Nuwe grotman, nuwe grappe

Wynand van Vollenstee vertolk die grot man. (Foto: Verskaf)

Wynand van Vollenstee, wat bekend is vir sy rolle in Karate Kallie, Ouboet en Wors, en Platteland, sal eersdaags die leisels neem in Lefra Produksies se jongste Groet die Grotman-produksie, wat “huweliksberading op ʼn komiese wyse uitdeel”.

In die nuutste weergawe van die Grotman, wat 20 jaar gelede deur Hannes Muller vertolk is en die land se planke aan die brand getoer het, kyk die storielyn opnuut na die verhoudings tussen mans en vrouens en hoe die twee geslagte van mekaar verskil.

“Vrouens is steeds die gaarders, veral van nuttelose inligting, en mans steeds die jagters – van ʼn bok tot ʼn televisieprogram. Mense kan vir mekaar lag in Groet die Grotman 2 en dit is juis wat hierdie produksie so gewild en sterk maak,” sê Frans Swart, Grotman se regisseur.

Die oorspronklike Groet die Grotman hou steeds die rekord vir die Afrikaanse teaterproduksie wat die meeste vertonings oor die langste tydperk gehad het – meer as 1 000 vertonings oor tien jaar.

Swart, wat al as die klugkoning van Suid-Afrika bestempel is, het die nuwe teks geskryf wat splinternuwe aksies tot gevolg het. “Natuurlik moet ons by die teks hou, maar met Wynand as die grotman weet mens nooit nie. Hy is ʼn briljante akteur en lees elke aand die gehoor en pas ook sekere tonele aan om by die gehoor aan te pas.”

Van Vollenstee het ook in ander Lefra-klugte opgetree, insluitend My Vrou se Man se Vrou. “Sy komiese tydsberekening is perfek en hy het die vermoë om enige karakter ongelooflik goed te vertolk,” sê Swart.

Groet die Grotman 2 is vanaf 10 tot 13 Oktober by die Mardi Gras-teater by Carnival City op die planke, en toer daarna oral in die land.

Lesers kan gerus die Groet die Grotman 2-webwerf besoek vir meer inligting en om kaartjies te bespreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

? ·

Waar is ons kommentaar? Sal ons dit dan maar op Facebook plaas, waar daar meer lesers is? Ek het kaaryjies gekoop vir Grotman, maar ek sê weer. Ons Afrikaanse verhoog het NIE laster of vloek nodig nie. Hoop nie dit is die geval wanneer ons dit die naweek gaan kyk nie.
Hoop dat my kommentaar nou geplaas gaan word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.