Marion Holm wil gehore weer laat skater met Aardklop-produksie

Marion Holm.

Die Aardklop Kunstefees neem vanjaar ʼn ander gedaante aan met vertonings wat by verskillende venues in Pretoria aangebied word.

Die aktrise en grapjas Marion Holm is vanjaar te sien in die Kruger-galery by die Voortrekkermonument in die produksie Holmruggery.

Dié produksie is ʼn samestelling van haar beste stories uit haar vertonings van die laaste 16 jaar. Die aktrise vertel aan Maroela Media dat sy slegs een doel voor oë het met dié vertoning, en dit is om die gehoor te laat skater.

“Kort voor die inperking het ek ʼn ander vertoning getiteld Marion Holm geskryf en gerepeteer en die kostuums en plakkate was reeds gemaak. Nadat die pandemie ons getref het, het ek egter gevoel dié vertoning is nie gepas vir wat gehore vandag nodig het nie. Daarom het ek besluit om vir vanjaar se Aardklop die beste stories uit my laaste klomp vertonings saam te stel sodat mense net kan agteroor sit en uit hulle mae uit lag,” vertel Holm.

Volgens Holm is Holmruggery ʼn aanbieding vir diegene wat al haar produksies gesien het en wat lief is vir haar manier van storievertel.

“Ons almal ervaar baie hartseer en dit gaan werklik swaar met party mense, op ʼn emosionele en geldelike vlak. Ek het hierdie vertoning aanmekaargesit met alles wat ek kon vind wat snaaks is. As mense wil kom sit en ordentlik wees, is die vertoning nie vir hulle nie – ek wil hê hulle moet onbeskof en lelik kom lag.”

Holmruggery is vandag om 11:00 en 13:00 te sien, Vrydag 1 Oktober om 14:00, Saterdag 2 Oktober om 18:00 en Sondag 3 Oktober om 10:00.

Kaartjies kos R150 per persoon en is beskikbaar by Ticketpro.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Peter Pan ·

Dankie dat julle Aardklop van Potch weggevat het.. na al die jare!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.