Lank lewe die teater

Pieter-Dirk Uys en Pieter Toerien van Theatre on the Bay (TotB) na afloop van die vertoning, “Lockup/Lockdown”, in Oktober 2021. (Foto: Verskaf)

Die afgelope twee jaar was besonder moeilik vir die uitvoerende kunste. Teaters het vertonings uitgestel en boodskappe op sosiale media gedeel waarin hulle hul hoop uitspreek dat die pandemie vinnig sal oorwaai en hul deure weer kan open. Niemand kon regtig voorsien dat dit vir sommige tot 14 maande sou duur voor teatergangers – weliswaar gemasker, gehandreinig en verskeie sitplekke uitmekaar – sou kon terugkeer nie, skryf Maryke Roberts.

Pieter Toerien, eienaar van Theatre on the Bay (TotB) in Kampsbaai en Pieter Toerien’s Montecasino Theatre, skryf in ’n brief aan teaterliefhebbers op 17 Maart 2021 – ’n jaar nadat teaters moes sluit – onder die opskrif “We’re still here”, dat geen ander deel van die plaaslike ekonomie só hard getref is deur die inperkingsreëls as die uitvoerende kunste nie.

“Kunstenaars werk vir hulself. Briljante, kreatiewe mense is eenvoudig vir die wolwe gegooi. En nooit tevore is die uitvoerende kunste só nodig soos nou nie.

“Akteurs kan nie wag om weer vir julle toneel te speel nie. Ons het almal menslike kontak nodig om die vreugdes van die lewe te vier.”

Pieter se verbintenis met die verhoog strek terug na die vroeë jare sestig, toe hy Britse verskeidenheidskunstenaars soos Alma Cogan, Dickie Valentine, Russ Conway, Peter Nero en Shelley Berman na Suid-Afrikaanse verhoë gebring het. In 1965 en 1966 bring hy die Duitse aktrise, Marlene Dietrich, op toer na Suid-Afrika.

Vanaf die laat sestigs fokus hy al meer op die teater en bring verskeie West End-produksies en verskeie Broadway-produksies na Suid-Afrika.

Pieter het al verskeie teaters besit, waaronder Intimate Theatre, Barnato Theatre, André Huguenet Theatre, Alhambra Theatre (later die Richard Haines Theatre) en Rex Garner Theatre. Hy het die ou Alvin bioskoop in Kampsbaai in 1988 gekoop net voordat dit gesloop sou word en dit in Theatre on the Bay omskep, wat vanjaar sy vier en dertigste bestaansjaar vier. Daar is selfs ’n boek vir die teater se dertigste verjaardag uitgereik.

Hy sluit sy nuusbrief af met die woorde: “Wees asseblief veilig. Ons het jou by ons teater nodig. Ons wag vir jou.”

Soveel hoop in ’n baie donker tyd vir Suid-Afrikaanse teater, toe plekke soos die Fugard-teater in Kaapstad sy deure moes sluit, en groot konsertsale nie hul deure lonend kon oophou weens die streng inperkingsmaatreëls nie.

Nog ’n jaar later is daardie hoop egter besig om te taan. Pieter vertel dat hulle vir maande weens inperkingsregulasies moes sluit. Die afgelope paar maande kon die deure weer oop, maar danksy sosiale afstand mag net 50% kapasiteit gebruik word.

“Ons het ’n gemiddeld van 70% bywoning nodig om gelyk te breek en speel dus elke week teen geweldige verliese. Dit gee darem werk vir ’n paar akteurs en ek subsidieer die vertonings.

“Ek het oor die afgelope 33 jaar met TotB ’n reserwefonds opgebou sodat die teater vir ’n paar jaar na my afsterwe steeds kan voortgaan. Die pandemie het daardie fonds heeltemal uitgeput. As die sosialeafstandreël nie binnekort geskrap word nie, sal TotB permanent moet sluit.

“Ook kan geen musiekblyspele in Kunstekaap met sy 1 500 sitplekke en The Teatro met 1 800 sitplekke opgevoer word nie, omdat net die helfte van die sitplekke gevul mag word. Om enige internasionale musiekblyspel op te voer, moet daar met elke vertoning ten minste 1 200 mense wees.”

(Foto: Verskaf)

Pieter sê dis die akteurs, musikante en tegniese mense se lot wat hom laat aanhou veg. “Ons het twee jaar se jong talent wat in die bedryf inkom gemis en ook twee jaar se nuwe gehore wat die teater kon ontdek.”

