‘Lykskou’ ʼn vars en unieke Aardklop-stuk

Bouwer Bosch en Je-Ani Swiegelaar is te sien in 'Lykskou'.

Bouwer Bosch en Je-Ani Swiegelaar is te sien in ‘Lykskou’.

“Lykskou”, wat tot Vrydag te sien was op die Aardklop Nasionale Kunstefees in Potchefstroom, is ʼn bisarre, komiese toneelstuk uit die pen van Wessel Pretorius.

Die sanger en akteur Bouwer Bosch maak sy teaterdebuut as Orph Lombardi teenoor Je-Ani Swiegelaar, bekend vir haar rol as Naomi in die kykNET-sepie Binnelanders.

Swiegelaar vertolk die rol van Orph se suster, Dizzy Lombardi. Dié twee is erfgename van hul pa se begrafnisonderneming. Orph is onbetroubaar en spandabelrig en mors al sy pa se erfgeld op drank en vroumense. Dizzy besef hulle is in ʼn groot finansiële verknorsing ná Orph die laaste sent verkwis het. Sy oortuig Orph dat hulle van dorp tot dorp moet reis om lyke te grimeer – net soos hulle pa.

Dié broer en suster weet egter niks van grimeerkuns af nie en moet hulle pad van dorp tot dorp oop lieg. Orph en Dizzy raak ook al hoe meer geïrriteerd met mekaar soos wat hulle reis en intussen raak Dizzy bewus van haar gawe om met dooies te kommunikeer.

By een dorpie, waar ʼn hele krieketspan in ʼn busongeluk omgekom het, raak hulle in ʼn raaisel verstrengel en alles is nie pluis nie.

Swiegelaar vertolk die rol van Dizzy uitstekend en haar komiese tydsberekening is puik. Bosch het ook alle verwagtinge oortref en was baie oortuigend in die rol van Orph en die akteurs het ʼn staande toejuiging ontvang.

Al is die teks gepeper met gekruide taal, is dit vars, uniek en skreeusnaaks. Die regie is behartig deur Neels Clasen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nadine ·

Ons het dit vreeslik geniet! Baie oulike show met vrek skerp sê goed! Een van die beste natuurlik ” Orph, ek druk hierdie ukelele so diep in jou… Op dat jy acoustics sal… Vir die res van jou lewe” regtig baie oulik. Welgedaan julle

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.