Lizz Meiring ná 50 jaar steeds op pad

Lizz Meiring.

Nee, benadruk die bekende Afrikaanse aktrise Lizz Meiring onomwonde, sy is nié ʼn celebrity nie.

Sy is net ʼn werkende kunstenaar wat haar brood en botter verdien deur te doen waarvoor sy reeds as klein dogtertjie geroep is – om mense te vermaak en sodoende hulle eie menslikheid te laat raaksien.

Die aktrise, skrywer, komediant, regisseur en dramaturg wat vanjaar 50 jaar in die kunstebedryf vier en boonop in Desember haar 60ste verjaardag vier, sê aan Maroela Media sy is geseënd dat sy ná vyf dekades nog steeds die land kan plat toer en ʼn wesenlike verskil kan maak met haar vertonings.

Op negejarige ouderdom was sy reeds op die verhoog onder leiding van die teaterdoyenne Anna Neethling-Pohl en sedert televisie sy verskyning in haar 16de lewensjaar gemaak het, is Meiring ʼn bekende gesig wat in ʼn legio van Afrikaanse reekse en rolprente verskyn het.

Sowat 2 000 produksies en vyf dekades later is Meiring steeds op die pad, en hou sy konsert nét waar sy ʼn gaatjie vir haar eie opslaanverhoog en klanktoerusting kan vind.

Die afgelope paar dae het sy onder meer in ʼn restaurant op Oudtshoorn en ʼn trouvenue in Bloemfontein opgetree, en dit was veral die afgelope 18 maande se stryd weens die Covid-19-pandemie wat die entrepreneur in haar wakker gemaak het.

“Ek het geweier om stil te sit dat dié ding my onder kry. Sonder om kanse te vat met die siekte het ek gewoeker en gewerk waar ek kon. Ek kon nie net sit nie, want hoe sou ek oorleef? Behalwe natuurlik dat ʼn mens se siel ook die konstante werk en groei nodig het, moes ek ook ʼn inkomste genereer,” sê Meiring.

Dit was vir haar belangrik om tydens die pandemie by ʼn groot verskeidenheid venues op te tree sodat dié venues ook ʼn inkomste kon verdien met haar vertoning as trekpleister.

Lizz Meiring in ‘Die weduwee se sjampanje’.

Sy bied onder meer werksessies vir kinders aan wat in die teaterbedryf wil werk en moedig hulle ook aan om hulle eie tekste te skryf, sodat ʼn nuwe generasie van Afrikaanse skrywers ontwikkel kan word.

Daar is ook ʼn rits vertonings uit haar eie pen wat sy aanbied, onder meer ʼn solovertoning, ʼn Mooi storie, met die geskiedenis van mode, skoonheid, sosiologie en antropologie as hooftemas.

Kameras, konserte en kleedkamers en Die weduwee se sjampanje is ook nog twee vertonings uit haar eie pen.

“Ek dink nie ons het al ooit in ons lewens so hard gewerk nie, maar ek is nie bang vir harde werk nie. As kunstenaars moes ons ons eie werk skep, veral met dié tipe vertonings, want weens Covid is televisie- en radiowerk skaars. Ek moet nog net uit ʼn koek uit spring, dan het ek al alles gedoen,” skerts sy.

As rubriekskrywer vir die leefstyltydskrif rooirose wat verlede jaar sy deure gesluit het, het sy honderde rubrieke geskryf wat sy as oudiostories laat opneem het en wat beskikbaar is vir die publiek.

“Ek het nog nooit daar aan gedink om iets anders te doen nie. Ek is hartstogtelik lief vir wat ek doen. Vandat ek my oë oopgemaak het, het ek instinktief geweet my doel op aarde is om kreatief te wees en mense te vermaak, in te lig en hulle die menslikheid van ons as mens te sien. Ek is net ʼn kanaal wat stories vertel, ʼn boodskapper.”

Sy is ook passievol oor die Teaterbystandsfonds, ʼn liefdadigheidsorganisasie wat omsien na mense in die vermaakbedryf waarby sy as raadslid betrokke is.

Dié organisasie bied onder meer geldelike bystand vir bejaardesorg, mediese hulp en gesinsorg en begrafnishulp.

“Die probleem met die persepsie dat ons glansganse en skatryk is, is dit wat mense in ons fantastiese klere by openingsaande sien, maar dis dikwels klere wat gehuur of goedgunstiglik deur ’n ontwerper vir die aand geleen is.

“En ons verkoop magic, ons verkoop smoke and mirrors en ons verkoop glamour. ʼn Mens wil ook nie eintlik aan daardie persepsie verander nie, want dis wat ander se lewens opwindender maak. Ons vertel mense nie van die gebarste pype en die alledaagse goed nie. Party het doodgewoon nie eens genoeg geld vir petrol om by ʼn oudisie uit te kom nie, wat dit onmoontlik maak om werk te kry,” verduidelik Meiring.

Vir haar 60ste verjaardag gaan sy ʼn private geleentheid vir haar naaste vriende en familielede hou. “Ons gaan vir ʼn slag net behoorlik kuier. Ons het soveel mense in ons bedryf verloor die afgelope twee jaar en dit is vir my belangrik om net goeie samesyn saam met die mense na aan my te beleef. Ons gaan lekker eet, ʼn drankie geniet, die son sien sak en net saam met mekaar asem haal.”

Volg Lizz Meiring se Facebook-blad vir al die inligting oor opkomende vertonings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

koos ·

Dankie vir JOU! Wens jou net voorspoed toe vorentoe, Sue-Ellen :-).

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.