Nuusneuse, sakemanne maak moles in ‘Briekaandraai 2’

Van die stemme agter Briekaandraai 2. Van links na regs is: Marius Vermaak, Izel Bezuidenhout, Ria Smit, Mari Molefe van Heerden, Helena Hettema, Stefan Vermaak, Bettie Kemp, Antowan Nothling, Leon van Nierop, Su-An Müller-Marais en Luan Jacobs. (Foto: Maroela Media)

In die jongste aflewering van die Maroela Media-radiodrama Briekaandraai 2 word daar nie geskroom om die Covid-19-pandemie en die uitwerking daarvan op die inwoners van die fiktiewe dorp Porseleinberg uit te beeld nie.

Tog bly dit ʼn lekkerluister-ervaring en is die intriges van die inwoners van dié plattelandse dorp opwindend en uniek. Waar alles vir ʼn tydperk bedrieglik rustig en bedaard was op Porseleinberg, val ou geraamtes nou in die nuwe seisoen uit die kas en dit bedreig die hele dorp se bestaan.

Die gesoute radiodramavervaardiger en regisseur Bettie Kemp staan soos met die vorige seisoen aan die stuur van sake. Die 120 episodes van die nuwe seisoen is deur Leon van Nierop geskryf.

Briekaandraai 2 is teen ʼn spoed deur Marius Vermaak van Maroela Media opgeneem en geredigeer.

“Ons het geweet die derde vlaag van Covid-19 is op pad en ons het besluit om teen ʼn ongelooflike spoed voort te gaan,” vertel Kemp aan Maroela Media.

“Ek het baie druk op Leon geplaas om die tekste klaar te skryf, want ons kan niks daarsonder doen nie. Hy het 15 episodes in 10 dae geskryf en het uiteindelik 120 episodes voltooi. Ek het die akteurs weke voor die tyd gereed gekry en seker gemaak al die nodige Covid-19-protokol is ingestel.”

Hoewel die tegniese naproduksie ook blitsvinnig afgehandel is, glo Kemp nie daaraan dat gehalte ingeboet kan word nie.

Marius Vermaak en Bettie Kemp luister terwyl Luan Jacobs en Stefan Vermaak hulle onderskeie rolle opneem. (Foto: Maroela Media)

“Die radiodrama behoort in enige seisoen uitgesaai te kan word en mense moet kan sê dit is ʼn goeie produk en ʼn lekkerluister-storie,” benadruk sy.

“Dit is vir ons ʼn prestasie dat ons dit in die Covid-19-tydperk kon uitrig. Dit was belangrik dat ons harder moes werk en ons tyd beter bestuur. Ons het minder koffie gedrink en meer gewerk, maar beslis tyd gemaak vir ʼn koppie boeretroos.”

Die liefde is ʼn sterk tema in Briekaandraai 2. Elfra, vertolk deur Kemp, is adjunkredakteur van die gemeenskapskoerant Die Windhond. Sy en Otto Marais (Anton Dekker), redakteur van die koerant, is in ʼn ou liefdesverhouding gewikkel wat tans as’t ware op ys is, maar tog kort-kort weer opvlam.

Slaptjip (Antowan Nothling), die dorp se gewilde nutsman, se liefdeslewe word ook gruwelik deurmekaargekrap wanneer Phoebe (Mari Molefe van Heerden) uiteindelik haar opwagting maak.

Slaptjip en Phoebe, ʼn nuwe karakter in die verhaal, ken mekaar reeds goed aangesien hulle maande lank ʼn internetverhouding gehad het. Die twee het egter die skoot hoog deur wanneer hulle uiteindelik ontmoet, maar Phoebe se betrokkenheid by Wolfgang Jordaan se nuwe Super City veroorsaak spanning tussen die verliefde duifies.

Die selfvoldane entrepreneur Wolfgang (Stefan Vermaak) stuur ʼn projek van stapel om ʼn vermaaklikheidstad te bou wat hy Super City noem. Die projek is uiteraard vol kinkels en uitdagings en vir die eerste keer kan die mense van die rustige, fiktiewe plattelandse dorpie Porseleinberg dobbel.

Kupido se boog skiet vir tannie Dottie (Ria Smit) van die tuisnywerheid ook raak wanneer oom Corrie Coetzee met sy boepens ʼn wassery, Tuimel Tricks, oorkant haar winkel oopmaak.

Leon van Nierop en Bettie Kemp. (Foto: Maroela Media)

Tannie Dottie, wat bekend is vir haar heerlike tuisgebak, weet dat die pad na ʼn man se hart deur sy maag loop. Sy los gereeld vir hom koeke en ander snuisterye op die stoep voor sy deur – meestal met skreeusnaakse nagevolge. Oom Corrie is egter salig onbewus van die flikkers wat tannie Dottie vir hom gooi.

Helena Hettema, wat die rol van Melissa vertolk, se kabaretstem sal te hoor wees wanneer Melissa begin uitvoerings doen om klante na die Padkafee te lok. Sy word die bestuurder van die Padkafee omdat haar Briekaandraai-gastehuis weens die pandemie swaar kry.

Luan Jacobs as Wessel Vorster, Izel Bezuidenhout as Corlia Lemmer en Su-An Müller-Marais as Lana Pretorius is ook in die rolverdeling te hoor.

Al die geliefde karakters van die vorige seisoen keer weer terug en dié diverse groep lok luisteraars van alle ouderdomme, sê Kemp.

“Jy hoef glad nie eens na die eerste seisoen te luister om die tweede seisoen te kan geniet nie. Ek en die skrywer bestee altyd baie tyd daaraan om elke storie en karakter opnuut aan die luisteraar bekend te stel.”

Daar is elke weeksdag ʼn nuwe episode beskikbaar om na te luister. Luister Briekaandraai 2 se episodes net hier op Maroela Media of op een van die gemeenskapsradiostasies wat die drama uitsaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.