[Resensie] Aardklop: Hemelruim

tinarie-van-wyk-loots-paul-du-toit

Paul du Toit en Tinarie van Wyk-Loots. Foto: Aardklop

Besluite. Almal neem daagliks honderde besluite wat die een na die ander (soms onsigbare) rimpeleffek op ons lewens het, of het dit? Is ons lewens dalk net toeval? Of ʼn reeks gebeure wat reeds uiteengesit is op ʼn tydlyn wat jy volg, sonder om enige bewustelike besluit te neem om dit te doen?

In die produksie Hemelruim kry die gehoor die geleentheid om te sien hoe en of elke besluit wat ons neem, gaan sorg vir ʼn ander uitkoms in ons lewens.

ʼn Paartjie, Mariaan, vertolk deur Tinarie van Wyk-Loots en Roelof, vertolk deur Paul du Toit, ontmoet tydens ʼn braai. Vandaar sien die gehoor verskillende weergawes van dié twee se lewens wat in parallelle heelalle afspeel, elkeen met sy eie besluite en gevolge.

Die teks is geskryf deur Nick Payne terwyl die vertaling, ontwerp, regie en oorspronklike musiek deur Nico Scheepers behartig is. Nico het verlede jaar tydens Clover Aardklop die gehoor se asem weggeslaan met sy produksie Wentel waarin Anna-Mart van der Merwe te sien was en hy stel vanjaar nie teleur met Hemelruim nie.

Soos met Wentel maak Nico uitstekend gebruik van klank en musiek terwyl sy stelontwerp perfek bydra tot die storie wat vertel word.

Tinarie is uitstekend in die rol en spring foutloos en moeiteloos tussen die verskillende ingesteldhede van haar karakter, terwyl Paul du Toit se natuurlike toneelspel jou laat vergeet jy kyk na akteurs op ʼn verhoog.

Hemelruim is pure teater, ʼn visuele fees vir die oog en is beslis ʼn moet-sien produksie tydens Aardklop.

Kaartjies is hier beskikbaar teen R120 per persoon.

Vrydag 9 Oktober 13:00 en Saterdag 10 Oktober 15:30.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.