Musiekspel bring genesing vir dié ‘Die Kaplyn’-akteur

Abel Knobel in ‘Die Kaplyn’. (Foto: verskaf)

Toe Abel Knobel gekies is om die rol van Ruan Joubert, ’n jong valskermsoldaat, in Die Kaplyn te vertolk, het hy nie besef dat hy ’n deel van sy eie gesinsgeskiedenis, ’n pad wat sy eie pa gestap het, sou beleef nie.

Daar was ’n sin van oopheid en eerlikheid wat vir jare in sy verhouding met sy pa ontbreek het, erken Abel. Hy het geweet dat sy pa ’n valskermsoldaat in die grensoorlog was, maar in dié onderwerp is daar nimmer as te nooit dieper gedelf nie.

Die vrae oor die grensoorlog, diensplig en valskermsoldate wat in die voorbereidingsproses van Die Kaplyn opgeduik het, het egter ʼn wêreld tussen Abel en sy pa ontsluit.

“Waar ons altyd net ʼn paar minute op die foon gesels het om te hoor hoe dit met mekaar gaan, gesels ons vandag maklik vir ure.

“Ná al hierdie jare leer ek eindelik oor die trauma waardeur hierdie mans is.”

Daar is genesing in die rol wat Abel tans vertolk, erken hy. Die verhaal, wat talle gehoorlede ná elke vertoning ʼn traan laat stort, is een wat deur sy eie lewe gevloei het en die verhouding met sy pa weer heel gemaak het.

Abel erken self dat daar  ʼn reuse-verantwoordelikheid op die skouers van die akteurs in Die Kaplyn rus. Oor die grensoorlog leer kinders nie in skole nie, vertel hy, dié musiekblyspel is nie net ʼn bron van herinnering nie, maar ook een van bewusmaking.

“Dit gaan nie eintlik oor ons nie. Ons is instrumente wat ʼn boodskap oordra,” vertel dié 29-jarige blondekop sanger en akteur.

Abel erken dat hy gesukkel het om die trane te keer toe hy hoor dat hy deel van Die Kaplyn gaan wees.

Hy het, nes talle ander hoopvolle kandidate, sy oudisie-video aan die einde van verlede jaar ingestuur. Kort daarna het hy ʼn oproep van Jannes Erasmus, skrywer en regisseur van die musiekspel, ontvang om hom vir ʼn ontmoeting met Johan Vorster en Jacomien de Wet te nooi.

“Senuweeagtig,” onthou hy die gevoel wat dié dag in sy hart geheers het.

“Ek het myself gedurig geknyp, ek kon nie glo dat ek eindelik Johan Vorster ontmoet nie!”

En Johan was ene komplimente.

Daardie dag, dit was ʼn Sondag onthou hy, het Abel in sy motor geklim, sy ma gebel en gehuil. In die gang van toe deure wat hy al in sy loopbaan teëgekom het, is daar eindelik een gewees wat wawyd oopgestaan het.

Abel se pad met musiekteater het gedurende sy skoolloopbaan begin. Hy het in die Vrystaatse dorp, Bethlehem, grootgeword en het deur sy grootwordjare heen ʼn liefde vir musiek gekoester.

Weens ʼn tekort aan geleenthede om dié liefde te ontwikkel, het Abel in sy gr. 10-jaar aansoek gedoen vir ʼn beurs by Southdowns College in Irene waar hy kon spesialiseer in musiek. Dié droom het egter nie dadelik waar geword nie, en Abel het eintlik daarvan begin vergeet.

’n Paar dae nadat hy as hoofseun van die skool waarin hy was aangekondig is, het hy ’n oproep ontvang wat sy hele lewe sou verander. Southdowns College het plek vir hom, met ’n beurs daarby.

Dit was een van die moeilikste keuses van sy lewe, erken hy. Die liggies van die Jakarandastad het vir hom gewink – en vandag is hy nie een oomblik spyt dat hy sy hoofseunbalkie vir ’n plek in ’n musiekskool verruil het nie.

Dit is juis in sy matriekjaar waartydens hy ʼn oudisie afgelê het om deel van die Afrikaanse popmusiekgroep, NRG, te word.

(Foto: verskaf)

“Ek het eintlik toe reeds aansoek gedoen om musiekteater by Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT) te studeer.”

Dié planne het egter gesneuwel toe hy pens en pootjies in die musiekbedryf beland het.

Tog het hy nooit opgehou om oudisies vir verskeie musiekblyspele nie af te lê. Wat hom egter gepootjie het, is die feit dat hy nooit verdere dansopleiding ná skool gehad het nie.

“Ek het elke keer by die dansoudisies uitgeval. Dit is eintlik baie tegnies, en die opleiding wat mense daarvoor ontvang is uiteenlopend.”

Dit is juis dié lewenslange droom wat Abel nederig hou terwyl hy in weermaggewaad op die planke van die AfriForum Teater die verhaal van Die Kaplyn vertel.

“Dit is onwerklik en ʼn ongelooflike spesiale ervaring,” vertel hy.

Abel was onlangs in die kykNET-sepie, Binnelanders, as ʼn krieketkaptein te sien. ʼn Uitdagende rol, erken hy.

Sy karakter was dikwels angstig, senuweeagtig en donker, iets wat Abel gedurende die verfilmingsproses self begin ervaar het.

Hy het die ervaring egter terdeë geniet en gesels maklik oor hoe ʼn gemaklike omgewing Stark Studios, waar Binnelanders geskiet word, is om te werk.

“Dit is waarom die sepie nog al die jare op die televisie is. Dit is een van die lekkerste sepiestelle om op te wees.”

Hy is ook in die kykNET-storiefilm, Ompad, as ʼn nederige Noord-Kapenaar te sien. In dié rolprent deel hy die skerm met Marijke Coetser en Zonika de Vries. Zoricke Snyman, wat ook in Die Kaplyn te siene is, is ook in dié fliek.

Abel erken dat sy loopbaan nie altyd maklik was nie. Hy het al te dikwels voor toe deure te staan gekom, met ʼn bekommernis oor wanneer die deure eindelik vir hom ook sal begin oopgaan.

Maar die Here is getrou, getuig hy.

“Met elke deur wat toegaan, is daar altyd  ʼn groter een wat oopgaan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.