Laaste kans om Jesus – Die Musiekblyspel te sien

Jesus – Die Musiekblyspel is tot Sondag 26 Mei in die Staatsteater te sien.

Die verhaal van Jesus is al in verskeie vorms aangebied: op die verhoog, in rolprente, in boeke en Kinderbybels.  Nou is die storie van Jesus weer op die verhoog, maar die keer in die vorm van ʼn musiekblyspel.

Die volle storie van Jesus kan egter nie in ʼn twee ure verhoogstuk of rolprent uitgebeeld word nie, dus is dit altyd interessant om te sien wat die skrywer besluit in terme van wat behoue bly in die teks en wat gesny moet word. Johan Scholtz wat verantwoordelik was vir die teks sowel as die lirieke en regie van Jesus – Die Musiekblyspel gee vir die gehoor die geleentheid om die menslikheid van die storie te sien.  Soos wanneer Maria (gespeel deur Melissa Bam) die boodskap dat sy swanger is aan Josef (gespeel deur Jacques Bessenger) moet oordra.

Heinz Winckler vertolk die rol van Jesus terwyl Jesse Christelis ʼn jonger Jesus voorstel. Ander bekendes wat hulle verskyning maak is Leon Ferreira (Judas Iskariot en Jesaja), Johan C. Venter (Duiwel) en Nadia Beukes (Clauda en Ensemble).  Robbie Wessels bewys dat sy talent ver bo die van komedie strek wanneer hy Johannes Die Doper laat lewe op die verhoog.

Janine Neethling, Devereaux van der Hoven en Eddie Clayton is verantwoordelik vir die musiek van die blyspel wat verseker dat dit van uiterse goeie gehalte is.

Die tonele, soos die kruisiging, wat meer ernstig van aard is, word op ʼn ‘familievriendelike’ manier uitgebeeld en dus is die produksie geskik vir die hele gesin.

Jesus- Die Musiekblyspel is tot Sondag 26 Mei in die Staatsteater te sien.  Kaartjies is beskikbaar by Computicket.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.