Luister: Dawid Minnaar ‘streef na eerlikheid’ voor kamera én op verhoog

Dawid Minnaar sal in September 2019 in die produksie “Wilde-als” by Aardklop te sien wees. (Foto: Mariné Lourens/Maroela Media)

Om te luister hoe Dawid Minnaar oor teater praat, is soos om te luister hoe ʼn sjef sy kenmerkendste dis uiteensit. Hy het insig en begrip ver bo dít wat jou beperkte kennis van die onderwerp bied en praat met die wysheid wat slegs toegeskryf kan word aan jare lange ervaring.

Maar dit laat jou mond water en jou smag om dít wat hy verduidelik eerstehands te beleef.

Dit is dan ook die geval wanneer hy gesels oor Wilde-als, ʼn verhoogproduksie saam met Jana Cilliers wat volgende maand by Aardklop sal debuteer.

Wilde-als, geskryf deur Wessel Pretorius, vertel die verhaal van Hilde Kraus, ʼn legendariese skrywer wat sukkel om haar finale roman te voltooi, jare ná haar vorige poging. Sy wroeg deur die kronkelpaaie van haar geheue om sin te maak van die goeie en slegte en sodoende ten einde laaste haar boek neer te pen.

“Daar daag ʼn man op, Paul Naudé, en uit hulle gesprekke met mekaar lei ons af dat hy eintlik voorheen haar mentor was,” vertel Minnaar. “Dit gaan basies oor kreatiwiteit, herinnering, om vrede te maak met haar verlede en al die spoke te besweer, asook genesing te probeer vind vir al die seer. En dan is dit maar die verloop van die stuk – hoe hy haar probeer lei om tot daardie punt te kom waar sy al hierdie aspekte op ʼn eerlike manier kan konfronteer en oorgaan tot skryf. Dit is die kern van die produksie.”

Dawid Minnaar soos hy gelyk het as Ben Myburgh in “Waterfront”. (Foto: kykNET)

Minnaar vertel hy het onmiddellik van Wilde-als gehou toe hy dit die eerste keer onder oë gehad het, juis omdat dit afwyk van die gewone kwessies wat meestal in Suid-Afrika aangeraak word. “Dit is ʼn intieme stuk wat gaan oor die proses van kreatiwiteit. Dit is baie persoonlik. Vir my is dit amper soos ʼn stukkie kamermusiek. Dit is baie delikaat.”

Om deel te wees van een van Pretorius se teaterproduksies was deel van die aanloklikheid. “Ek het baie tyd vir Wessel se werk. Ek dink dit het ongelooflik baie meriete. En dit is vir my ʼn voorreg om deel te wees van ʼn nuwe stuk deur hierdie skrywer. Ek dink Wessel se werk is opwindend en dit verg dat ons dit ondersteun en ontwikkel. Ek is baie gelukkig om deel daarvan te wees en dan natuurlik om saam met Jana daaraan te werk.”

Minnaar en Cilliers het jare gelede in die tagtigs, tydens sy eerste jaar as professionele akteur, saamgewerk toe hulle albei deel van die destydse Suidwes-Afrikaanse Raad vir die Uitvoerende Kunste was. Hy onthou vandag nog hoe opwindend dit vir hom as jong akteur was om saam met Cilliers op ʼn verhoog te wees. Later het hulle weer saamgewerk in Marthinus Basson se produksie van Romeo en Julia en nou is die twee kunsteveterane weer saam op die verhoog vir Wilde-als.

Minnaar kan egter natuurlik nie as uitsluitlik ʼn verhoogakteur geklassifiseer word nie. Hy was al deel van talle televisiereekse, waaronder Torings, Konings, Onder draai die duiwel rond, Binnelanders, Amalia en Sara se geheim, en ook te sien in rolprente soos Hansie: A True Story, Die Wonderwerker en Dis ek, Anna.

“Ek sê altyd [teater, film en televisie] is dieselfde dissipline, mens pas dit net effens anders toe. Op die ou end gaan dit vir my eintlik net oor eerlikheid, of dit nou voor die kamera of op die verhoog is. Eerlikheid is waarna jy moet streef.”

Dawid Minnaar in Sara se geheim. (Foto: Verskaf)

Hy voeg by hy probeer om sover moontlik ʼn balans te handhaaf tussen kamerawerk en verhoogwerk, maar is immers beperk deur die werksaanbiedinge wat oor sy pad kom. “Ek sou graag meer filmwerk wil doen. Ek het eintlik nog baie min rolprente gedoen, en dit is ʼn baie opwindende medium,” sê hy.

