‘My mense is die kluts kwyt’ trek ʼn nuwe baadjie aan

Roeline Daneel, De Klerk Oelofse en Ludwig Binge is te sien in ‘My mense is die kluts kwyt (is groot) op die US Woordfees. (Foto: www.woordfees.co.za)

My mense is die kluts kwyt, die toneelstuk wat in 2018 op die Aardklop Nasionale Kunstefees gedebuteer het, het ʼn nuwe baadjie aan en is vanjaar te sien op die US Woordfees op Stellenbosch as My mense is die kluts kwyt (is groot).

My mense is die kluts kwyt (is groot) is geskryf deur Ludwig Binge, wat ook in die stuk te sien is. Dit is gegrond op die sketskomedietradisie van Monty Python en die komiese eenbedrywe van Christopher Durang.

Die stuk kyk met ʼn satiriese oog na Afrikaners in hul gemaksone en lewer kommentaar op kwessies soos geslagsgelykheid, homofobie en magsmisbruik. Roeline Daneel van Die boekklub- en Fynskrif-faam en De Klerk Oelofse, onder meer bekend as Boer Jaap in die kykNET-reeks Hotel, is ook in dié stuk te sien. Wessel Pretorius behartig die regie.

“Ons het eintlik om selfsugtige redes besluit om dié toneelstuk af te stof, omdat dit met die vorige weergawe vir ons so lekker was om saam te reis en te werk. Ons is van die verhoog af ook baie goeie vriende wat baie tyd saam deurbring, so ons wou graag weer iets saam doen,” vertel Daneel.

Roeline Daneel. (Foto: Jenni H)

“Die terugvoer wat ons oor die vorige stuk gekry het, het al ons verwagtinge oortref. Die kaartjies het beter verkoop as wat ons verwag het, resensente het goeie resensies geskryf en ons het deurlopend mense raakgeloop wat vir ons gesê het hoe baie hulle dit geniet het.”

Sekere van die karakters wat in die vorige stuk te sien was, soos Lady Rugga, maak weer ʼn draai in die nuwe teks. “Die gehoor was mal oor ons rugbysketse, so ons het besluit om dit weer in te skryf. Die Wêreldbeker-rugbytoernooi verlede jaar het ook vir ons lekker materiaal gegee om mee te werk,” sê Daneel.

“Daar is uiteraard ʼn hele klomp nuwe kort sketse en eenbedrywe. As jy die vorige een gesien het, is dit ʼn bonus, maar dit is nie noodsaaklik om die trant van die nuwe stuk te volg nie. Die goue draad wat die sketse aan mekaar bind is dat daar spot gedryf word met die Afrikaner en al sy geite,” voeg sy by.

Daneel, wat in 2018 vir ʼn Safta-toekenning vir beste vrouebyspeler vir haar rol in die fliek Krotoa benoem is, sê dit is lekker om haar komiese vaardighede as aktrise ook ten toon te stel.

“Die interessante ding van komedie is dat dit baie moeiliker is as drama om te speel. Dit is natuurlik heerlik om pret te hê en lekker te lag, en om sulke vergrote karaktereienskappe ten toon te kan stel wat ʼn mens nooit in jou regte lewe sal kan doen nie en ook nooit in ʼn drama kan doen nie.”

Roeline Daneel, De Klerk Oelofse en Ludwig Binge is te sien in ‘My mense is die kluts kwyt (is groot) op die US Woordfees. (Foto: www.woordfees.co.za)

Sy vertel dat hulle reeds in Desember en Januarie begin repeteer het aan My mense is die kluts kwyt (is groot), aangesien Pretorius, Oelofse en Binge ook by ander produksies op die US Woordfees betrokke is.

“Ons sien mekaar een keer per week om ons woorde deur te trap. Ons drink liters koffie en lag lekker saam, omdat die stuk ook ons eie tipe sin vir humor is.”

My mense is die kluts kwyt (is groot) is op 6, 11, 14 en 15 Maart te sien in die Drostdy-teater op die US Woordfees. Kaartjies kos tussen R130 en R150 op Computicket en R170 by die deur.

Die produksie is ook te sien op 23, 24, 25, 26 en 27 Maart te sien in die ATKV-Griesselsaal op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae