Luister: Wicus en Dolla sáám het nie brieke nie

Dowwe Dolla (Margit Meyer-Rödenbeck) en Wicus van der Merwe as Dowwe Wicus en Dolla van der Merwe (Foto: Facebook)

Nee, hulle is nié in die eg verbind nie, sê Dowwe Wicus en Dolla van der Merwe. Suid-Afrika se gunstelinggrapjas en -blondine het “sommer net mekaar se name gegaps” vir hul eerste samewerkingsproduksie wat ʼn einde maak aan “dwepers, boepensknolle, moaners en groaners.

Vir ses lange jare het hulle gedreig om kragte saam te snoer – en toe debuteer Dowwe Wicus en Dolla van der Merwe by verlede jaar se Aardklop Nasionale Kunstefees op Potchefstroom.

Die idee om hul karakters te verweef kom eintlik al sedert die twee jaarliks die aanbieders van ʼn Kaapse radiostasie se musiektoekennings is. Aanhangers was só gaande oor dié karakters dat Dowwe Wicus en Dolla van der Merwe weer in 2018 na gehore landwyd geneem gaan word.

“Ons dreig al lank om saam iets na die verhoog te bring,” sê Dolla (Margit Meyer-Rödenbeck) in haar kenmerkende stem. “Verlede jaar toe kyk ek vir Wicus so en toe sê ek vir hom: Wicus, nou is die tyd. Ek het vir hom gesê ek het ons ingeskryf vir ʼn produksie by Aardklop, ons het ʼn deadline, en toe begin ons saam-saam werk en skrywe en trek strepe daardeur en oefen en skryf weer en nou het ons ʼn show.”

“Sy het nie geweet waarvoor sy haarself inlaat nie,” sê Wicus. “Die laaste keer dat ek ʼn play gedoen het, was 26 jaar terug – en ek was ʼn eerstejaar op Stellenbosch. En soos dit maar gaan, vergeet jy mos maar die goed wat jy destyds geleer het. Maar nou is ons hier.”

Dowwe Dolla (Margit Meyer-Rödenbeck) en Wicus van der Merwe as Dowwe Wicus en Dolla van der Merwe (Foto: Facebook)

Aanhangers is teleurgesteld dat daar nié ʼn ring betrokke was toe die twee mekaar se vanne gevat het nie, maar daar is ʼn “heel logiese” rede daaragter, vertel hulle.

“Eintlik het dit sommer vanself gebeur,” lag Dolla. “Ons name het so langs mekaar op ʼn papier gestaan en as jy dit horisontaal gelees het, dan het jy gelees ‘Dowwe Wicus en Dolla van der Merwe’. Ons het gedink dit is baie snaaks én baie gepas. Dis maar die storie, niks ander goetertjies nie.”

Verkope vir die produksie vaar só goed dat hulle skoon vanjaar besluit het om nié meer die Oscar-toekennings in Los Angeles by te woon nie. Hulle bly “liewer hier” om Suid-Afrikaners te vermaak.

“Mense kom na die show toe en hulle dink hulle gaan eers vir my op die verhoog sien en dan vir Dolla. Maar dis nie ʼn verskeidenheidsproduksie nie. Alles is deurmekaar: Eers haal ons die gehoor uit, dan haal ons mekaar uit, dan sing ons en dan is Wicus skielik ʼn sywurmboer. Al hou jy nie daarvan nie, is jy nooit verveeld nie. Dis nie beige nie. En ons hou nie terug nie – almal is tog so in watte toegedraai en ons is moeg daarvoor,” vertel Wicus.

Dowwe Dolla (Margit Meyer-Rödenbeck) en Wicus van der Merwe as Dowwe Wicus en Dolla van der Merwe (Foto: Facebook)

Dowwe Wicus en Dolla van der Merwe praat ook oor fopnuus. “Dié gedeelte van die produksie gaan maar oor goed wat ons elke dag in die koerante lees,” sê Wicus. “Dis eintlik moeilik, want daar is tussen elke vertoning nuwe fopnuus. As ons byvoorbeeld praat oor die minister van vervoer, moet ons netnou die naam weer verander, want dan is daar al weer ʼn nuwe minister.”

Margit aan die woord: “Ek dink dis die een deel van die produksie wat mense baie geniet omdat ons sosiale en politieke kommentaar lewer. Die stuk gaan wel oor fopnuus, maar dit word baie satiries aangebied. Die gehoor lag, want dit kon net sowel waar gewees het. Die stories klink waar, maar dis nié heeltemal waar nie. Mense gaan baie lag.”

Hulle wil amper nie eens die woord “produksie” daaraan koppel nie omdat dit “weliswaar eintlik ʼn pretduksie is”. “As mense die woord toneelstuk hoor, val jy onmiddellik in ʼn depressie – maar dis nie swaar nie. Dis satire en komedie en ons belowe jou dat jy behoorlik gaan lag,” sê Wicus.

Dowwe Dolla (Margit Meyer-Rödenbeck) en Wicus van der Merwe as Dowwe Wicus en Dolla van der Merwe (Foto: Facebook)

Weer Dolla aan die woord: “Soms as Wicus my moedeloos maak, dan druk ek my lollie in sy hare. Die een keer toe ek dit doen, toe bly die lollie sommer regop staan. Maar ek het altyd spares; ek is voorbereid. Ons sê vir mense as hulle nie lag nie, gaan ons hulle met Doom spuit. Dan is daar in elk geval trane in hulle oë,” skerts sy.

Dowwe Wicus en Dolla van der Merwe is van 29 Maart tot 1 April by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) op Oudtshoorn te sien. Die produksie maak ook later in Vrede in die Vrystaat en op Piet Retief in Mpumalanga ʼn draai. Verskeie ander vertonings word onder meer by Carnival City in Gauteng gehou en daar is ook planne vir ʼn Namibiese toer.

Vir meer inligting oor toerdatums, besoek Dowwe Dolla of Wicus van der Merwe se amptelike Facebook-blaaie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Charles ·

Nee kyk, maak jul reg vir skaterlag!! Albei van hulle is uniek op sigself maar saam op ‘n verhoog gaan jy le soos jy lag!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.