Kry jou dosis teater met die ATKV-Tienertoneel

’n Toneel uit 'As die trein kom' van Potchefstroom Gimnasium wat verlede jaar tydens die finaal meegeding het (Foto: Verskaf)

’n Toneel uit ‘As die trein kom’ van Potchefstroom Gimnasium wat verlede jaar tydens die finaal meegeding het (Foto: Verskaf)

Die Potchefstroom-streeksfees van ATKV-Tienertoneel word vanjaar van 1 tot 6 Augustus by die Sanlam-ouditorium in dié dorp aangebied en teaterliefhebbers kan ʼn hele rits verhoogproduksies gratis gaan kyk.

Bykans 200 toneelgroepe van oor Suid-Afrika en Namibië neem vanjaar deel aan die 52ste ATKV-Tienertoneelkompetisie. Elf streeksfeeste word gedurende Augustus aangebied.

Die doel van hierdie projek is om ʼn liefde vir Afrikaanse toneelspel by hoërskoolleerders te kweek sodat hulle hul eie kreatiwiteit en talente daardeur kan ontgin en ontwikkel.

Altesaam 19 toneelstukke sal van Maandag tot Vrydag meeding en die vier beste stukke sal Saterdagaand op 6 Augustus weer tydens die streeksfeesfinaal opgevoer word.

Die beoordelaars is Hennie van Greunen en Woutrine Theron. Ira Blanckenberg en Drikus Volschenk sal Saterdagaand aansluit as gasbeoordelaars.

Blanckenberg sê die ATKV-Tienertoneelkompetisie bied jaarliks vir duisende leerders die geleentheid om die verhoog te betree en meer te leer van toneelspel en terselfdertyd as mens te groei. “Vir ʼn oomblik staan hierdie leerders vreesloos in ʼn karakter se skoene en ontwikkel in die proses empatie met hul medemens. Leerders neem hierdie empatie vir altyd met hulle saam en so word hulle meer bedagsaam, verdraagsaam en bewus van die mensdom om hulle,” het sy gesê.

Van Greunen sê ook die “uiteindelike teaterdroom is dat ons al hoe meer ons eie land en ons eie mense se stories sal vertel sodat ons kan sien ons verskille is soveel minder as ons ooreenkomste”.

Die 16 beste produksies op nasionale vlak sal deurdring na die ATKV-Tienertoneelfinaal wat vir die 10de keer plaasvind tydens die Aardklop Nasionale Kunstefees van 5 tot 8 Oktober.  Die finaliste sal aangekondig word op 5 September na afloop van die streeksfeeste.

Die wenproduksie se prysgeld beloop R30 000 en die wenners kry ook die ATKV-Tienertoneelwisseltrofee. Die naaswenner kry R20 000 en die toneelgroep wat in die derde plek aangewys word, ontvang R10 000.

Al die opvoerings begin om 17:00. Let egter daarop dat geen toneelstuk op Woensdag opgevoer word nie.

Vir meer inligting oor al die skole wat gaan optree, besoek die ATKV se webwerf.

Laai die volledige program hier af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Reinhardt ·

Jis ek mis nogal toneelfeeste. Daai toneeltoere op skool was maar rof jong…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.