Pendoring 2012: Makietie in Kaapstad

Bittereinder

Alle paaie gaan in September na Kaapstad lei vir die reklame-fees der feeste: Pendoring se heel eerste bekroningsaand in die Moederstad sedert dié reklametoekennings se ontstaan 18 jaar gelede!

Dié spoggeleentheid op Vrydag, 21 September in die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum (KIKS/CTICC) val saam met Creative Week Cape Town, waar kreatiwiteit in sy vele monderings ten toon gestel en gevier gaan word, en dit sal gevolg word deur die twee Loerie-bekroningsaande op Saterdag en Sondag, 22 en 23 September.

Na verwagting gaan skeppendes en verteenwoordigers van die reklame-, bemarkings- en mediabedryf in groot getalle op Kaapstad toesak om dié weeklange skeppende bonanza by te woon.

“G’n moeite word dus ontsien om Pendoring se buiging in Kaapstad ’n onvergeetlike opskop te maak en Kaapstad tot in sy fondamente te skud nie,” sê Pendoring-hoofbestuurder, Franette Klerck.

Meer pryse vir die wenners is ook vanjaar in die vooruitsig: benewens die gebruiklike R6 000 kontant, Pendoring-trofee en geraamde sertifikaat vir elke goue kategoriewenner en oorsese studiereis van R50 000 vir die wenner van die Prestige-toekenning, kry die algehele wenner in die kategorie Eg Suid-Afrikaans vanjaar ook ’n vet kontantprys van R20 000.

Daarbenewens kry die wenner van ‘n goue Pendoring in die radiokategorie R75 000 se handelslugtyd van OFM, mits die bekroonde advertensie op OFM geskeduleer was. In die geval van meer as een wenner, kry elke wenner handelslugtyd ter waarde van R50 000 van OFM, mits die bekroonde advertensies op OFM geskeduleer was.

En boonop kry die adverteerder van die ontvanger van die Prestige-toekenning gratis lugtyd en advertensieruimte van meer as R2 miljoen van deelnemende Pendoring-vennote.

Behalwe dat die room van Afrikaanse en Suid-Afrikaanse reklame tydens die gala-geleentheid bekroon word, gaan gewilde kunstenaars en groepe soos Afrikaaps, Bittereinder, Jack Parow, Sterling EQ en Tumi Molekane vir meer vuurwarm vermaak as óóit sorg, sê Klerck.

Die sjarmante Elma Smit, gewilde MK-aanbieder en 5FM platejoggie, en die nimlike TV-persoonlikheid en -aanbieder Soli Philander is ook vanjaar weer op die verhoog as seremoniemeester, wat  die verrigtinge ekstra vonk gaan gee, voeg sy by.

Soos in die verlede, gaan gaste ook getrakteer word op verwelkomingsdrankies, ’n vyfster-maaltyd van fynproewergeregte uit die boonste rakke en propvol geskenksakke (van Pendoring-borge en –vennote) wat vanjaar deur eNuus geborg word.

Pendoring se immergewilde “afterparty” by The Assembly –  geborg deur MK – is ook weer op die program sodat daar tot laatnag gekuier en gevier kan word dat die biesies bewe.

“In pas met vanjaar se Pendoring-veldtogtema, ‘Vat Oor’, gaan daar boonop ’n hele paar verrassingselemente wees wat groot byval by die gehoor behoort te vind en die aand in hul geheue sal verewig. Kortom, Pendoring se bekroningsaand in Kaapstad moet nie net onthou word as dié toonvenster van voortreflike Afrikaanse en eg Suid-Afrikaanse reklame nie, maar ook van onoortreflike vermaak,” beklemtoon Klerck.

Klik hier om kaartjies na die geleentheid te bespreek. Allerhande reis- en verblyfvoordele is ook beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.