Onwettige kaartjies vir SA-musiekblyspel verkoop

Brendan Peyper as Buddy Holly (Foto: Verskaf)

Lefra Produksies, vervaardiger van die musiekspel Buddy – The Buddy Holly Story wat tans by Emperors Palace te sien is, het agtergekom dat daar onwettig kaartjies vir dié vertoning aan die publiek verkoop word.

Frans Swart, besturende direkteur van Lefra Produksies, het gesê slegs Computicket is gemagtig om kaartjies vir Buddy te verkoop.

Volgens ʼn verklaring van Lefra Produksies is kaartjies vir Buddy ten duurste deur middel van die webtuiste www.viagogo.co.za aan teatergangers verkoop.

Hennie van Niekerk, ʼn teaterganger, het gesê hy het ses kaartjies op die webtuiste bespreek. “Ek is aanvanklik R707 op die Viagogo-webtuiste gekwoteer en toe het R4 196 van my kredietkaart afgegaan,” het Van Niekerk gesê.

“Dit is werklik ’n klomp geld vir teaterkaartjies en ek was sommer baie boos nadat Lefra Produksies vir my uitgewys het dat ek R150-kaartjies gekoop het teen ongeveer R700!  Gelukkig het ons Buddy baie geniet!”

Swart het gesê dat Lefra besef het dat iets fout is toe Van Niekerk se kaartjies ’n heel ander naam gehad het as die gewone kaartjies.

“Ons het agtergekom Viagogo het vir hom ons R150-kaartjies bespreek en hom R699.33 daarvoor aangeslaan. Dit is werklik belaglik om vir ʼn R150 kaartjie amper R700 te betaal. Hulle maak dus R550 onwettige wins per kaartjie. Dit is totaal onwettig om ’n kaartjie te herverkoop. Die ironie van die saak is dat Lefra se duurste kaartjie vir Buddy (deur Computicket) maar net R490 per kaartjie is, omdat ons dit so bekostigbaar as moontlik vir teatergangers probeer maak,” het Swart gesê.

Brendan Peyper as Buddy Holly (Foto: Verskaf)

Henk Dippenaar het ook in die slaggat getrap. “Ons het twee kaartjies bespreek en moes R2 135 daarvoor opdok! Dus R1 067,50 per kaartjie,” het hy gesê. By nadere ondersoek van Lefra Produksies het dit geblyk dat dít ook R150-kaartjies was wat vir R1 067 verkoop is.

Swart het gesê dat die publiek glad nie Buddy-kaartjies op www.viagogo.co.za moet koop nie.

“Ons kaartjies wissel van R150 tot R490. Ons het ook spesiale aanbiedinge soos afslag vir gesinne, groepe, pensioenarisse sowel as aandete met die produksie-kombinasie.  Net Computicket is gemagtig om Buddy-kaartjies te verkoop en die publiek moet werklik katvoet wees vir webtuistes soos Viagogo,” het Swart gesê.

Hy het gesê dat Buddy tans baie goed vaar. “Ek dink juis dit is daarom dat die ouens ons geïdentifiseer het. Ons moes reeds twee ekstra vertonings skeduleer op Sondae om 11:00 om in die aanvraag vir ekstra kaartjies te voldoen. Dit maak ons egter woedend as mense sulke bedrog pleeg om ons kaartjies ten duurste te herverkoop.”

Lefra Produksies beveel enige teatergangers wat kaartjies by www.viagogo.co.za gekoop het aan om onmiddellik die transaksies by hulle kredietkaartafdelings te stop en dit aan te gee as bedrogtransaksies en dan eerder kaartjies direk by Computicket te koop.

Die Britse sanger Ed Sheeran is ook besig om die internasionale webtuiste www.viagogo.com aan te vat nadat Viagogo kaartjies vir sy konsert in Londen, Hampden en Manchester herverkoop het.  Dít nadat dit baie duidelik gemaak is dat niemand toegelaat sal word om Ed Sheeran-kaartjies te herverkoop nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Neel ·

Nee maar kyk as jy deur sulke sites wil koop, moet jy maar jou les leer of hoe, dis gewoonlik dieselfde mense wat HINEWS en sulke sites se nuus “share”

tish ·

ja nee as jy nie kan sien jy betaal deur jou nek nie moet jy maar op die harde manier leer

Dawie ·

Eks n groot aanhanger van die 50’s se musiek. Sou so graag wou he Buddy moes in PE aangebied word.

Gevang ·

Ek is self gevang deur hulle maar met ‘n show oorsee. Ongelukkig is jy ver en moet maar glo wat jy sien. Darem net dubbeld betaal as by die deur in Duitsland.

LJ ·

Al is jy ver, kan jy duidelik sien. Jy kan op die venue se sites of die show se sites gaan en kyk wie die amptelikke tickets sellers is. As jy Loftus toe gaan, kan jy op hul site gaan kyk, as jy Moulin Rouge toe gaan, kan jy gaan kyk wie verkoop. Distance is geen verskoning nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.