Luister: Johan Vorster, Jannes Erasmus oor ‘Die Gelofte’

Nadia Beukes en Johan Vorster (foto: verskaf)

’n Paar jaar gelede het ʼn steunpilaar in die Afrikaanse musiekbedryf, Johan Vorster, en ʼn sanger, Christoph Kotzé, beter bekend as Appel, ’n liedjieweergawe van Die Gelofte getoonset. Dit was egter net die eerste tree in die reis op pad na die splinternuwe musiekblyspel wat eersdaags op die planke van die AfriForum Teater gaan wees.

“Ons is nie daarop uit om net ’n vertoning aan mense te gee nie. Ons bied ’n ervaring. Sou jy in die bevoorregte posisie wees om deel van die gehoor te wees, sal jy jouself binne-in die laer van hierdie Voortrekkers bevind.”

Só vertel Jannes Erasmus, skrywer en regisseur van Die Gelofte.

Kykers kan uitsien na ’n lewensveranderende verhaal gevul met verrassings en verbasende oomblikke.

“Iets in jou hart gaan verander, en ek kan nie sê wat dit gaan wees nie, maar dis ’n ongelooflike ervaring. Ons gaan dit baie spesiaal maak vir die mense wat in die teater sit,” het Vorster vertel.

Erasmus sien daarna uit om mense weer opgewonde oor dié deel van Afrikanergeskiedenis te maak.

“Ek dink die woorde ‘Die Gelofte’ kom dalk met spinnerakke en stof. Dit was die uitdaging vir my gewees, dat ons daardie spinnerakke en stof afgooi. Ons nooi juis die hele familie. Kom vernuwe jou idee van Die Gelofte.”

Erasmus benadruk dat die verhaal nie in politiek geanker is nie.

Bernice West (Foto: verskaf)

“Ons kinders kry nie meer die geleentheid om daardie geskiedenis op skool te leer nie. Dit was vir ons ’n opwindende uitdaging om die kinders in die teater terug te kry. Dit is ’n familie-musiekblyspel. Jy kan jou hele familie bring,” lui die uitnodiging wat Vorster aan mense gerig het.

Vorster sal self in die musiekblyspel te siene wees, asook Nadia Beukes, Bernice West en nuwe kunstenaar, Ilan van Staden.

Die geleentheid om saam met Vorster te kon werk, het Erasmus kinderlik opgewonde gemaak.

“Ons het soveel inspirasie geput uit die storie,” het Vorster oor die skryf van die musiek vertel.

Ilan van Staden (Foto: verskaf)

Na ’n worsteling met wie die hoofkarakter van die storie moet wees, het Vorster en Erasmus besef dat daar nie ’n ander opsie as Sarel Cilliers self is nie.

Die musiek en lirieke het op ’n natuurlike wyse op Vorster se tafel geland.

“Dit het onmiddellik in my hart ingeval. Ek het daardie dag nog agter die klavier gaan sit en ek en my medeskrywer, Jacomien de Wet, het drie liedjies geskryf.”

Na die afloop van die blyspel sal ’n album met die musiek daarop vrygestel word. Daar sal ook ’n treffer uit die blyspel op Bernice West se splinternuwe album wat eersdaags op die rakke is, wees.

Die skryf van die teks het gesorg dat Erasmus sy neus in die boeke hou.

“Die oomblik wat ek besef het dat die geskiedenis die riglyn is, en die groter storie die geloofsdoek is wat daaroor getrek is, was dit asof daar ’n kanaal oopgegaan het.”

  • Die Gelofte sal van 6 tot 29 Mei 2022 op die planke wees, en kaartjies daarvoor kan hier aangeskaf word.
  • Luister die gesprek wat Maroela Media met Erasmus en Vorster gevoer het boaan die artikel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.