Maskers word afgehaal, harte blootgelê in ‘Dop’

André Odendaal en Wilhelm van der Walt in Dop (Foto: Twitter)

André Odendaal en Wilhelm van der Walt in Dop (Foto: Twitter)

André Odendaal en Wilhelm van der Walt is van 28 September tot 23 Oktober in die nuwe Afrikaanse verhoogproduksie, Dop, te sien. Dié produksie, deur Retief Scholtz, maak sy teaterdebuut in die Studio-teater by Montecasino in Fourways.

Kosie Smit, vervaardiger van Kosie House of Theatre, sê hy het op Scholtz se werk afgekom tydens ʼn soektog na nuwe stemme in die teaterbedryf. Scholtz het agt maande lank aan dié opdragwerk geskryf.

Die produksie is ook deel van ʼn Afrikaanse seisoen van vyf maande by Pieter Toerien’s Montecasino Studio-teater.

Dop vertel die verhaal van Frank Venter (Odendaal), die spreekwoordelike man op straat. Hy ken nie baie mense nie en sal beslis ook nie sommer onthou word nie. Soos elke mens het Frank ʼn storie, maar niemand luister na sy storie nie.

Eendag sit Frank in ʼn kroeg. Dis sy verjaardag. Buiten vir die kroegman, Tim (van der Walt), is Frank alleen in die kroeg, soos in sy lewe. Albei het iets van die ander een nodig: Frank ʼn klankbord om sy bestaan te bevestig en Tim die regte woorde om sy hart uit te praat.

Odendaal is al meer as 30 jaar bekend as gerekende akteur en regisseur en Van der Walt is verlede jaar op Aardklop aangewys as die beste akteur vir sy spel in die produksie Son.Maan.Sterre.

Sylvaine Strike, wat die regisseur van die stuk is, is in 2006 aangewys as Standard Bank se jong kunstenaar vir drama. Vir haar regie van The Miser het sy in 2012 die Naledi-prys gekry as beste regisseur en die stuk is bekroon as die beste produksie.

Kaartjies kos R130 en R165 en is beskikbaar by Computicket. Afslag op groepbesprekings en vir pensionarisse is beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.