Parel Vallei kraai koning in tienertoneelkompetisie

Hoërskool Parel Vallei van Somerset-Wes is die nasionale wenner van vanjaar se ATKV-Tienertoneelkompetisie met die produksie ‘Hansie Slim’. (Foto: Nardus Engelbrecht)

Hoërskool Parel Vallei van Somerset-Wes is die nasionale wenner van vanjaar se ATKV-Tienertoneelkompetisie met die produksie Hansie Slim. Hulle ontvang R30 000 prysgeld en die ATKV-Tienertoneelwisseltrofee.

Hoërskool Bellville is as die naaswenner aangewys en ontvang R20 000 prysgeld vir ʼn Onwaarskynlike reeks skynbaar onverwante oomblikke of Dinsdag. Hoërskool Jan van Riebeeck se Om teen treine te skree het in die derde plek geëindig en die produksie ontvang R10 000 prysgeld. Benewens hierdie kontantpryse kry die drie topproduksies ook volgende jaar ʼn speelvak op die Suidoosterfees.

Meer as 1 500 passievolle tieners van regoor Suid-Afrika het vanjaar aan die ATKV-Tienertoneelkompetisie deelgeneem. Die tien topproduksies, insluitend die eerste twee produksies in die slegs-leerderskategorie, het van 6 tot 9 Oktober meegeding in die eindronde wat by Kunstekaap in Kaapstad plaasgevind het. Bernice West, ook ʼn  produk van ATKV-Tienertoneel, het die vermaak verskaf.

ʼn Swaargewig beoordelaarspaneel moes behoorlik kopkrap om die wenners van dié gesogte tienertoneelkompetisie aan te wys danksy dapper tieners wat met hul passie die verhoog aan die brand gespeel het.

Jacques Bessenger, Amalia Uys, Marlo Minnaar, dr. André Gerber, Zenobia Kloppers en Wilhelm van der Walt was op die paneel en hulle is dit eens dat die tien topproduksies kreatiewe baanbrekerswerk is. Die paneel sê verder dat daar ʼn blink toekoms vir plaaslike teater voorlê met sulke talent en innovering.

Die beste jong toneeltalent is tydens ʼn spogprysuitdeling op 9 Oktober aangewys. Hier volg ʼn volledige lys met wenners in vanjaar se ATKV-Tienertoneelkompetisie:

  • Beste verhoogbestuurder: Jalena Jerling van Hoërskool Parel Vallei met Dors
  • Beste klankoperateur: Rickus Lombard van Kuswag Skool met Thomas vermoor: Die toneelstuk
  • Beste beligtingsoperateur: Leandre Strydom van Hoërskool Eldoraigne met Dubbelsinnig!
  • Beste hantering van tegniese aspekte: Hoërskool Parel Vallei met Hansie Slim
  • Mees belowende spel in ’n rol: Elzaan Daniels as Mercy in Om teen treine te skree van Hoërskool Jan van Riebeeck
  • Beste akteur in ’n ondersteunende rol: Darren Cloete as David in Om teen treine te skree van Hoërskool Jan van Riebeeck
  • Beste aktrise in ’n ondersteunende rol: Lucy Groenewald as Mariki in Vierdoop van Eunice High School
  • Beste akteur in ’n hoofrol: Jurie Boshoff as George in Vrou van Hoërskool Hugenote Springs
  • Beste aktrise in ’n hoofrol: Alma van Heerden as Ass in Thomas vermoor: Die toneelstuk van Kuswag Skool.
  • Die beoordelaarsprys is vanjaar toegeken aan ’n individu wat veelsydigheid van teaterelemente getoon het in die vorm van spel, dans, sang, musiekregie en choreografie. Dit is toegeken aan June Kruger van Hoërskool Parel Vallei vir haar veelsydige prestasie in die produksies Dors en Hansie Slim
  • Beste ensemblewerk: Hoërskool Parel Vallei met Hansie Slim
  • Beste regisseur: Wikus Zerwick van Hoërskool Bellville met ’n Onwaarskynlike reeks skynbaar onverwante oomblikke of Dinsdag
  • Beste media-en-bemarkingsportefeulje tydens die ATKV-Tienertoneelkompetisie vir 2021, wat ‘n kontantprys van R5 000 ontvang: Hoërskool Parel Vallei vir uitnemende en volgehoue bemarking van die produksies Hansie Slim, Dors en Verkleurmannetjie.
  • Beste slegs-leerdersproduksie, wat ʼn kontantprys van R10 000 ontvang: Hoërskool Eldoraigne met Dubbelsinnig!

Klik hier om die volledige prysuitdeling aanlyn te kyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
AW

Wat ń Belewenis en Ondervinding vir elk van hulle