‘Plesierengel’, ’n storie van eensaamheid, weerloosheid

Die viermanskap agter die verhoogproduksie “Plesierengel” vergader by Leon se huis in Hazyview in Desember 2021. (Foto verskaf)

ʼn Kwarteeu gelede het ʼn jong man by Leon van Nierop aangeklop om sy besondere lewensverhaal neer te pen. Dit was nie sommer enige verhaal nie: die karakter was ʼn manlike prostituut en die rede waarom hy dié beroep gekies het, het baie kinkels, skryf Maryke Roberts.

Hoekom is dit nou weer relevant? Want hoewel Tristan Hansen se verhaal drie topverkopers inspireer het, is dit nou terug as eenmanverhoogstuk, Plesierengel, wat binnekort by die Centurion-teater in Lyttelton Manor, Centurion debuteer. Dit is ook die produksie van ʼn splinternuwe produksiehuis, Leftfoot Theatre Productions, bestaande uit Johan van der Merwe, Lihan Pretorius, Ignatius van Heerden en Marie-Heleen Coetzee.

Leon van Nierop het natuurlik geen bekendstelling nodig as roman-, radioverhaal- of televisiereeks-skrywer nie. Dink maar net aan Wolwedans in die Skemer en Ballade vir ʼn enkeling. Dis ook sy tweede verhoogstuk ná Girly se konstitusionele kwellings met Elize Cawood.

“Perskor Uitgewers het my destyds dadelik opdrag gegee om Tristan se verhaal neer te pen. Daar was groot debattering oor wat in- en uitgelaat moet word,” onthou Leon.

Ruan Wessels vertolk die rol van Tristan in “Plesierengel”. (Foto verskaf)

Hy moes enkele tonele self uitdink en versag vir die tyd waarin dit die eerste keer geskryf is. In 1997 was daar warm gesprekke rondom prostitusie wat moontlik gewettig sou word, en daarom was die eerste roman tydig en het dit daardie aspek aangespreek. Die wet is toe nie verander nie, en daarom was die verhaal des te meer aktueel.

Die Plesierengel verskyn in 1998. In 2015 verskyn Plesierengel in ʼn meer moderne

en realistiese gedaante by Tafelberg Uitgewers, om verder en meer volledig uit te brei op ander ervarings wat Tristan gehad het wat destyds te omstrede was om in die eerste roman in te sluit.

Twee jaar later, op aanbeveling van Penguin Random House, skryf Leon ʼn voorloper van die verhaal getiteld Katelknaap, in Engels vertaal as Toyboy.

In hierdie roman is daar meer oor Tristan se kinderlewe geskryf en hoe hy gaandeweg vrede begin maak het met die werk waarin hy gedwing is. Leon het lang gesprekke met Penguin Randon House se uitgewers en redigeerders gevoer en is aangeraai om selfs nog meer vreesloos te skryf oor ander insidente wat destyds met Tristan gebeur het, veral toe hy baie versigtig en teësinnig as prostituut begin het. Die seksuele het egter nie so ʼn prominente rol in Katelknaap gespeel nie. Eerder hoe hy sy kliënte ervaar het en die geweldige eensaamheid waarvan hy by sekere vroue bewus geword het.

“Interessant”, onthou Leon. “Iemand het eendag ʼn lang onderhoud met my oor Katelknaap gevoer, maar suiwer op die enkele sekstonele gekonsentreer, terwyl 75% van die boek geen eksplisiete seks bevat het nie. Dit het probeer om Tristan se innerlike landskap as mens te ontgin. Dit was vir my interessant dat daardie tonele nie vir die vraesteller so relevant was as die enkele seksoomblikke nie.”

Leon en Ruan met repetisies. (Foto verskaf)

Die boeke, veral die eerste, het ʼn klein sensasie veroorsaak omdat daar soveel verrassingselemente in was, en dit nie suiwer erotiese eksploitasie was nie. Nog minder ʼn uitgebreide hygroman. Dié slag is daar ook volledig verduidelik hoe Tristan sy eerste liefde ontdek en ervaar het. Ook hoe dié meisie hom werklik geleer het dat romanse veel belangriker as blote seks was.

In 2021 staan daar toe weer mense voor Leon se deur: dié keer die bekroonde teatervervaardiger Johan van der Merwe, die regisseur Lihan Pretorius en die akteur Ruan Wessels. Hulle kom met ʼn nuwe uitdaging: skryf die storie weer, maar dié slag as ʼn eenmanverhoogstuk waarin die teks konsentreer op nie net die tragiek van die karakter en sy lot nie, maar unieke insidente, en sy verhoudings en besoeke aan vroue wat nog nie tevore in die romans vertel is nie. Nie alle besoeke aan vroue was seksueel nie.

Enkele nuwe ervarings word ook nou vir die eerste keer in die verhoogstuk ingesluit, alhoewel sommiges tog uit die drie romans geneem is en aangepas is na gesprekke en aanbevelings deur Johan, Lihan en Ruan. Leon het homself ook hier deur hulle laat lei oor wat op die verhoog sou werk en wat nie. Vandaar ook die nuwe tonele.

Leon vertel: “Ek het notas gemaak oor wat Tristan my destyds vertel het, maar omdat hy Engels was, moes ek dele van die roman vir hom in Engels vertel. Tristan het toe meer volledig begin uitbrei en het later bygesit terwyl ek in 1997 veranderings moes aanbring om die waarheid korrek te weerspieël.

