Luister: Dowwe Dolla hou eerste en enigste aanlyn vertoning

Dowwe Dolla (Foto: Facebook)

Margit Meyer Rödenbeck het vroeër vanjaar aangekondig dat haar alter ego, Dowwe Dolla, vanjaar sou aftree. Maar weens die Covid-19-pandemie het sy haar uittrede uitgestel na volgende jaar, sodat sy haar gehoor finaal in die oë kan kyk.

Dowwe Dolla doen wel die eerste van haar finale vertonings vir die volgende paar dae aanlyn in die komediestuk Dowwe Dolla skree steeds Chesliiin!.

“Dit is Dolla se eerste en laaste aanlyn vertoning. Dis niks lekker nie – ek mis die mense, die gegiggel en hoe hulle hul asem intrek as Dolla ʼn tannie ontstig. Die gehoor is net deel van die show, veral ʼn komedievertoning,” sê Dowwe Dolla.

“Dis hoekom ek nie nog een aanlyn gaan doen nie. Nee, hierna sal ek maar eerder van dorpie na dorpie ry en voor 50 mense op ʼn slag optree. Niks kom by ʼn regstreekse vertoning nie.”

Dowwe Dolla skree steeds Chesliiin! is meestal op vroue gemik, maar Dolla vertel dat mans welkom is om saam te kyk, want hulle kan dalk ʼn paar wenke daar kom kry.

“Ons sluit Vrouemaand af met ʼn bietjie pret. Dolla voel net dat vroue ongelooflik hard is op hulself, hulle probeer alles doen – veral nou in isolasie moes hulle nog rolle by kry, afgesien van die bestaande rolle. Ons probeer 100 soorte werk doen en as ons nie alles perfek doen nie, voel ons skuldig.”

Dolla sê vroue kan gereed maak om te ontspan te midde van hierdie besige jaar. “Vergeet van die politiek en die geld wat knyp, om nie te praat van die korona-rolletjies wat knyp nie! Gun jouself net ʼn blaaskans.”

Sy het gemengde gevoelens oor haar aftrede, maar sy dink ná 25 jaar in die bedryf is dit die regte tyd.

“ʼn Girl moet iewers ophou rondflerrie, anders lyk ek een van die dae soos ouma Dowe Dolla van al die geflerrie.

“Maar ek sal nog hierdie jaar vasbyt, want ek wil regtig nie my gehore aanlyn groet nie. Dit is darem te onpersoonlik. Ek moet julle net waarsku, ek gaan aftree, maar ouma Dowe Dolla het gesê sy is dalk oud, maar nog lank nie koud nie!”

Kaartjies vir Dowwe Dolla skree steeds Chesliiin! is op Webtickets beskikbaar. Kaartjies kos R99 en die vertoning kan enige tyd tussen vandag (28 Augustus) en 2 September gekyk word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.