Prinsloo weer op die verhoog met Oskar en die pienk tannie

Sandra Prinsloo in Oskar en die pienk tannie (Foto: Verskaf)

Sandra Prinsloo in Oskar en die pienk tannie (Foto: Verskaf)

Die veteraanaktrise, Sandra Prinsloo, is van 7 tot 25 September in die Studio-teater by Montecasino in Johannesburg te sien in die gewilde verhoogproduksie, Oskar en die pienk tannie.

Dié produksie, wat sedert 2012 landwyd op verhoë te sien is, het reeds groot sukses behaal by feeste soos Innibos en Aardklop.

Sandra vertolk onder meer die rol van ʼn tienjarige seuntjie, wat terminaal siek is, sowel as dié van ʼn ouma en nog ʼn paar ander karakters in die kindersaal.

In die storie het Oskar kanker en sy operasie was onsuksesvol en hy blameer homself daarvoor.

Sy reddingsboei is Ouma Rosa, ʼn bejaarde vrou wat elke dag die kinderhospitaal besoek. Sy is wys, pittig en goddeloos.

Sandra Prinsloo in Oskar en die pienk tannie (Foto: Verskaf)

Sandra Prinsloo in Oskar en die pienk tannie (Foto: Verskaf)

Om hom te vermaak, versin sy staaltjies oor haar dae as rofstoeier, bekend as die Wildewoeste Weskus-wonder. Sy beskik oor morele dapperheid en lieg nie vir die kind nie. Sy beveel hom om elke dag te leef asof dit tien jaar is. Op dié manier kan hy tot op die rype ouderdom van 120 jaar leef. Sy raai hom ook aan om elke dag vir God ʼn brief te skryf en ʼn wens te maak.

Die oorspronklike verhoogproduksie, Oscar et la dame rose deur Eric-Emmanuel Schmitt, is deur Naòmi Morgan in Afrikaans vertaal. Die teks wissel tussen terloops hartseer en terloops snaaks.

Oskar en die pienk tannie is in 2012 aangewys as die beste debuut op die Vryfees en is bekroon op die KKNK sowel as Aardklop. In 2013 het Oskar en die pienk tannie drie Fiësta-pryse gekry toe Prinsloo aangewys is as beste aktrise, Lara Bye as beste regisseur en die produksie as die beste aanbieding.

Die speelvak duur van 7 tot 25 September. Kaartjies kos R130 en R165 en is beskikbaar by Computicket. Afslag op groepbesprekings en vir pensioenarisse is beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.