Nuwe pantomime met Leah, Reynardt Hugo op pad

Leah en Reynardt Hugo is te sien in die nuwe pantomime ‘Doringrosie: Die slapende skone’.

Teaterliefhebbers kan hul tande slyp vir Doringrosie: Die slapende skone, die nuwe pantomime wat eersdaags in die Staatsteater in Pretoria op die planke gaan wees.

Leah, die sangeres en voormalige aanbieder van die gewilde kykNET-maatsoekprogram Boer soek ʼn vrou, sal in die rol van Doringrosie, of te wel prinses Aurora, te sien wees. Reynardt Hugo, bekend vir sy rol as dr. Tertius Jonker in die sepie Binnelanders, sal te sien wees as die heldhaftige prins Aalwyn.

Hugo het onlangs sy debuutsolo-enkelsnit, “Die rivier”, uitgereik.

Die pantomime vertel die klassieke verhaal van prinses Aurora, die slapende skone. Op die aand van haar 18de verjaardag prik die beeldskone prinses haar vinger op ʼn spinwiel en sak weg in ʼn betowerende diep slaap. Is dit die einde, of sal die soen van die aantreklike prins haar laat ontwaak?

Gospelsanger Lois du Plessis is die bella donna teenoor Je-Ani Swiegelaar, wat die rol van die moederlike koningin Appelliefie vertolk. Zak Hendrikz is te sien as die vlymskerp Feëtjie Vygie Fynbos en die komediant Hannes Brümmer vertolk die rol van Feëtjie Kruidjie-Roer-My-Nie.

Neels Clasen behartig die regie. Hy was ook verantwoordelik vir die regie van die pantomime Aspoestertjie wat verlede jaar te sien was in die Staatsteater. Wessel Odendaal is die musiekregisseur.

Lois du Plessis en Leah is te sien in die nuwe pantomime ‘Doringrosie: Die slapende skone’.

Doringrosie word vervaardig onder die vaandel van die Suid-Afrikaanse Staatsteater in samewerking met Add-Life Productions, wat sedert 2007 bekendheid verwerf het vir keurige, oorspronklike Afrikaanse produksies soos Houtkruis, Ester, Dawid, Liefling, Droomkind, Aspoestertjie en Sneeuwitjie.

Doringrosie is ʼn opwindende avontuur met iets vir almal: kwinkslag-humor vir die ouers, vervleg met die mooiste sprokieselemente vir die kinders.

Die speelvak van Doringrosie: Die slapende skone duur van 26 Junie tot 19 Julie, met aanbiedings om 11:00 en 15:00 op Saterdae en Sondae, sowel as 11:00 op Vrydae. Kaartjies kos tussen R176 en R300 by Webtickets (https://www.webtickets.co.za/v2/Event.aspx?itemid=1499711886) of by enige Pick n Pay-supermark. Vir groepbesprekings en fantastiese skoolpakkette kontak Noah Moloatsi by 012 392 4037 of 012 392 4000, of stuur e-pos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.