Margit Meyer-Rödenbeck terug op Heksie se besem

Margit Meyer-Rödenbeck as Liewe Heksie. (Foto: verskaf)

Jare lank het Margit Meyer-Rödenbeck haar Dowwe Dolla-karakter met oorgawe vertolk. Nou verruil sy Dolla se stilleto’s vir Heksie se besem.

Tien jaar gelede het Meyer-Rödenbeck met die einste kinderteaterstuk, Liewe Heksie en die rolskaatse, getoer.

Vanjaar stof sy die kostuum af terwyl sy kinders én hul ouers, wat óók met Liewe Heksie grootgeword het, teaters toe nooi.

“Dis lekker om weer te kan toer, veral met ’n kinderteaterproduksie,” het Meyer-Rödenbeck aan Maroela Media gesê.

Sy en mede-akteur Deon van Zyl wil Suid-Afrikaners weer aan die praat sit met hierdie klein teaterstuk. Van Zyl vertolk nie net een karakter nie, maar drie; dié van Karel Kat, Koning Rosekrans en die Geel Heks.

“Ons het hierdie produksie tien jaar gelede gedoen. Ons het toe ook landwyd ’n hele paar keer opgetree, en dit is steeds heerlik!”

Die kinders bepaal dikwels waarheen die storie op die ou end vloei.

“Dis vir my belangrik dat wanneer jy kinderteater doen, jy nie die kinders onderskat nie. Die kind moet voel asof hy deel is van die optrede. Dan, natuurlik, moet die goeie altyd oorwin oor die slegte, want dis die les wat ons hulle leer.”

Liewe Heksie is ’n karakter wat Meyer-Rödenbeck na aan die hart lê.

“Verna Vels het ’n juweel van ’n karakter geskep. Nie net Heksie nie, ander karakters ook. Sy het die spyker absoluut op die kop geslaan, en was lank voor haar tyd. Heksie is humoristies. Haar vergeetagtigheid maak haar geliefd, en maak haar menslik, kinders kan identifiseer daarmee.”

Sy verduidelik verder die veelsydigheid van die karakters in die verhale van Liewe Heksie die rede is waarom dit steeds ná al die jare op die kassie, planke en bladsye relevant bly.

Sy vertel skertsend dat die groot mense soms met net soveel toewyding as die kinders aan die interaktiewe dele van die vertoning deelneem.

“Die lekker ding van Liewe Heksie is dat jy weggevoer word en self weer kind raak. Almal het so ʼn bietjie van ’n uitlaatklep nodig ná die afgelope twee jaar.”

Heksie is byna net so lank deel van Meyer-Rödenbeck se lewe as Dowwe Dolla.

Sy vertel skertsend dat sy in ’n stadium in haar 20s die karakter só baie vertolk het, dat sy selfs tydens die kere wat sy in haar slaap deur die huis gedwaal het, geantwoord het in die bekende stem van Liewe Heksie wat Suid-Afrikaners so goed ken.

Sy het onlangs met ’n toer haar geliefde karakter, Dowwe Dolla, vaarwel geroep. Sy vertel egter dat sy verlig was toe sy die laaste keer as Dolla van die verhoog af kon stap.

“Dolla was vir baie lank ’n baie groot deel van my lewe. Sy was goed vir my in baie opsigte. Ek het ’n platform gekry om satire te doen, om krities te dink en sy het vir my ’n lang loopbaan gegee. Daar is wel ’n tyd vir kom en gaan.”

Liewe Heksie en die rolskaatse toer vir die volgende paar maande deur Suid-Afrika.

  • 28 Mei: 10:00 en 12:00 in die Atterbury Teater. Kry kaartjies vir die vertoning hier.
  • 29 Mei: Etienne Rousseau Teater in Sasolburg. Vir kaartjies stuur’n WhatsApp-boodskap na 0632175147 of kry jou kaartjies hier.
  • 11, 16 en 18 Junie: 14:00 by Die Boer Restaurant-teater. Kry kaartjies vir die vertonings hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.