‘My mense is die kluts kwyt’ kyk satiries na Afrikaners

Roeline Daneel. (Foto: Dewet van Rooyen)

Roeline Daneel. (Foto: Dewet van Rooyen)

My mense is die kluts kwyt is ʼn nuwe toneelstuk uit die pen van Ludwig Binge. Dit is gegrond op die sketskomedietradisie van Monty Python en die komiese eenbedrywe van Christopher Durang.

Die stuk kyk met ʼn satiriese oog na Afrikaners in hul gemaksone en lewer kommentaar op geslagsgelykheid, homofobie en magsmisbruik. Roeline Daneel van Die Boekklub en Krotoa-faam vertolk saam met De Klerk Oelofse, ook bekend as Boer Jaap in die kykNET-reeks Hotel, die hoofrolle in dié stuk.

ʼn Lewensmoeë, deeltydse geskiedenisonderwyser gee sý weergawe van wêreldgebeure met drastiese gevolge, terwyl Lady Rugga haar manskollegas touwys maak. ʼn Blou Bul-braai in Pretoria neem ʼn onverwagse wending terwyl Louise en Peter op hul eerste Tinder-afspraak ontdek die liefde is bipolêr.

Oor die span van My mense is die kluts kwyt

Die stuk is die tweede uit Binge se pen – die eerste was Kleedkamer-Blues wat gedebuteer het op vanjaar se Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees. Binge is ook in My mense is die kluts kwyt te sien.

Die regie word behartig deur Wessel Pretorius. Dié Nelspruiter het onder meer vier Fiësta-toekennings en die Woordtrofeë vir beste dramaproduksie vir sy solostuk Ont- gewen. Hy het ook in dié stuk gespeel.

Ont- is later deur Hennie van Greunen in Engels as Undone vertaal en by die Edinburgh Festival Fringe, Afrovibes in Nederland, die Wiener Festwochen in Wene en die Nasionale Kunstefees in Grahamstad uitgevoer waar dit die goue Standard Bank Ovation-prys ontvang het.

Pretorius het ook onder meer die teaterstukke Waterpas (KKNK Kanna vir beste komedie), Die dag is bros (vyf Fiësta-benoemings en die ATKV-Woordveertjie vir beste drama), Die ontelbare 48, Klara Maas se hart is gebreek, ensomeer: Die vloeistoftrilogie, I Love You Sally Field (and other stories) en Renaissance geskryf.

Pretorius se hoogtepunte as akteur sluit in Saartjie Botha se Balbesit (regie deur Jaco Bouwer), Christiaan Olwagen se N is vir neurose, Edward Albee se Wie’s bang vir Virginia Woolf? (regie deur Olwagen) en Tom Lanoye se Bloed en rose (regie deur Marthinus Basson). Hy woon in Kaapstad waar hy daarna streef om ʼn lewe uit teater te maak.

Oelofse is ’n 29-jarige akteur wat al in meer as 25 professionele verhoogproduksies gespeel het. As hy nie op die verhoog of voor die kamera is nie, ontspan hy graag met los werkies in sy skadutuintjie in Kaapstad.

Daneel was te sien in die internasionaal erkende rolprente Krotoa en Skoonheid, asook televisiereekse soos Fynskrif, Die Boekklub en Vallei van sluiers. Verhooghoogtepunte sluit in PaSandton City GrootdoopBorn in the RSAWaterpasMooi MariaDie lelike eend en N is vir neurose.

Benewens haar akteursloopbaan, werk sy ook as vervaardiger en regisseur by Wyrd Films. Sy woon in Kaapstad saam met haar argitekman, Werner, en katte, Evie en Seun.

Binge se meer onlangse teaterproduksies sluit in Kleedkamer-Blues, Die koninkryk van die diere, Samsa-masjien, Macbeth.slapeloos, Cabaret en Al julle volke. Hy is ook te sien in flieks soos Kanarie, Johnny is nie dood nie, Balbesit en Sophia Grace and Rosie’s Royal Adventure. Hy was ook te sien in kykNET-reekse soos Fynskrif, Die Boland Moorde, Treknet, Vloeksteen en Die byl.

My mense is die kluts kwyt debuteer op vanjaar se Aardklop Nasionale Kunstefees en is te sien van 2 tot 6 Oktober by die ATKV C6 POK. Kaartjies kos R110 en is beskikbaar by Ticketpro.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.