“Ons het die tragiese Soweto-opstande, die koms van televisie met Dallas-Dinsdagaande, betaaltelevisie M-Net, die kunsboikotte in die vroeë 80’s, die vrylating van Mandela en oploop na die verkiesing tot daar bomme in die strate was en mense bloot tuisgebly het, oorleef. Dit was moeilik, maar ons deure het oopgebly.

“In al my jare van teaterbetrokkenheid was dit nog nooit só erg nie.”

Ek is teatermal: skryf resensies, sleep vriende saam, reis wyd en syd na feeste, geniet ’n wye genre van drama tot klugte en dans. Ek voel besonder ingedoen. Tot ek hierdie woorde hoor en ook begin om akteurs op sosiale media se versugtinge raak te lees. Baie mense het ’n alternatiewe inkomste; hou hulself tydelik besig met huisverf of konfyt kook. Akteurs, dansers, filmmakers en sangers regoor die land sit sonder inkomste, opgesluit binne hul eie vier mure. Amen op Pieter Toerien se woorde: Geen ander deel van die Suid-Afrikaanse ekonomie is só hard getref deur die inperkingsreëls as die uitvoerende kunste nie.

Pieter-Dirk Uys vier meer as 40 jaar op die verhoog. Wawyd oop teaterdeure regoor die wêreld, van New York tot Berlyn, verwelkom hom met rooi tapyte, en staande toejuigings verkoop vertonings uit. Ook sy oorsese toere in 2020is binne ure een na die ander afgestel – die stilte spoel oor na 2021.

Hy verkoop tydens inperking Evita se Perron en sê: “Dis ’n heerlikheid onder die bestuur van die ouens. Ek is diep dankbaar.”

Toe hy nie kon optree nie, skryf hy ’n boek oor die wit-en-swart-jare van satire – One Man Shows 1981-1994 – nou gratis op sy webwerf beskikbaar: www.pdu.co.za/OneManShows.

Hy keer 19 maande ná sy laaste vertoning terug verhoog toe in Lockup/Lockdown by TotB. Hy vertel my na afloop van die eerste paar vertonings: “It’s been a long gravel road, soos ons in Darling sê, en die moeilikste ‘konsert’ wat ek al ooit aangepak het. Ja, die heerlikheid van ’n gehoor is iets wat ek nooit sal vergeet nie. Dit gee energie en lewe. En die stilte van luister.”

Hy erken vandeesweek sy selfvertroue was maar klein en “ook ’n moeilike monoloog oor Covid wat eintlik min grappies vind. Gefokus dag vir dag.”

In dieselfde tyd wat Evita se Perron van hande verwissel, loop ek in ’n antieke winkel op George die boek raak: The story of South African theatre 1780-1930 deur Jill Fletcher. Dit het in 1994 verskyn, toe Suid-Afrikaanse teater se toekoms ook onseker was.

Ek het kruisbeen op die stowwerige mat gaan sit en begin lees (en ja, later die boek gekoop).

Haar navorsing oor die eerste dae van teater in Kaapstad toe soldate in hul barakke en slawe agter geslote deure vertonings gehou het, bewys dat kreatiwiteit onder swaarkry floreer en ontvlugting vir die opvoerder sowel as die toeskouer bring.

Met hierdie gedagtes nog helder woon ons die eerste “nuwe” Woordfees-voorskou op Stellenbosch by: Toneelstukke word in ou, verlate geboue en vakante koffiewinkels opgevoer, waar net 10 mense toegelaat is. Covid het soos skarlakenkoors deur feesdorpe geloop.

Ons fees vir anderhalfjaar virtueel: KKNK, Woordfees, Silwerskermfees. Verlede jaar pas die Suidoosterfees by die Kunstekaap net mooi tussen inperkings in, maar gehore is bitter klein danksy Covid-maatreëls.

Voor die operasaal is ’n uitstalling van die kostuums, pruike en tekeninge van produksies oor die Kunstekaap se 50-jarige bestaan (1971-2021). Mense loop in ’n half gewyde stilte en verlang terug na volgepakte sale, oorsese produksies en teaterstof wat voor ligte verbysweef.

Laat 2021 open Broadway-vertonings weer in New York en jy moet benewens jou bankkaart, ook jou inentingsertifikaat uithaal as jy hieraan wil meemaak. Nie lank nie of die ligte word weer uitgedoof toe nuwe Covid-gevalle by die duisende aangemeld word. Dieselfde geld vir teaters regoor die wêreld. Dit wil blyk of die pandemiegolwe nog nie bedaar het nie.

