Margit geen dowwe dolla nie

Margit

Margit Meyer-Rödenbeck. Foto: Skermskoot uit die video

Margit Meyer-Rödenbeck is baie dinge, maar beslis nie ʼn dowwe dolla nie. As komediant, omroeper, stemkunstenaar en sakevrou het sy haar stewig in die vermaaklikheidsbedryf gevestig.

Sy het drama aan die Universiteit Stellenbosch (US) studeer waar sy haar honneursgraad cum laude geslaag het. Daarna het sy ook haar M-graad in teaterbestuur voltooi. As kind wou sy ʼn klomp dinge doen, nes enige ander kind. “As sesjarige wou ek ʼn Olimpiese swemmer en mej. Suid-Afrika word, maar op hoërskool het ek my vakke so gekies om medies te gaan studeer – drama was toe net ʼn stokperdjie. Op die ou einde het ek besluit ek sal nie medies kan studeer nie; dit sal nie goed wees vir die pasiënte óf vir my nie – ek is nie ʼn dokter nie. Ek toe gaan swot ek maar my stokperdjie.”

Haar ma wou eers hê sy moes met ʼn onderwysbeurs gaan studeer omdat dit ʼn veiliger keuse was, vertel sy. Maar toe Margit in die onderhoud voor Hennie Aucamp sit, destyds hoof van die onderwysdepartement, het hy vir haar waardevolle raad gegee. “Hy het gesê ek sal ʼn goeie onderwyser wees, maar dat ek eerder my passie en my hart moet volg.”

Margit sê sy het eers toe sy haar honneurs in kinderteater gedoen het, besef sy is in die regte veld. “As jy ʼn passie vir iets het, sal jy dit mos laat werk. Dis ʼn moeiliker beroep om te laat werk, want jy moet vir jouself werk skep.”

Sy het destyds al ʼn liefde vir kinderteater ontwikkel en sy meen kinders is haar gunstelinggehoor. “Eerlikheid, daar is geen grense nie, alles is moontlik, onbevange. Alles waarna ons as grootmense hunker, wat ons iewers langs die pad verloor het, dít het kinders.”

Kinderteater word soms onderskat en Margit meen dis een van die heel moeilikste teatervorms. “ʼn Kindergehoor is moeilik – hulle wil jou glo, maar as hulle jou nie glo nie, gaan hulle vir jou ore aansit. Jy het ʼn geweldige verantwoordelikheid ook – wat jy op die verhoog doen en waaraan jy hulle blootstel. Kinders is baie slim.”

Margit is tans besig met Liewe Heksie: Flower Power, ʼn produksie wat vir vier Fiëstas en een Fleur du Cap benoem is. Dié vertoning het baie goeie resensies ontvang omdat dit kinderteater is wat iets vir ouers ook bied. “Pantomime is die enigste teatervorm wat ek ken wat bedoel is vir kinders én volwassenes. Enigiemand kan dit geniet. Daar is spitsvondige dubbelsinnighede vir die volwassenes en politieke verwysings wat die kinders nooit gaan snap nie, maar daar is ook rondhollery en saamdansery wat jy saam met jou kind sal geniet. Pantomime se enigste doel is om pret te hê.”

Dis baie duidelik dat Margit nie bang is vir harde werk nie, en dis ook die raad wat sy aan mense gee wat hierdie bedryf wil betree. “Niks kom vanself nie – as dit maklik was, was dit nie regtig die moeite werd nie. Daar kom tye dat mens wil opgee, want ons is baie weerloos – jy is die produk. As mense vir jou kritiek gee, maak dit jou seer. Kry ʼn dik vel en kry vir jou mense wat jy kan vertrou.”

Liewe Heksie: Flower Power is vanaf 19  April tot 1 Mei by die Brooklyn Teater te sien. Koop kaartjies hier.

Kyk die video om te hoor saam met wie Margit op ʼn waterwurm sal gly, en of sy eerder aan Survivor of the Voice sal deelneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Baie slim enetjie die ·

Beslis ‘n baie slim enetjie die, min mense kan situasies so vinnig opsom, stokkielekker in die kies sê alles wat ons wou sê! Absolute talentvolle besigheidsvrou, jou restaurant is een van die lekkerste kuier plekke!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.