ʼn Dekade van teater vir Kosie House of Theatre

Liewe Heksie. Foto: Verskaf

Liewe Heksie. Foto: Verskaf

Teaterliefhebbers gaan die geleentheid hê om vanjaar se koue af te skud met ’n seisoen propvol verhoogproduksies in Pieter Toerien se Studio-teater by Montecasino in Fourways in Johannesburg.

Die vervaardiger Kosie Smit, bekend vir sy bydrae tot die Afrikaanse teaterbedryf, staan aan die spits van die seisoen wat ook as viering dien van Kosie House of Theatre se tiende bestaansjaar.

Verskeie produksies soos Altyd in my drome, Die Kaap is weer HOLMS, Oskar en die pienk tannie, Dop, en Liewe Heksie is later vanjaar te sien in dié teater.

Die eerste speelvak van Montecasino se Afrikaanse seisoen skop af met Altyd in my drome op 5 Julie. Dit is enersyds ’n nostalgiese terugflits na die komieklike spelpaar Al Debbo en Frederik Burgers, en andersyds ’n verwerking van ’n klassieke silwerdoektreffer deur Pierre de Wet.

Dié 1952-musiekblyspel het bioskope destyds volgepak en vertel die verhaal van ’n sukkelende komponis, sy vriend, ’n mooi sangeres en ’n kwaai agent wat aandring op vars musiek vir ’n nuwe musiekpel.

Op 6 September is Suid-Afrika se doyenne van die verhoog, Sandra Prinsloo, te sien in die produksie Oskar en die pienk tannie.

Die Kaap is weer HOLMS. Foto: Verskaf

Die Kaap is weer HOLMS. Foto: Verskaf

Dié stuk het voorheen besonder positiewe resensies ontvang. “Elke nou en dan, min of meer een maal per jaar, is daar ’n teaterstuk wat ’n mens nie durf misloop nie. Die soort teaterbelewenis wat by jou steelkant verbyglip en jou totaal ontredder. Wat nie talm of trane trek nie. Wat jou vinnig twee keer laat kyk, vinnig oor jou skouer laat kyk. Wat jou oorrompel met ’n verpletterende besef van die fragiliteit en vlugtigheid van die lewe, van die kosbaarheid van oomblikke. Só ’n stuk is Oskar en die pienk tannie,” het ʼn resensent dié stuk beskryf.

Dié produksie is ook bekroon met die KKNK Kanna-toekenning vir beste produksie, regie, en toneelspel, onder andere vir Prinsloo se meesterlike vertolking natuurlik.

“Met verloop van tyd het enkelproduksies oor die jare aangegroei tot meer as een, en nou word ’n volle seisoen by Montecasino aangebied. Daar is, sonder twyfel, nie ’n beter manier om die House of Theatre se “Dekade van Teater” te vier nie,” het Smit gesê.

Besoek Kosie House of Theatre se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.