Luister: Nataniël vertel meer oor ‘Mannequin’


Dihan Slabbert, Nataniël en Nicolaas Swart (Foto: Verskaf)

Dihan Slabbert, Nataniël en Nicolaas Swart (Foto: Verskaf)

Die sanger, skrywer en verhoogpersoonlikheid Nataniël, is slaggereed vir die uitvoering van Mannequin, sy jongste verhoogproduksie by Emperors Palace in Johannesburg.

Hy het Dinsdag tydens ʼn intieme geleentheid vir die media meer oor dié produksie se stories en kostuums vertel.

Benewens Nataniël se meer as twee dekades op die verhoog, betree hy met Mannequin vir die sestiende keer die verhoog by Emperors Palace.

Sy laaste groot produksie, After Animals, is vanjaar met vyf Naledi-toekennings bekroon, meer as enige ander kunstenaar of produksie.

Mannequin vertel die storie van ʼn skrywer wat speel met die idee om ʼn boek te skryf oor die lewe van ʼn skugter kleremaker. Dit is ʼn verhaal met verskeie verrassingselemente, humor, waarheid en fantasie.

Nataniël is veral bekend vir sy stories. “Die stories is die minste van my probleme, want dit verskyn in my lyf. Ek skuld die stories die aksie wat dit vra om dit te vertel. Een oggend is daar net ʼn prentjie of ʼn verhaal in my kop en ek weet ek moet dit vertel,” het hy gesê.

Dit is ook die eerste keer wat hy ʼn moderne storie op die planke vertel. “Mannequin is ʼn moderne storie, iets wat tans plaasvind. Baie van my produksies is deur vorige tydperke geïnspireer. Dit is ook die eerste storie waar die hoofkarakter iets doen wat reg is, maar deur die wet en samelewing as verkeerd geag word.”

Van links na regs - Charl du Plessis, Nicolaas Swart, Juan Oosthuizen, Natanël, Dihan Slabbert en Werner Spies (Foto: Verskaf)

Van links na regs – Charl du Plessis, Nicolaas Swart, Juan Oosthuizen, Natanël, Dihan Slabbert en Werner Spies (Foto: Verskaf)

Aanhangers kan oudergewoonte uitsien na “ʼn verstommende versameling” nuwe kostuums deur die veelbekroonde ontwerper, Floris Louw. “Daar is fantastiese kostuums en ekstras. Floris werk al die hele jaar daaraan. Van die goed is so groot dat ons dit in ʼn trokkie moes vervoer. My skoene is so ongemaklik dat ek nou nog wonder hoe ek daarin gaan staan,” het hy geskerts.

Mense wat Nataniël se Facebook-blad dophou, kan ʼn groot verskeidenheid nuwe resepte op dié blad verwag. Hy vertel dié soetighede word aanmekaargeslaan vir die repetisies. “Ek dink vir elke repetisie ʼn splinternuwe koek uit en dan eet ons hom. Dan plaas ons die resep op Facebook. Ons bokspring soos ons oefen en daarom is dit oukei dat ons koek eet.”

Die produksie gaan weer oorspronklike musiek gebruik, asook verskeie van Nataniël se weergawes van bekende liedjies van die sestiger- en tagtigerjare.

Hy deel die verhoog met mede-musikante Charl du Plessis (klavier), Werner Spies (baskitaar), Juan Oosthuizen (kitaar), Hugo Radyn (tromme) en die sangers Nicolaas Swart en Dihan Slabbert.

Die stories word in Engels en Afrikaans vertel.

Mannequin is van 18 Augustus tot 25 September 2016 by die Theatre of Marcellus by Emperors Palace op die planke van Woensdae tot Saterdae om 20:30 en op Sondagmiddae om 15:00.

Kaartjies is beskikbaar by Computicket of bel 011 928 1297/1213.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.