‘Nêrens, Noord-Kaap’ se susterproduksie weer op die planke

Cintaine Schutte, Antoinette Louw en Milan Murray in ‘Amper, Vrystaat’. (Foto: verskaf)

Die susterproduksie van die immergewilde Nêrens, Noord-Kaap, Amper, Vrystaat, is vandeesmaand weer op die planke van Die Boer-teater in Durbanville.

Antoinette Louw, Milan Murray en Cintaine Schutte keer van 21 tot 23 Julie ná jare na hul geliefde karakters terug om die storie nuwe lewe te gee.

Die bekroonde verhoogstuk, Amper, Vrystaat, wat ook deur Nêrens, Noord-Kaap se skrywer, Nico Scheepers, geskryf is, handel oor drie vervreemde susters wat mekaar tydens ’n familiekrisis weer vind.

“Elkeen van die susters het ’n geheim en ’n masker wat hulle dra, soos wat meeste mense maar doen. Hierdie geheime wat hulle dra vervreem hulle nie net van mekaar nie, maar ook van die wêreld rondom hulle,” het Louw aan Maroela Media vertel.

Die produksie, wat hoofsaaklik uit monoloë bestaan, plaas klem op die belangrikheid dat mense weer bymekaar uit moet kom en weg moet tree van eensaamheid en isolasie.

Amper, Vrystaat word in ’n soortgelyke styl as Nêrens, Noord-Kaap, wat aanvanklik ook ’n verhoogstuk was voordat dit ’n gewilde kykNET-reeks geword het, aangepak.

“As ʼn mens kyk na die formaat van die twee produksies, is dit basies dieselfde. Nico Scheepers het die regie vir albei produksies behartig so die gevoel is ook dieselfde.”

Louw hoop dat daar binnekort ’n reeksweergawe van Amper, Vrystaat gemaak sal word.

Hoewel Scheepers die skrywerspen tydens die konseptualisering van die produksie vasgehou het, het al drie aktrises tot die gestalte van die verhaal bygedra.

Die pad wat Amper, Vrystaat al gestap het, was lank en lekker. Louw het Scheepers jare gelede tydens die ATKV-tienertoneelkompetisie ontmoet toe Louw ’n beoordelaar was en Scheepers die skrywer van een van die toneelstukke.

“Ek het na daardie produksie gekyk en ek het so gehuil. Ek was weggeblaas deur Nico se talent. Ek het na die tyd na hom toe gegaan en vir hom gesê dat ek saam met hom móét werk.”

Murray en Schutte het deel geword van die projek en so het die produksie sy begin gevind. Hoewel hulle die projek met passie aangepak het, moes hulle sente omdraai om die produksie op die verhoog te kry.

“Ons het letterlik klippe gaan optel vir ons stel. Die gloeilampe was ons grootste uitgawe. Ons het nie eens geweet of dit gaan werk nie, dit was verskriklik stresvol.”

Die Vrystaat Kunstefees lê Louw na aan die hart, aangesien sy aan die universiteit daar studeer het. Dit is juis hier waar die produksie vir die heel eerste keer in 2016 op die planke te sien was.

Sedert daardie eerste opvoering het die toneelstuk van krag tot krag gegaan en het reeds in 2016 vyf Fiësta-benoemings ontvang.

Nou het die akteursgroep egter besluit om die produksie weer van die rak af te haal en dit af te stof vir ʼn nog ʼn speelvlak.

Louw vertel dat elkeen van die aktrises se individuele groei tydens die afgelope paar jaar sonder twyfel ’n invloed gehad het op hoe hulle hul karakters verstaan en vertolk.

“Die produksie het vir drie of vier jaar gelê. Toe ons hom weer doen, het ek goed van die karakter ontdek wat vir my so ooglopend was dat ek nie geglo het dat ek dit nie met die eerste stel opvoerings raakgesien het nie.”

Vir Louw is die storie van Amper, Vrystaat een wat oor 20 jaar nog ’n hartsnaar of twee sal roer.

  • Kaartjies vir Amper, Vrystaat kan hier aangeskaf word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.