Ek vra ’n week of wat terug op Facebook oor mense se gunstelingteaters op hul dorpe regoor die land. Die antwoorde stroom in van ou staatmakers, maar ook vele nuwes: die Playhouse Teater en Drama Factory in Somerset-Wes, Drostdy Teater in Stellenbosch, Observatory Theatre Arts, Milnerton Playhouse, The Teatro at Ten on Main in Swellendam, die Atterbury Teater, Royal Arts Town Amphitheatre (RATA) op Riebeek-Kasteel, die John Rupert Teater op Graaff-Reinet. Die lys hou aan.

Teater is nie dood nie – maar dit verg wel anderse denke en dit sluit veral gemeenskap-samewerking in.

Die Boer teater-restaurant wat sy deure op 20 April 2005 geopen het, is in Januarie 2021 gedwing om sy deure onbepaald te sluit. Mede-eienaar, Margit Meyer-Rödenbeck, sê: “Vir beide my en Jurg was dit een van die ergste dae in ons lewe. Dit het gevoel soos dood in die familie, maar ons was moeg en voos gedink aan planne.

“Met die hulp van die gemeenskap, eintlik die hele land, drie WOES-konserte en ons lojale kliënte, kon ons weer op 20 Augustus 2021 open. Ons hoop die deure bly nou oop, want the show must go on.”

Baie teater-eienaars en kunstenaars het vernuwend gedink: Optredes is virtueel gehou, maar dis Pieter se “menslike kontak … om die vreugdes van die lewe te vier” wat almal gemis het.

Jacobus Silwer, Bloemfonteinse sanger en liedjieskrywer, open in April 2021 midde-in die pandemie en neerdrukkende teateratmosfeer die Karoohuis Teater op Fauresmith in die Vrystaat. Na 23 jaar in die vermaaklikheidsbedryf het hy al by talle klein teaters opgetree en gebruik dié ondervinding as verwysingsraamwerk wanneer dinge vir die teater beplan word.

Karoo Artist’s Cafe op Philippolis se eienaar, Juliette Whelpton. (Foto: Verskaf)

Nie lank daarna nie en ook nie te ver daarvandaan nie, swaai die Karoo Artist’s Cafe op Philippolis se deure oop. Eienaar Juliette Whelpton brei vanaf vandeesmaand ook na ’n kwekery en depot vir Ludwig Roses uit. Die teater bied ’n platform vir skilders, sangers, digters en akteurs om hul slag op die verhoog te kom wys.

Jacobus vertel: “Kuns is wat ons is, nie wat ons doen nie. Dit was nog nooit broodnodig vir die wat daarna kyk, luister of daardeur geraak word nie, maar vir ons is dit. Ons as kunstenaars beplan nie om kuns te doen nie, ons leef dit en daarom maak ons teaters oop, reël kunsuitstallings en skep met die hoop dat daar nog mense is wat kan betaal vir iets moois wat die gees aanraak.”

Hy sê die gemeenskap van Fauresmith werk saam. “Ons gebruik eerder plaaslike diensverskaffers en leweraars en almal ploeg in. Minstens die helfte van die mense van ons dorp is by elke vertoning en daar word wyd en syd op alle platforms verkondig wanneer hier iets gaan gebeur. Ons is afhanklik van besoekers se belangstelling en ons werk hard om soveel as moontlik aktiwiteite en dienste te bied. Daar is talle gastehuise in die omgewing en ons teater spog met 17 van sy eie oornag-eenhede.”

Juliette se raad aan ander wat op klein dorpies ’n teatertjie wil staanmaak, is juis dat jy aanpasbaar moet wees én die dorp moet betrek. “Ons sou 1 April 2020 geopen het. Wat ’n April-gekgrap was dit nie! Ek het behoorlik soos ’n embrio in ’n bondeltjie gaan lê vir dae aaneen. Maar in retrospeksie was dit ’n goeie ding: tyd vir herbesinning en herbeplanning. Om daardie belangrike vraag te kon beantwoord: ‘Wat is my ware doelwit in die lewe?’

“Vir my was die antwoord om ’n inspirasie vir mense te kan wees deur op kreatiewe maniere holistiese welstand by mense aan te moedig.”

Sy vertel dat sy van kleins af lief is vir teater en skaars vier was toe sy The Sound of Music gaan kyk het. “Dit was ’n belewenis wat my in totale verwondering gelaat het. Later jare onder andere Cats en War Horse by Montecasino en The Phantom of the Opera in Londen waar ek só gehuil het dat die ‘stiff upper lips’ my met afkeuring beloer het! Daar is maar net iets aan teater – die intensiteit en intimiteit. Dit was veral die kleiner plekke soos Midnight Actors Grill in Pretoria en The Royal Hotel in Bethulie wat my betower het.

