Ma-wees leer Nadia Beukes van menswees

Nadia Beukes. (Foto: Willem Botha)

Nadia Beukes staan die skoene van ma, vrou, stemkunstenaar, aktrise, sangeres en aanbieder vol. Haar innemende glimlag, opregte vriendelikheid en tasbare nederigheid is van haar opmerklikste eienskappe.

Sy gons alte trots oor haar kroos, die vierjarige Davey en tweejarige Joshua. Hoewel sy vroeër in haar lewe daarvan oortuig was dat sy ’n beter dogtertjie-ma sou wees, het die woelwaters haar hart volkome gewen.

“Ek het van die begin af geweet dat hulle net vir ’n kort rukkie klein is. Ek bring soveel tyd moontlik saam met hulle deur.”

Sy staan vandag trots in die skoene van ma en vrou, maar op 30 het die gesinslewe wat sy vandag het en in floreer, nog nie soos ’n moontlikheid gelyk nie.

“Ek het gedink dat dit dalk nie vir my bestem is nie, hoewel daar beslis ʼn behoefte in my hart was om ʼn gesin van my eie te hê”

Sy het ’n pad van aanvaarding gestap, en net toe haar berusting vir haar begin wink, het liefde onverwags aan haar deur kom klop.

Sy het haar man, David, ontmoet toe sy haar Boer soek ’n vrou-aanbiedershoed opgesit het.

“Die mense wat bereid was om vir liefde te waag, het my aangemoedig om vir myself ook nog ’n kans te gee.”

Sy het egter besef dat die Here se planne vir haar veel beter is as wat sy ooit self kon droom.

“ʼn Mens moet minder fokus op hoe jy dink die prentjie eendag moet lyk, en meer op hoe mooi die prentjie reeds is.”

Oor haar man gesels sy maklik en liefdevol.

“Ons was aan die begin net vriende, maar toe begin die liefde behoorlik blom. Hy was nog altyd vir my ʼn aantreklike man en ek is dankbaar dat ek hom vir die afgelope paar jaar my aantreklike man kan noem!”

(Foto: Willem Botha)

Haar lewe het binne ses jaar handomkeer verander. Sy het van Johannesburg na Pretoria getrek, getrou en twee vrolike seuntjies ryker geword.

“Ek hoop wanneer mense na my kyk, dat hulle sal besef dat elkeen se lewenspad uniek is. ʼn Mens moenie jou drome prysgee nie, maar jou ook nie blindstaar teen die wat reg voor jou oë reeds waar geword het nie

“My prentjie is so ongelooflik mooi vir my.”

Ma-wees is vir Nadia ’n herontdekking van haar menswees. Sy het eens gemak gevind in die boksie wat sy vir haarself geskep het; vandag koester sy die aanpasbaarheid wat haar seuntjies daagliks vir haar leer.

“Voordat ek ’n familie gehad het, was dit vir my maklik om ’n gemakborrel te skep, om dinge net in swart en wit te sien. Ma-wees het my geleer om gemaklik te wees met die grys.”

Verandering het nie altyd maklik gebeur nie, maar is ’n vaardigheid wat veral deur die jare van ma-wees begin vorm het.

Sy leef met genade vir haarself, weet dat sy nie ’n eiland is nie en omring haar dikwels met mense wat meer kennis in sekere velde het as sy.

“Ek glo ook dat ʼn mens die mooi dele van die lewe moet geniet en dat jy nie altyd hoef te wag vir iets slegs om met jou te gebeur nie.”

Nadia, wat nou in die uiters suksesvolle musiekspel Die Gelofte te sien is, is egter nie in net een hoekie van die vermaakbedryf vasgepen nie. Sy het die bedryf omarm en het deur die jare heen ’n snoesige plek in Suid-Afrikaners se harte oopgeskrop.

Met haar pa, Rouel Beukes, wat in haar grootwordjare self deel van die vermaakbedryf was en vandag steeds is, het haar eie lewenspad organies daardie selfde pad gevolg.

Hoewel sy die verhoog van kindsbeen af geniet het, is sy deur haar ouers aangemoedig om lewenservaring en ʼn sakeagtergrond tydens haar studentejare op te doen.

“Ek het in daardie stadium van my lewe nie regtig verstaan waarom dit nodig was nie, maar vandag waardeer ek dit.”

Sy was in Skoonveld Dameskoshuis terwyl sy aan die Universiteit van Johannesburg ’n honneursgraad in bemarkingskommunikasie verwerf het.

Dit is hier waar sy deel van Carmen, die koshuis se sêrgroep, was.

“Ek en een van die ander vroue in die sêrgroep, Adele Viljoen, het besluit om aan ’n kykNET-duetsangkompetisie: Zing! deel te neem. Ons het dit tot by finale ronde gemaak; ek kan dit eintlik tot vandag toe nie glo nie.”

kykNET het tydens dié kompetisie haar hart verower, en vandag verwys sy trots na haarself as ’n kykNET-baba.

“Daar is beslis plek vir alle platforms, maar dis waar my pad begin het en ek sal dit nooit opsy skuif of vergeet nie.”

Sy geniet sosiale media terdeë en ag dit as ’n foto-album waar kosbare herinneringe geberg en geniet word.

“Ek kom nie uit ’n generasie wat met sosiale media grootgeword het nie. Vir my is dit ’n plek van inspirasie, nie net vir ander mense nie, maar vir my ook.”

Dis vir haar belangrik om opreg te bly in die gebruik van sosiale media.

’n Onblusbare passie vir storievertel is wat haar na die verhoog, kassie en mikrofoon gelok het.

“Daar is iets magies aan verhoogwerk. Dis asof jy in die oog van die storm is; dit is só ’n groot voorreg om die oomblik met die gehoor te deel, veral omdat jy weet hulle is daar om die storie met jou te deel.”

Die oudisie-proses vir Die Gelofte was ’n senutergende uitdaging.

“Ek gee altyd my beste as dit by oudisies kom en glo dat as die rol of werk vir my bestem is, sal dit uitwerk, maar selfs daardie wete keer nie die spanning nie – veral nie as mens die rol graag wil hê nie. Nietemin het ek gelukkig al geleer om die proses, en God se plan vir my, te vertrou.”

Nadia Beukes en Johan Vorster in ‘Die Gelofte’.(foto: verskaf)

Sy het met die geboorte van haar twee seuntjies minder projekte aangepak. Dit het reusewaagmoed geverg om haarself weer aan só ’n projek te wy. Sy vertel skertsend dat sy die oudisie-video in hul motorhuis opgeneem het, en dat al wat ’n hadeda, helikopter en grassnyer was dié dag luidrugtig haar pogings gekniehalter het.

“Ek het nie geweet of ek ’n kans staan nie. Die Gelofte het ’n tydlose tema. Ek het besluit om eg te wees in my interpretasie daarvan.”

Die verhaal wat Die Gelofte op die planke van die AfriForum Teater in Pretoria verewig het, is vir haar een wat kosbaar is en nie vergete in die stof moet agterbly nie.

“Dit was vir my, as storieverteller, ’n wonderlike geleentheid om my passie te kon uitleef en my bydrae tot die produksie te lewer. Die inhoud is geskoei op geloof en deursettingsvermoë.

“Ons is geneig om ons geskiedenis te wil vergeet, en daar is dele waarvan ons moet vergeet en waarmee ek beslis nie saamstem nie. Maar daar is ook mooi dele waarvan ons gerus kan onthou.”

  • Kaartjies vir die derde speelvlak van Die Gelofte kan hier aangeskaf word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.