Kunstekaap, Suidoosterfees bied dramafees vir hoërskole aan

Inskrywings word ingewag vir die Kunstekaap-teater en die Suidoosterfees se dramafees vir hoërskole wat in Oktober vanjaar in Kaapstad aangebied word. (Foto: Verskaf)

Inskrywings word ingewag vir die Kunstekaap-teater en die Suidoosterfees se dramafees vir hoërskole wat in Oktober vanjaar in Kaapstad aangebied word.

“Dit is vir ons opwindend om saam met Kunstekaap aan hierdie projek deel te neem,” sê prof. Brian Figaji, voorsitter van die Suidoosterfeesdireksie. Volgens Figaji het die Suidoosterfees reeds ʼn groot fokus op ontwikkelingsprogramme, en beskou hy hierdie dramafees as nog ʼn geleentheid om jong teatermakers te help ontwikkel.

Volgens Marlene le Roux, uitvoerende hoof van Kunstekaap, is die doel met die Hoërskool Dramafees om aan leerders ʼn platform te bied waar hulle kreatief uitdrukking aan hul sienings oor sosiale kwessies kan gee.

“Die towerkrag wat in regstreekse teater lê sal ongetwyfeld deelnemers se horisonne verbreed. Leerders word ook blootgestel aan die dissipline en etiket van die teateromgewing,” sê Le Roux.

Om deel te neem moet skole ʼn produksie van 30 tot 60 minute voorlê wat handel oor sosiale uitdagings waarmee hedendaagse skoliere te doen kry. ʼn Uittreksel van die toneelstuk moet as ʼn oudisievideo van tien minute voorsien word, tesame met ʼn opsomming en motivering vir die tema wat gekies is. Ingevolge Covid-19-regulasies word ʼn maksimum van ses akteurs op die verhoog in Kunstekaap se Arena toegelaat, en inskrywings moet aan dié regulasie voldoen.

Die sluitingsdatum vir inskrywings is Vrydag 20 Augustus. Skole wie se inskrywings suksesvol is, sal teen Woensdag 25 Augustus laat weet word.

Die ses top-inskrywings sal op 15 en 16 Oktober in die Arena van die Kunstekaap-teater vir finale beoordeling opgevoer word. Daarna sal die beste akteurs, regisseurs en skrywers tydens ʼn toekenningsgeleentheid hulle pryse ontvang en die wendrama se geselskap sal genooi word om die produksie tydens volgende jaar se Suidoosterfees op die planke te bring.

Vir meer inligting en om inskrywingsvorms te kry, stuur e-pos na Tania Williams-Kaponda by [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.