“Dis my doelwit met die Karoo Artist’s Cafe – in veral die tyd van Covid – om aan kleiner gehore daardie ontsnapping van die alledaagse te bring.”

Behalwe vir konserte is die teater ook gelisensieer om ’n “Backyard Movie Theatre” te bied waar mense in die buitelig onder die blink sterre, waarvoor Philippolis so bekend is, na ’n rolprent te kyk.

Sandra Prinsloo met ‘n vertoning in 2010 by die Pierneefteater. (Foto: Verskaf)

Die Pierneefteater in Pretoria het sy deure in 2003 geopen. Vele bekende kunstenaars het al hier op die verhoog gestaan, maar kinderteater –  veral oor naweke en in skoolvakansies –  en ’n platform vir jong kunstenaars om hul loopbane te vestig, blyk die suksesresep te wees. Dagkonserte – om dié wat nie saans kan of wil uitgaan nie te akkommodeer – is ook baie gewild. Met sommige konserte word skryfbehoeftes vir minderbevoorregte kinders ingesamel; ander kere word gestremdes ’n hele week lank die geleentheid gegun om op te tree.

The Teatro at Ten on Main kondig op 26 Mei 2021 op sosiale media aan dat hulle na 14 maande hul eerste vertoning met Tasché Burger het. Inperking sluit egter weer tydelik hul deure en op 30 September kom dit dankbaar dat die rooi deur weer daardie aand oopmaak met die hutsmerk #gratefultobeopenagain #level2 #carolinegrace #soldout. Op 10 Februarie tree Stef Bos daar op, wat met sy vertoning, Bitterlief, na 24 maande weer op die verhoog is en daarin vertel van sy gemis aan die gehore en die ligte.

Aan die westekant van die land verwelkom die mense van Paternoster die gemeenskapsentrum vir die uitvoerende kuns, Die Koelkamers. Hier tree van die land se bekendste kunstenaars by die nuwe Paternoster Waterfront op en allerhande kunsvorme soos fotografie, kunswerke en selfs ’n opname-ateljee vind hier ’n welkome tuiste.

Jan Malan vertel sy vermaaklikheidsmaatskappy het tot stilstand gekom danksy Covid-19 en hulle het besluit om by hul vakansiehuis in Paternoster in te perk. “Ons het al van 1985 af vertonings regoor die land op die planke gebring en in heelwat Afrika-lande gewerk. So ook New York, Parys en New Delhi.

“Na ’n paar maande; moedeloos, sonder werk en verveeld, het ons die Visserye by die Paternoster Waterfront genader met die idee om ’n klein teatertjie te begin in drie van die koelkamers wat nie meer in gebruik was nie. Ons open op 12 Maart 2021, maar danksy inperking moes ons in Julie weer toemaak, nadat ons alreeds vertonings geskeduleer het.”

Hul indrukwekkende line-up – van Arno Carstens tot Watershed en Jan Blohm – verduidelik hy soos volg: “Covid-19 het bewerkstellig dat kunstenaars oop is om te onderhandel. Die idee van ’n vertoning in Paternoster by Die Koelkamers Teater vind ook byval.

“Die Koelkamers sou nooit tot stand kon kom sonder die ondersteuning van die Paternoster-gemeenskap nie. Die Visserye het die lokaal vir ons opgeknap. Die klanktoerusting, beligting, stoele en selfs ons klavier is deur die gemeenskap geskenk.”

Die bekende rooi stoel voor Rooiberg Wynkelder op die R62 buite Robertson. Die foto is geneem toe die kelder sy 50ste verjaardag in 2014 gevier het. (Foto: Clifford Roberts)

Vir jare was die reuse rooi stoel langs die R62 net buite Robertson in die Boland die aanwyser van ’n stopplek vir lekker kougoed en goeie wyne van Rooiberg Wynkelder. Maroela Media het op 23 September berig oor die sjiek nuwe bistro, Red Chair Bistro & Deli, waar ’n vleuelklavier in die hoek verklap dat hier benewens goeie kos, koffie en wyn, ook gekuns word!

Daar tree elke maand ’n kunstenaar op. Kunstenaars wat akoesties optree, pas by die intieme atmosfeer in. Elke vertoning gaan met ’n vooraf ete gepaard, vertel Marianne Lochner, bemarkingsbestuurder vir Rooiberg Wynkelder.

“Dit was nie aanvanklik ons plan om ’n teater in te rig nie, maar toe die venue klaar is en dis ruim en het so ’n fantastiese atmosfeer met die mooi dekor, was dit net ʼn natuurlike uitvloeisel. Daar is ook nie ’n ander venue in Robertson nie, so dis ook iets wat ons vir die gemeenskap doen,” vertel sy.

