Luister: Herkenbaarheid kerndeel van ‘Laerskool Noord’ se humor

Marion Holm, Margit Meyer-Rödenbeck en Ilne Fourie. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

“Ons het presies só ʼn onderwyseres gehad toe ons nog op skool was.”

Dié sin hoor die komedie-trio Margit Meyer-Rödenbeck, Marion Holm en Ilne Fourie ná byna elke vertoning van hulle gewilde verhoogproduksie Laerskool Noord van gehoorlede af.

Dit vertel die verhaal van drie uiteenlopende onderwyseresse wat ʼn verrassingsafskeidspartytjie vir hul uittredende skoolhoof beplan en ook saam wag om te hoor wie sy skoene volgende sal moet volstaan.

“Ons sien en hoor soms van die verhoog af hoe gehoorlede mekaar stamp of fluister, ‘daai karakter is nes dié en só by ons skool’,” vertel Margit in die Maroela Media-ateljee oor dié skreeusnaakse produksie.

Sy vertolk die rol van die fiktiewe Laerskool Noord se netbaljuffrou, Zelda, en vir dié rol verruil sy haar bekende karakter Dowwe Dolla se stokkielekker vir ʼn fluitjie.

Marion sê geniet sy dit veral om vir die “fynere Margit” in ʼn sweetpak en tekkies te sien. “Sy moet inteendeel grimering afhaal om Zelda te speel,” voeg sy tergend by.

Dié bekroonde aktrise, regisseur en skrywer klim in die dramajuffrou, Bets, se kleurvolle skoene (en kopdoek) in Laerskool Noord.

Die komedie-trio op die verhoog. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch)

Vir haar is lag broodnodig, veral gegewe die uitwerking van die Covid-19-pandemie op die kunste. “Die produksie se kern en humor lê in die herkenbaarheid van die karakters en die wisselwerking tussen hulle botsende persoonlikhede. Dis ʼn komedie van alledaagse lewe en is nie beperk tot skole nie,” meen Marion.

Die gehoor is volgens haar ook ʼn integrale deel van ʼn komedie se ritme. “Daarom, hoe lekkerder hulle kry, hoe lekkerder kry ons.”

Geen groot morele lesse of swaar onderwyskwessies word in dié produksie getakel nie.

Dít was ook die opdrag aan die skrywer, Ilne Fourie.

Sy vertolk die rol van die sagte en sorglose Marietjie en sê elkeen in die gehoor sal op die een of ander manier aanklank by Laerskool Noord vind.

“Dis lig, maar nie oppervlakkig nie en die doel is om mense net lekker te laat lag. Of jy nou 20 jaar terug op skool was of steeds in die skool is, jy gáán lag, want ons almal ken hierdie milieu alte goed,” meen Ilne.

Luister na die volledige onderhoud boaan die berig.

Volg Laerskool Noord se skoolbus na die volgende lokale:

  • 15 tot 19 Februarie by die Atterbury Teater in Pretoria.
  • 21 Februarie by Hoërskool Noordheuwel in Krugersdorp. Kaartjies is by Computicket te koop.
  • 21 Februarie in Klerksdorp by Hoërskool Wesvalia se Tharseo Theatro. Bespreek by 018 468 1023/4.
  • 23 Februarie by The Buffalo Entertainment Centre. Navrae Pieter Erlank: 084 444 6250.
  • 25 Februarie in Kimberley by Laerskool Newton. Bespreek by 083 276 4878 of iTickets.
  • 1 en 2 April in die Strand by The Drama Factory.
  • 7 tot 9 April by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) in Oudtshoorn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.