Liewe Heksie kuier in Pretoria

Liewe Heksie kuier vandeesmaand op die planke van die Atterbury-teater in Pretoria. (Foto: verskaf)

Die geliefde kinderkarakter Levinia Heks oftewel Liewe Heksie en haar kabouterkalante kuier vandeesmaand op die planke van die Atterbury-teater in Pretoria.

Maats en hul ouers kan gerus hul ore spits en solank kaartjies aanskaf vir een van die twee vertonings, die een om 11:00 op Vrydag 8 Julie en die ander om 11:00 op Saterdag 9 Julie.

Mense het tot só ʼn mate kaartjies gekoop dat Lefra Produksies besluit het om sommer nóg ’n vertoning op Saterdag 9 Julie om 14:00 te doen.

Voor die pouse van dié opwindende verhoogproduksie gaan die kleinspan sien hoe Liewe Heksie met Blommeland se koei, Botterblom, gesels.

Ou Botterblom is tog al te eensaam omdat Karring, Blommeland se melkkabouter, niemand naby hom toelaat nie. Die poppe, oftewel koeie, gaan behoorlik aan’t dans gaan.

Ná pouse is dit tyd vir Liewe Heksie en die Tuindwergie, wanneer gehoorlede Casper die tuindwerg ontmoet. Toe Casper een oggend in Liewe Heksie se tuin wakker skrik, was dit ’n dramatiese affêre met die besoek van ’n gifappeltjie.

Die twee verhale is deur Verna Vels geskryf, wat ook haar stem aan die oorspronklike TV-heksie geleen het.

Dié het sy spesiaal vir Frans Swart, besturende direkteur van Lefra Produksies geskryf. Swart was destyds ’n televisiekameraman en self by die Liewe Heksie-televisiereeks betrokke.

“Sy was die wonderlikste en mees kreatiewe mens. Sy was bereid om al haar kennis as skrywer vir kinders met my te deel. Sy het vir my geleer hoe om vir kinders te skryf,” sê Swart.

Hy was destyds verantwoordelik vir ’n aantal Wielie Walie-tekste. Hy het ook aan Vuurhoutjieland en Siembamba aandeel gehad. Hy was ook verantwoordelik vir ’n paar Liewe Heksie-verhoogverwerkings.

Swart verstaan kinderharte en waarom hulle so maklik by Liewe Heksie aanklank vind.

“Liewe Heksie is beslis ’n voorbeeld van ’n karakter wat ’n paar generasies aangeraak het. Verna het so totaal verstaan hoe om met kinders te kommunikeer deur Heksie en die ander karakters.”

Anmari van Achterbach is op Liewe Heksie se besem, Botha Enslin vertolk die rol van Mattewis, Kwaaitjie Kabouter, die Geelheks, Borrie die Gifappeltjie, Griet, Karel Kat en Koning Rosekrans. Elizma Byleveldt is as Blommie, Kerrie die Gifappeltjie en Koning Rosekrans te sien. Marissa Claassen vertolk onder meer die rolle van Casper die Tuindwergie, ’n Gifappeltjie en Klein Kwaaitjie.

  • Bederf die kleinspan – en jouself – deur nou vir hierdie wonderlike produksie te bespreek by seatme.co.za. Bring die jongspan en kom ontmoet Liewe Heksie, Blommie Kabouter, Kwaaitjie Kabouter, die Tuindwergie en al jou gunsteling-maats.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Louise ·

As ek daar was, was ek eerste om kaartjies te koop ek sal wat wou gee om dit te sien, my dogter en haar maatjie se by-name was Borrie en Kerrie, altyd besig met plannetjies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.