Luister: Drie gesoute aktrises is ‘Drie Susters’

Nicole Holm, Margit Meyer-Rödenbeck en Lizz Meiring (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Die gesoute aktrise-trio Lizz Meiring, Margit Meyer-Rödenbeck en Nicole Holm werk saam aan die bekende Drie Susters-produksie.

Dié produksie het verlede jaar by die Inniebos Kunstefees afgeskop en daarna ook die pad gevat na Bloemfontein, die Kalfiefees in Hermanus, en die Aardklop Nasionale Kunstefees in Potchefstroom.

Vanjaar is hulle steeds op die verhoog by die Atterbury Teater in Pretoria, die US Woordfees, die Klein Karoo Nasionale Kunstefees, die Oppiwater Kunstefees, Die Boer Teater in Durbanville, én by die ‘kunstefees op wiele’, Optog.

Drie Susters was nog by al die feeste waar dit opgevoer is, uitverkoop én het boonop onder die topdrie produksies by elke fees geëindig.

“Dis ʼn baie intelligente, baie gesofistikeerde en baie unieke chick flick, hoewel ons baie mans in die gehoor sien,” het Meiring gesê.

Drie Susters (Foto: Innibos)

“Ek dink mans hou ook daarvan omdat hulle hul vroue daarin herken. Hulle sê: ‘My vrou is soos daardie een’, of ‘O, nee, daardie een sal my mal maak’,” verduidelik Meyer-Rödenbeck.

Holm het gesê die produksie gaan basies oor drie susters met ʼn spesifieke interpersoonlike dinamika.

“Op die verhoog lei dit tot baie snaakse maar ook hartverskeurende oomblikke. Ek dink dit kom tog daarop neer dat dit oor drie mense met ʼn spesifieke verbintenis gaan,” het Holm gesê.

Hierdie produksie gaan oor Christine (Lizz), Anel (Margit) en Bianca (Nicole) wat wag op hul vlug na Thailand wat vertraag is. Dis Christine se 50ste verjaarsdag en dis die tweeling se verjaarsdaggeskenk aan haar.

Terwyl die susters die tyd verwyl met kaarte, boeke, cappuccino’s en vlymskerp tonge word lewenskeuses uitgepluis en ou koeie uit die sloot gegrawe.

Margit Meyer-Rödenbeck
(Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

“Christine, oudste sussie, voel ʼn bietjie soos ʼn ma vir die jonger suster. Sy is ʼn beheerslaaf. Sy is ʼn onderwyseres en gewoond aan beheer neem, so dit is vir haar baie moeilik om in ʼn situasie te wees waaroor sy nie beheer het nie. En eintlik droom sy om vry te wees van hierdie beheer; ek dink dit is eintlik baie vroue se storie,” het Meiring gesê.

“Bianca is ʼn enkellopende romantikus wat verkies om nie die lelike in die lewe raak te sien nie. Dit beteken ongelukkig dat sy blind deur die lewe gaan en haar kop in die sand druk. Sy wil baie graag aan iets en iemand behoort, asook die gevoel hê dat mense vir haar omgee, en dit is in hierdie familie selde die geval,” het Holm oor haar karakter gesê.

Meyer-Rödenbeck het gesê haar karakter kom heelwat harder voor as die ander susters. “Anel is baie streetwise en maak ongelukkig baie verkeerde keuses. Die lewe neem sy loop en gee haar klappe wat sy nie altyd heeltemal verdien nie. Weens haar keuses raak dit al erger, en sy raak al harder en grawe haarself al dieper daarin. Dis eintlik ʼn baie hartseer karakter,” het sy gesê.

Lizz Meiring (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Meiring vier vanjaar haar 35ste jaar in die vermaakbedryf en is ook onlangs deur die KKNK vereer vir haar bydrae tot die kunste. Al drie is welbekend en meen dit is lekker om saam met ander gesoute aktrises ʼn verhoog te deel.

“Ons kry ons energie by mekaar, ons voer absoluut van mekaar af. Daar is nie ego’s in die pad nie en ons is eerlik met mekaar,” het Meiring gesê.

“Ek kan halfdood daar opdaag, en ná ’n halfuur in die twee se geselskap is ek slaggereed,” het Holm gesê.

“Veral vir iemand soos ek wat so lank alleen werk met Dowwe Dolla is dit wonderlik, want ons bons van mekaar af. Dit is vir my so ʼn luukse, lekker ervaring,” het Meyer-Rödenbeck gesê.

Dit is vir haar belangrik om in ʼn produksie vir mense waarde vir hul geld en moeite te gee, want “anders gaan teater dood”.

Nicole Holm (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

“Ons besef die geweldige verantwoordelikheid dat mense hul tyd, geld, harte en energie gegee het om daar te wees  Hulle het die hond buite gesit, die alarm aangesit en die baba-oppasser gekry. Ma het Pa uit sy kortbroek in ʼn paar chino’s ingedwing.

“Ons durf nie daarmee mors nie – nooit nie. Want elke keer dat mense ʼn teaterervaring het wat vir hulle goed was, wen ons mense vir teater; elke keer dat dit nie gebeur nie, verloor ons hulle. So, ons het ʼn geweldige verantwoordelikheid teenoor en respek vir ons gehoor,” het Meiring gesê.

Vir meer inligting oor Drie Susters, klik hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.