‘Queenie-hulle’ vertel storie ‘wat almal moet hoor’

Jill Levenberg speel die rol van Queenie in “Queenie-hulle”. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Die groep bergies wat woon op die trappe van die Goeie Hoop-sentrum in Kaapstad het nie ʼn goeie dag agter die rug nie.

Jerry het net R10 gekry vir twéé uur se karre oppas, iemand het die gemeenskaplike dop uitgesuip, en dan daag Queenie ook nog op met ʼn brief van die stadsraad om hulle uit hul blyplek te sit! Hoe nou gemaak?

Hulle sal die saak nie daar laat nie en begin met ʼn brief aan die owerhede. Whitey het darem Engels tot in standerd agt gehad, so hy weet wat om te skryf. “To whom it may concern….”

Queenie-hulle is een van die produksies wat jy op jou lysie móét hê op vanjaar se Aardklop in Potchefstroom. Dié stuk maak sy debuut op Aardklop en daar is reeds heelwat belangstelling in dié produksie wat Christo Davids op die planke bring.

Davids, onder meer bekend vir sy rolle in 7de Laan en Erfsondes, het in dié produksie sy akteurshoed gebêre en opgetree as skrywer en regisseur.

Jill Levenberg, wat Suid-Afrika se harte gesteel het in haar aangrypende rol as Ellen Pakkies in Die Ellen Pakkies-storie, vertolk die rol van Queenie. Louw Venter, Brendon Daniels, Lynelle Kenned en Jaques de Silva is die res van die akteurs in die rolverdeling.

Christo Davids het saam met Lloyd Davids die teks van “Queenie-hulle” geskryf en hy behartig ook die regie. (Foto: Maroela Media)

Davids sê die idee vir Queenie-hulle kom eintlik al ʼn geruime tyd. “My oom, Lloyd Davids, het in die laat 1980’s hierdie toneelstuk vir die eerste keer as ʼn baie kort 20 minute-produksie geskryf,” vertel hy.

“Ek was nog altyd baie verlief op hierdie storie wat hy geskryf het oor ʼn vrou wat eens op ʼn tyd ʼn Spring Queen was. Destyds het die werknemers van al die klerefabrieke elke jaar ʼn modevertoning gehou waar die verskillende fabrieke teen mekaar gekompeteer het vir die Spring Queen. Elke fabriek kies een werknemer en dié persoon moet in hulle uitrusting gaan modelleer.

“En in hierdie storie van hom het hierdie vrou, wat eens ʼn Spring Queen was, later ʼn bergie geword. Nadat sy gewen het, het hulle haar begin Queenie noem. Ek het net die storie wat hy gehad het gevat en dit oorgeskryf in ʼn volledige produksie wat vandag Queenie-hulle is.”

Die storie van Queenie-hulle speel af die dag voor die 2019 nasionale verkiesing wanneer die bergies op die stoep van die Goeie Hoop-sentrum kennis kry dat hulle die plek moet ontruim. “In die toneelstuk word daar gekyk na die invloed en die soort hoop wat ʼn verkiesing vir haweloses skep,” sê Davids.

“Dit gaan oor straatmense se struweling met waar hulle is en ander mense wat bevoorreg is se omgee oor dié mense; en wie se verantwoordelikheid is dit om hulle te help. Daar is ʼn hele argument in die produksie oor of hulle kan stem en of hulle nie kan stem nie, want volgens die een karakter het jy ʼn bewys van adres nodig voor jy mag stem. Weet haweloses dat hulle mag stem? Hulle is deel van hierdie land. Wat is die uitkoms hier? Dít is waarna die produksie kyk – die struwelinge van mense wat op straat bly.”

Louw Venter. (Foto: Facebook)

Davids sê dit is vir hom insiggewend hoe toneelstukke uit die verlede so dikwels steeds relevant vir die huidige stand van sake is en steeds aandag gee aan die probleme wat ons vandag in die gesig staar. “Ek dink altyd, probleme gaan nie noodwendig weg nie. Die probleem bly bestaan, hy kry net ʼn ander gesig.”

Davids sê vir hom was Levenberg nog altyd perfek vir die rol as Queenie. Hy het die konsep van Queenie-hulle reeds vier jaar gelede aan haar voorgehou en sy het toe reeds gretig ingestem om deel van die produksie te wees. “Sy was van die begin af vir my ideaal vir hierdie rol, want sy het ʼn ongelooflike aardse krag as aktrise wat ʼn rol soos hierdie nodig het,” sê hy.

Later het Brendon Daniels (Die Boland-moorde, Vallei van sluiers en Sara se geheim), Louw Venter (Alles wat mal is, The Most Amazing Show, en Swartwater), Lynelle Kenned (West Side Story, Blood Brothers, en Pasella-aanbieder) en Jaques de Silva (Silly Seasons, Erfsondes en Trilogy of Faith) die rolverdeling afgerond.

“Ek is baie opgewonde oor hierdie rolverdeling. Ek dink hulle gaan iets na hierdie produksie bring wat dit nodig het om materialiseer,” sê Davids.

Hy is net so opgewonde oor Aardklop en alles wat dié fees vir kunstenaars én feesgangers bied. “Aardklop bied ʼn platform vir kunstenaars om nie net bestaande werk na die verhoog te bring nie, maar om ook te eksperimenteer met nuwe werk en nuwe gedagtes en sodoende in nuwe gedagtegang aan die gang te sit. Dit bied ʼn geleentheid vir kunstenaars wat nie andersins dalk ʼn platform sou gehad het om hulle werk aan te bied nie. Daarom glo ek dat Aardklop en al die ander feeste ʼn baie belangrike rol speel in die voortbestaan van alle kunste.”

Lynelle Kenned. (Foto: Facebook)

Hoewel daar nie tans al planne is om Queenie-hulle by ander feeste op die planke te bring nie hoop Davids dat die produksie wel sal toer en nog meer gehore sal bereik. “Ek dink dit is ʼn belangrike storie, ek dink ons het dit nodig. Ons het nodig om bietjie die ander kant te hoor. Ons kan nie altyd net ons rug draai op dit wat hier reg voor ons staan nie,” sê hy.

“Die wêreld het natuurlik sedert die begin van tyd die haves en die have-nots, en ons moet onsself vra, wat is die regte van die have-nots? Wat is die toekoms van die have-nots? Ek glo nog altyd dit is makliker om iemand dood te maak as om sy hoop van hom af weg te vat,” sê hy.

Queenie-hulle is vir almal. Dit is nie geskep vir ʼn spesifieke gehoor nie. Dit is ʼn storie wat ons daagliks mee omgaan en dit is ʼn storie waar almal iets in sal vind. Ek hoop regtig dat hierdie produksie almal wat dit sien sal help om die persoon wat op die straat slaap uit ander oë te sien.”

Kaartjies vir Queenie-hulle is by Ticketpro beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

MC ·

Whao, dit sal ek graag wil sien – hoop julle toer Kaap toe ook, ek sal dit beslis vir niks op aarde mis nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.