Luister: Margit en Marion deel weer verhoog na 17 jaar

Marion en Margit in ‘Jong Dames Dinamiet’ (Foto: Verskaf)

Margit Meyer- Rödenbeck en Marion Holm was 17 jaar terug die laaste keer alleen saam op ʼn verhoog in die teaterproduksie van Jong Dames Dinamiet in 2002.

Maar nou is dié dinamiese duo terug met ʼn nuwe produksie genaamd Die voordele van eierwit.

Die voordele van eierwit gaan oor twee susters, Ans (Holm) en Elna (Meyer- Rödenbeck), wat hul pa se goed van sy huis na ʼn versorgingseenheid skuif omdat sy been geamputeer word en hy verder daar gaan moet woon. In die geskarrel om alles in ʼn hysbak te kry, word hulle vasgekeer in dié klein spasie.

“Sibbe het ʼn ander verhouding as vriende. Mens weet nie regtig altyd hoe om as grootmense te wees met jou sibbe nie. Jy vra ook nie die gewone vrae wat jy aan vriende sal vra, soos wat is jou gunstelingkoek of jou gunstelingkleur nie. Julle het mos saam grootgeword, so jy dink jy weet, maar mense verander soos hulle ouer raak, so jy ken hulle later nie meer so goed nie,” het Holm gesê.

“Mense het skaars tyd in vandag se tyd om by hul vriende uit te kom, wat nog te sê van familie!” Maar wanneer dié susters sonder ʼn keuse gelaat word nadat die hysbak waarin hulle ry vassit, word hulle geforseer om oor dinge te praat waaroor hulle voorheen nie het nie.

“Elna is ʼn eiendomsagent en ʼn baie netjiese vrou. Sy is ʼn goeie lid van die samelewing. Haar man is ʼn dokter en sy sien goed om vir haar gesin. Jy kan haar deur ʼn ring trek. Elna hou wel nie daarvan as jy haar swak plekkies raaksien nie,” het Meyer- Rödenbeck gesê.

Ans, wat deur Holm gespeel word, is meer grapperig, maar daar is dinge in haar hart waarvan niemand weet nie, en wat sy ook nie vir ander mense wil wys nie, nie eens vir haar suster nie.

“Ans het vrede gemaak daarmee dat sy die vaal enetjie is. Sy is ʼn Afrikaanse onderwyseres. Op die einde sien mens tog haar sagter kant raak wat sy probeer wegsteek,” het Holm gesê.

Vir Holm en Meyer- Rödenbeck is dit opwindend om na soveel jaar weer ʼn verhoog te deel.

Marion en Margit as Ans en Elna (Foto: Verskaf)

“Ek is op ʼn stadium in my lewe waar ek wil werk saam met mense van wie ek hou. In Jong Dames Dinamiet het ek en Marion mekaar skaars geken, maar ons het sedertdien goeie vriende geraak. Ons dreig al ʼn hele paar jaar dat ons weer gaan saamwerk. Dit is ’n bonus om saam te werk én weer as vriende die tyd kry om saam te spandeer,” het Meyer- Rödenbeck gesê.

Holm het ook gesê daar is ʼn sekere energie in die lug wat die gehoor en hulle sélf kan aanvoel as die twee vriende saam op die verhoog is.

“Op ʼn verhoog speel ek en Margit heerlik saam. Ons speel ‘bal-bal’. Daar is ʼn natuurlike energie tussen ons twee. Nie net ons voel dit nie, maar mense in die gehoor voel dit ook. Dit is ʼn energie wat mens nie kan vervals of opmaak nie,” het sy gesê.

Die voordele van eierwit word op 10, 11 en 12 Mei by die Atterbury Teater in Pretoria opgevoer. Die produksie sal ook later die jaar by die Innibos-kunstefees, Aardklop, die Kalfiefees en ander groot feeste te sien wees. Vir meer inligting besoek die Facebook-blad hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Pensioenaris ·

Ons het die vertoning gisteraand bygewoon en dit gate uit geniet!! Was die moeite werd om van ver af te ry om dit by te woon! Uitstekende humor in die tyd van ons lewe waar alles party dae so duister lyk. Aan te beveel

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.