tydloos dit is. Elke storie speel op een of ander vlak in op die sewe doodsondes van die mens, en dit verseker dat almal daarmee kan vereenselwig – oud en jonk. Jy lag vir die mensdom, maar eintlik ook vir jouself.”

Die teks is vir die verhoog verwerk deur Alexa Strachan en die verhoogontwerp is gedoen deur Juanita Ferreira.

Koöperasiestories is op die Woordfees te sien by die Hoërskool Stellenbosch op Saterdag 4 Maart om 16:30; Dinsdag 7 Maart om 16:00; Woensdag 8 Maart om 10:00 en 12:30 en op Vrydag 10 Maart om 10:00. Kaartjies kos R130 by Computicket en R150 by die deur.

Op die KKNK in Oudtshoorn is die produksie te sien by die Hoërskool Oudsthoorn op Saterdag 8 April om 19:30; Sondag 9 April om 13:00; Maandag 10 April om 16:30; Dinsdag 11 April om 09:00; Woensdag 12 April om 13:00; Donderdag 13 April om 16:30; Vrydag 14 April om 19:30 en Saterdag 15 April om 09:00. Kaartjies kos R130 by Computicket.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.