Matt Stern, ’n man van integriteit

Matt Stern. (Foto: Matt Stern/Facebook)

Nie net het sy pa gesorg dat Matt Stern musikaal afgerond is nie, hy het verseker dat die belangrikheid van integriteit stewig in Stern se hart bly staan.

“Dit wat jy dink, sê en doen moet dieselfde wees. Dís hoe ek integriteit sien,” het Stern aan Maroela Media verduidelik.

Deur die jare het die 51-jarige Stern in talle verhoogproduksies, sepies, reekse en rolprente gespeel. Hy was al in rolprente soos Invictus te sien, en het ook in verskeie plaaslike Afrikaanse televisiereekse soos Huis Lelieveld en Molly en Wors en sepies soos Binnelanders en 7de Laan die skoene van sy karakters volgestaan.

Tydens sy grootwordjare is die belang van musiek op die voorgrond geplaas. Sy pa was lid van ’n Karoo-musiekgroep en hy het sy seuns, waarvan Stern die jongste is, elkeen vriendelik verplig om ’n musiekinstrument te leer bespeel.

Dié instrument was aanvanklik ’n klavier, maar liefde vir die klawers het egter net by een van die broers voortgeblom.

“Ek het klein handjies gehad, my vingers kon nie by al die klawers uitkom nie. Daarom het ek vir drie jaar viool gespeel.”

Nadat hy egter as jong tiener ’n uitsending van ’n Elvis Presley-vertoning gesien het, was dié blondekop-akteur en -sanger se oë en drome vasgenael op net een ding: ’n kitaar.

Nadat hy met sy pa geredekawel het met die hoop om sy viool vir ’n kitaar nes Presley s’n te verruil, het sy pa ingestem. Stern vertel trots hoe sy pa vir hom geleer het om “Suikerbossie”, sy heel eerste liedjie op die kitaar, te speel.

Dit het hom egter nie lank geneem om dié instrument onder die knie te kry nie, en voordat hy sy oë kon uitvee het, het hy ’n indrukwekkende repertorium Elvis-liedjies op sy kerfstok gehad.

Hy was ook by al wat ’n koor is betrokke tydens sy skoolloopbaan.

“Ek het natuurlik by die kore betrokke geraak, ek het ook rugby gespeel. In ’n stadium was daar ’n tekort aan koorlede. Die hoof het toe ’n reël ingestel dat jy nie in die rugbyspan kan wees as jy nie in die koor sing nie,” vertel hy skertsend.

Sy liefde vir musiek het deur die jare organies ontwikkel en hy getuig met dankbaarheid dat sy ouers baie vinnig ’n klip in sy pad sou rol indien hy nié kon sing nie.

Wanneer hy nie besig is om te sing, sy tyd op die planke of voor die kamera deur te bring nie, is hy besig om die volgende groep mense op te lei wat die Suid-Afrikaanse vermaakbedryf gaan betree.

’n Verkleurmannetjie van formaat

Twee van dié rolprente was internasionale projekte: Racing Stripes en Invictus. Oor sy betrokkenheid by die twee trefferrolprente gesels hy graag.

Albei rolprente is in Suid-Afrika geskiet en het talle Amerikaanse akteurs en rolprentspanne die land ingebring. Hy vertel skertsend hoe maklik die Suid-Afrikaners die Amerikaanse aksente hul eie gemaak het, en dit boonop sonder dat hulle dit eens besef het.

“Hy is maar net een van die manne. Ons het van die begin af gekliek,” vertel Stern oor sy ontmoeting met die Amerikaanse akteur Matt Damon.

Matt Stern en Matt Damon tydens die verfilming van ‘Invictus’. (Foto: Matt Stern/Facebook)

’n Droom het vir Stern waar geword toe Clint Eastwood in die regisseurstoel inskuif. Vir hom is Eastwood ’n goeie voorbeeld van ’n man wat sy lewe met integriteit leef.

“Ons was bespreek vir tien weke en die fliek is in nege weke klaar geskiet. Dís hoe goed sy span hom ken en hoe effektief hy werk.”

Stern is ’n kranige musikant en seremoniemeester wat sy talent met die wêreld deel. Musiek lê hom na aan die hart en diegene wat graag na sy fluweelstem wil luister kan dit hier op Apple Music en Spotify kry.

Sy liefde vir die verhoog blom al van kindsbeen af.

“My eerste optrede was in matriek gewees by ’n 21ste verjaardagpartytjie. Ek het R25 verdien daarvoor, maar ek het toe al geweet dat ek op die verhoog hoort.”

Oor nuwe produksies

Stern is eersdaags weer op die planke in die Centurion Teater te sien in die produksie I’ve Got You Babe.

(Foto: Matt Stern/Facebook)

Anza-Annaretha deel die verhoog met Stern in dié produksie.

“Ek noem dit ’n ‘mini-musiekspel’. Dit gaan oor ’n ou wat uit die tronk vrygelaat word en probeer om weer die romanse tussen hom en sy vrou te laat opvlam,” verduidelik Stern.

Stern, wat op sy dag ook in treffermusiekspele soos Tree aan, Jock of the Bushveld en Ons vir jou gespeel het, is opgewonde om die gehoor by I’ve Got You Babe te betrek.

“Ons breek die vierde muur, die gehoor word werklik deel van dít wat op die verhoog aangaan.”

  • Om kaartjies na I’ve Got you Babe aan te skaf, besoek dié webwerf.
  • Volg Matt Stern op Instagram en Facebook om meer inligting oor dié veelsydige kunstenaar te kry.
  • Besoek dié webwerf vir meer inligting oor waar Stern volgende te sien is.

WEN!

’n Gelukkige Maroela Media-leser staan die kans om twee kaartjies vir I’ve Got you Babe los te slaan.

Vul jou besonderhede hieronder in en staan die kans om Stern in lewende lywe op die planke te sien:

  • This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Bepalings en voorwaardes

  • Die sluitingsdatum is Woensdag 29 Junie 2022 om middernag en die wenner sal Donderdag 30 Junie aangekondig word.
  • ’n Wenner sal lukraak gekies word.
  • Die beoordelaars se beslissing is finaal en geen korrespondensie sal daaroor gevoer word nie.
  • Die trekking sal direk ná die sluitingsdatum plaasvind, waarna Maroela Media per e-pos en telefonies met die wenner in verbinding sal tree.
  • Sodra die wenner gereageer het, sal die persoon se naam op Maroela Media bekendgemaak word.
  • Die prys(e) kan nie vir kontant omgeruil word nie.
  • Die prys sluit twee kaartjies na I’ve Got You Babe in die Centurion Teater op Saterdag 2 Julie om 18:00 in.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit van Vrydagaand om 19:30 tot Maandagoggend om 06:00. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.