“Notas het dus later weggeval omdat Tristan se vertellings direk neergepen is soos hy dit sit en vertel het, veral een baie interessant foonoproep waarop ek ingeluister het. Die verhoogstuk kom nou nader aan daardie direkte vertellings in 1997, want Tristan praat nou openhartig met die gehoor, soos hy destyds met my het, oor wat hy ervaar het,” vertel Leon.

Lihan Pretorius is die regisseur van “Plesierengel”. (Foto verskaf)

Lihan, self ʼn bekroonde regisseur, vertel dat die drama op die waarheid gegrond is (sekere name, ook Tristan Hansen s’n, is verander), en ondersoek eensaamheid, weerloosheid, desperaatheid, behoeftes en die reuse- en onverwagse wendings wat Tristan se verhaal geneem het.

Die vervaardiger van Plesierengel, Johan, sê hy het al drie boeke deur die jare gelees en dit het ʼn blywende indruk op hom gelaat. Toe hy Leon een middag vier jaar terug raakloop, het hy gevra hoekom hy nie iets vir hulle vir die verhoog skryf nie en Plesierengel is geopper.

Covid gebeur en ander faktore speel ʼn rol en die tyd stap aan. Intussen vra Ruan vir Johan en Lihan vir ʼn eenmanverhoogstuk om van sy onskuldige skoolseun-beeld ontslae te raak. Dit was ʼn maklike sommetjie vir Johan en Lihan.

Johan vertel: “Ons het vir Leon gevra om spesifiek te konsentreer op die mens, Tristan, en wat hom gedryf het om die beroep te kies. Veral op sy grootwordjare en sy verhouding met sy ouers. Tristan is ʼn tragiese figuur en op die ou einde gaan Plesierengel oor vergifnis en die invloed wat ouers het op hulle kinders se grootwordjare.”

Hy sê die aanvanklike uitdaging was die verwerking van roman na teaterteks. “Omdat ek, Leon en Lihan mekaar so goed geken het, kon ons eerlik en openlik met mekaar praat en was dit op die ou einde ʼn heerlike proses. Veral die naweek waar ek Lihan, Leon en Ruan in Hazyview by Leon se huis bymekaar gekom het en in diepte oor die teks kon praat en ʼn paar dae daarna die finale teks in hand kon hê.”

Hoewel lesers vir Ruan ken vir sy rolle in die TV-sepie Binnelanders, TV-reekse Erfsondes, Ekstra Medium, Spoorloos en G.I.L. en verskeie verhoogrolle en rolprente, is hy nou te sien soos nog nooit tevore nie. Hy het ure in die gimnasium deurgebring en ook ʼn spesiale dieet gevolg om sy liggaam vir die rol voor te berei.

Johan sê behalwe dat Ruan kom aanmeld het vir ʼn rol, het hy hom in ander stukke gesien en kon hy dadelik sien dat hy ʼn besondere goeie akteur is. “Leon het aanvanklik gedink hy is te jonk vir die rol, maar  Ruan het hom kom besoek en dit was duidelik dat hy baie deeglik navorsing gedoen het en goed voorbereid was.”

Ruan sê wat hom na die rol aangetrek het, was sy droom al vir ʼn hele klompie jare om eendag ʼn eenmanstuk te doen. “Ek het vir Leon gesê dat ek vreesloos eerlik en onbevange op die verhoog wil wees. Ek wil ook my beeld as sogenaamde ‘onskuldige seun’ op die kassie en silwerdoek afskud, sonder om onverantwoordelik te wees of bloot te skok. Ek het myself hart en siel in die moeilike en komplekse rol gewerp, nadat ek al drie romans noukeurig bestudeer het.”

Ruan en Lihan besig met repetisies. (Foto verskaf)

Dit was nie net die fisieke wat vir hom ʼn uitdaging was nie, maar ook om Tristan se unieke, onvoorspelbare wêreld te verstaan en weer te gee. “Tristan se wêreld is definitief interessant en vol avontuur en ongelukkig tragies ook. Ek het ʼn goeie idee gehad van waarvoor ek myself inlaat. Ek kan vir jou sê dat dit sover alles is wat ek wou gehad het. Iets om myself te verbeter en myself te druk, iets om vir mense te wys ‘ek kan!’.”

Lihan verduidelik hoekom hierdie storie nou na soveel jare weer relevant is. “Ek dink die storie is nie noodwendig weer relevant nie, maar stééds relevant. Ons leef steeds in ʼn samelewing wat so maklik oordeel, en selfs dalk makliker as voorheen kommentaar lewer op publieke of sosiale media-platforms, dog sonder om werklik hulself in die spreekwoordelike skoene van die ander persoon te plaas.”

  • Plesierengel speel by die Centurion Teater op Donderdag 21 April om 20:00, Vrydag 22 April om 20:00, Saterdag 23 April om 15:00 en 20:00 en Sondag 24 April om 15:00. Kaartjies beloop R160 elk en kan bespreek word by die Centurion-teater (063 376 4982), www.centurionteater.co.za of www.quicket.co.za.

Daarna is dit by Suidoosterfees van 28 tot 30 April; Linden-teater in Johannesburg op 13 en 14 Mei; Gate69 in Kaapstad van 18 tot 30 Julie; Etienne Rousseau-teater in Sasolburg van 9 tot 11 September. Meer vertonings sal later bevestig word.

Die produksie het ʼn ouderdomsbeperking van 16SNLV.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Wakkerslaper ·

Ek is bitter teleurgesteld dat MM hierdie goddelose gemors adverteer…. op die een blad het julle Christelike dagstukkies en Bybelstudie… op die volgende blad adverteer julle losbandigheid, sodomie en prostitusie asof daar niks fout is nie…?!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.