Moeiteloos na die Clover Aardklop Nasionale Kunstefees

Mismoedig oor die hoë brandstofpryse? Bang dit gaan jou planne om vanjaar se Clover Aardklop Nasionale Kunstefees by te woon in die wiele ry?

Gelukkig is daar goeie nuus! Vir die eerste keer is daar ’n Parkeer en Ry-diens beskikbaar. Elke dag, vir die duur van die fees, vertrek ’n bus uit Pretoria, Boksburg, Alberton, sowel as Randburg, Florida en Krugersdorp na Potchefstroom. Saans keer die busse om 20:00 weer terug na hulle onderskeie bestemmings. Die koste van ’n retoerrit uit Pretoria is R150 en R140 uit Johannesburg. Pendelaars hoef nie dieselfde dag terug te keer nie en kan dus ook vir meer as een aand in Potchefstroom oorbly.

In Pretoria vertrek die bus om 7:00 by die Menlynpark Winkelsentrum. Die volgende oplaaipunt is die Birchwood Hotel in Boksburg om 7:45 en dan Hoërskool Dinamika, Alberton om 8:30 vm.

In Johannesburg vertrek die bus om 7:00 by Hoërskool Randburg, om 7:45 by Hoërskool Florida en om 8:30 by Hoërskool Monument.

Die lewe van feesgangers gaan ook vanjaar makliker gemaak word deur die Engel & Völkers-pendeldiens. Sit rustig agter oor in ’n taxi sonder om te verdwaal en laat die frustrasie van ’n verkeersknoop aan die vaardige bestuurder oor. Boonop sal jy ook nie sukkel met parkering nie en jy word reg voor die venue afgelaai. Die pendeldiens is beskikbaar na al die verskillende lokale waar Clover Aardklop produksies aangebied word. Vir ’n enkelrit sal jy R10 opdok maar weekkaartjies kan vir R50 gekoop word. Die taxi’s vertrek vanaf die pendelstasie op die h/v Esselen- en Molenstraat, reg langs Laerskool Mooirivier. Om seker te maak dat jy weer opgelaai word, kan jy die woord pendel en die naam van die venue waar die taxi jou moet oplaai per SMS na 43967 stuur.

*Die Parkeer en rydiens vanaf Pretoria en Johannesburg is ’n inisiatief van Park and Ride, ’n onafhanklike maatskappy. Die retoerkaartjie sluit nie die ingang na die fees in nie. Kontak Park and Ride by 082 442 1602 vir verdere inligting. Kaartjies slegs beskikbaar by Webtickets en nie deur die Aardklop-kantoor nie. Vir meer inligting klik hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.