“Ek sê soms vir my is die verskil tussen film en teater – op die verhoog weet ek nie altyd wat ek doen nie, maar voor die kamera weet ek nie altyd waar ek is nie. Ek voel bietjie vasgekeer. So, dit sal vir my lekker wees om dit meer te ontgin sodat ek meer gemaklik daarmee kan omgaan.”

Die teater, met sy unieke uitdagings, sal egter altyd deel van sy loopbaan bly. “David Mamet het jare gelede in ʼn onderhoud gesê, ‘Theatre is always in crisis’, en dit is eintlik maar so. Dieselfde argumente wat ons jare gelede oor die beroep gehad het, geld eintlik nog steeds. Die bedryf, spesifiek hier in Suid-Afrika, is baie klein en daar is baie frustrasies.

“Dit is eintlik ʼn bose kringloop. Weens klein begrotings kan ons nie genoeg tyd afstaan om werk van gehalte te lewer nie, en as gevolg daarvan kan ons maar vergeet om internasionale deurbrake met ons eie produkte te maak as die goed se produksiegehalte nie goed genoeg is nie. Dieselfde geld vir tekste. Die tekste word nie altyd genoeg ontwikkel nie en dan sit jy met minderwaardige materiaal waarvan jy iets moet maak. So, daar is baie aspekte daaraan wat regtig problematies is.”

Hy glo egter kunstefeeste soos Aardklop speel ʼn integrale rol om nie net die geleentheid vir akteurs en aktrises te bied om te werk nie, maar ook vir skrywers om nuwe werk aan die publiek bekend te stel en by te dra tot die voortbestaan van die Suid-Afrikaanse kunstebedryf.

Jana Cilliers vertolk die rol van Hilde Kraus in “Wilde-als”. (Foto: Facebook/Saftas)

Juis daarom hoop Minnaar dat Wilde-als by nog talle kunstefeeste in die land te sien sal wees. “Die produksie word in samewerking met KKNK vervaardig; dit sal beslis volgende jaar by Oudtshoorn te sien wees. Maar natuurlik wil mens graag hê dat die produksie so ʼn lang lewe moontlik sal hê, hopelik kan ons iets van so ʼn goeie gehalte lewer dat ander feeste sal belangstel om dit ʼn speelvak te gee.”

Op ʼn vraag wie Wilde-als moet gaan kyk, antwoord Minnaar reguit: “Jy hoef dit nie te gaan kyk nie, niemand móét dit gaan kyk nie. Maar net die feit dat dit ʼn stuk deur Wessel Pretorius is, is klaar genoeg rede om dit te gaan kyk. Hy is ʼn jong, opwindende skrywer wat homself al oor en oor op verskillende platforms en by verskillende feeste bewys het.

“Boonop praat almal oor hoe ons ons taal kan beskerm en bevorder en deur ʼn Afrikaanse dramaturg te ondersteun, kan jy dit doen. Dit is vir my klaar genoeg rede om te sorg dat jy hierdie produksie sien.”

Afgesien van Aardklop sal Minnaar ook binnekort te sien wees in die derde seisoen van Sara se geheim, asook in kykNET se gewilde dramareeks, Fynskrif.

Wilde-als sal van 24 tot 28 September by Aardklop in Potchefstroom te sien wees. Kaartjies is nou by Ticketpro beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Amanda ·

Dawid Minnaar kan Liewe Heksie speel en dit sal die grootste sukses wees. Ek is sommer heeltemal gek oor hom. Hy is vir my een van die egste, oortuigendste en talentvolste akteurs in SA. Hoop hy is net nog ‘n groter sukses vorentoe!

Talita ·

Kyk, nê, as jy nou klas aan ‘n plaaslike produksie wil gee dan sluit jy net vir Dawid Minnaar in die rolverdeling in. Die man is ‘n legende, ‘n absolute meester. Mag hy nog lank vir die kunste gespaar bly.

Hendrien van Zyl ·

Dawid Minnaar is van die beste akteurs ooit op die kassie of teaters, nou speel n ander uitstaande, aktrise saam met hom. Dit mag ons nooit mis nie!

Kraai ·

Ek stem saam met Hendrien, Talita, Amanda en Lucille. As jy goed is, is jy goed.

Chivago ·

Dawid Minnaar is sekerlik die mees talenvolle akteur in RSA. As ek sy naam in die rolverdeling sien, weet ek sommer dis ‘n treffer!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.