Marianne sê: “Ek het in Namakwaland grootgeword en daar was geen teaters nie. My enigste teateruitstappies tydens skool was na die destydse Nico Malan (nou Kunstekaap). Daarna het ek by die US Konservatorium studeer waar ek aan groot teaters en meestal klassieke musiek blootgestel is.

“Groot teaters kan ’n mens ongelooflik opgewonde maak wanneer jy instap, maar daar is iets ongelooflik magies aan intieme teater en akoestiese vertonings. Dis sulke ‘eerlike’ optredes en nie alle kunstenaars se style/genres werk daarvoor nie, maar ons venue ‘vra’ daarvoor.”

Elvis Blue tree op 25 Maart op.

Die Centurion-teater net buite Pretoria het sy deure in 1993 oopgemaak en word as ʼn intieme ruimte geken waar die gemeenskap in die kunste kan kom skuiling vind. Van vandeesmaand bied dit ook ’n tuiste vir die nuwe Scenario College for Performing Arts and Enterprise, waar studente voltyds in uitvoerende kunste en entrepreneurskap kan studeer. Om vernuwend te dink gaan steeds voort.

Die Nelspruitse sangeres, Natascha C, sê daar is ’n Barnyard Teater op Witrivier en hoewel Nelspruit ’n stadsaal het, word dit nie baie vir die kunste benut nie. Sy het ’n klein opelug, maar onderdak, 60-sitplek huisteatertjie, Theatre Chanson begin, waar sy so elke kwartaal ’n sangvertoning hou.

Toneel blyk egter nog agterweë te bly:

Albert Pretorius is veel meer as die geliefde Ronnie van Nêrens, Noord-Kaap of die gepynigde Konstant van Die Seemeeu of Johan Bester van Buurtwag. Hierdie gevierde akteur se groot liefde is die verhoog. Hy was al in bykans 30 professionele toneelstukke en het al elke denkbare teaterprys ingepalm. Hy het die afgelope 24 maande aan verskeie film- en televisiereekse gewerk, maar dis die verhoog wat hy mis.

“Ek mis repetisies vreeslik. Om in ’n kamer saam met mense aan iets te skaaf en uit te pluis en deur te wroeg en te speel en te lag en karakters oor ’n tydperk te ontgin.”

Hy sê die gemis aan teater was en is steeds vir hom ’n periode van rou. “Almal het gesê ‘ag, maak ’n ou video’tjie en sit dit op YouTube’ – veral in 2020. Ek kon kreatief niks doen die eerste jaar van lockdown nie. Niks gehad om uit my eie te gee nie.”

In Maart is hy terug op die verhoog in Nêrens, Noord-Kaap by Die Boer en hopelik kan hulle die toneelstuk ʼn bietjie deur die platteland laat toer en mense wys waar die TV-reeks oorspronklik vandaan kom! “Dit sal die eerste keer sedert Maart 2020 wees wat ek op die planke is; ek sien so vreeslik uit en hoop ek kan nog my stem projekteer!”

Anna-Mart van der Merwe (Foto: Maroela Media)

Anna-Mart van der Merwe, een van Suid-Afrika se geliefde veteraan-aktrises, het die afgelope 35 jaar al in meer televisiereekse, sepies en films opgetree as verhoogproduksies, maar dis op die verhoog wat sy haarself uitleef, vertel sy. Haar gros toekennings vir toneelspel getuig ook hiervan.

Sy vertel dis die onmiddellike en tasbare wisselwerking tussen akteur, storie en gehoorlede in die teater wat die medium van ander onderskei. “Dis ’n kosbare reis waarop almal gaan. ’n Verbond wat gesluit word van die gordyn lig tot dit sak. Hopelik stap ons almal ’n klein bietjie anders, geïnspireer uit die saal uit.”

Sy sê met inperking was dit goed om in ’n sekere mate afstand te kry en tot verhaal te kom. “Ek het tyd gehad om terug te kyk oor 35 jaar en was nie met hartseer of verlange gevul nie, maar werklik net met ontsettende dankbaarheid. Ek was en is bevoorreg.”

Sy het die afgelope twee jaar introspeksie gedoen en besef kreatiwiteit is nie net in die kunste vasgevang nie. “Ek het weer die tuinier en bakster in my ontdek, die natuurliefhebber, boekleser … Sodra jy jou oë oopmaak in die oggend, skop kreatiwiteit in.”

Sy het nog geen teaterwerk op haar dagboek nie, en sê sy is in hierdie stadium “nog in die laaste golwings van ’n koronasabbatsreis, maar ons kyk vorentoe …”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.