[Resensie] Aardklop: People are living there

people-are-living-there2

Carel Nel en Anna-Mart van der Merwe in ‘People are living there’. Foto: Aardklop

Clover Aardklop se besluit om die Markteater se produksie van People Are Living There Potchefstroom toe te bring, is een van die grootste aanwinste op vanjaar se fees. In dié weergawe van Athol Fugard se drama van 1968 maak André Odendaal as regisseur gebruik van ’n rolverdeling wat van huis uit Afrikaanssprekend is: Anna-Mart van der Merwe as Milly, Carel Nel as Don, Francois Jacobs as Shorty en Dania Gelderblom as Sissy.

Deur die jare het verskeie aktrises lyf gegee aan die veeleisende rol van Milly. Van der Merwe maak dié rol haar eie deur onder meer daarin te slaag om in uitspraak onder die vel te kom van die Port Elizabethse Mildred Constance Jenkins. Die konneksie met Afrikaners in dié Fugard strek immers verder as net die karakters van Shorty en Sissy.

Die stuk speel af in ’n losieshuis in Braamfontein iewers in die 1960’s en Milly is die spil waarom alles draai. Haar weerloosheid, op ’n spits gedryf deur haar 50ste verjaardag wat aanbreek, word die leimotief aan die hand waarvan aspekte van vergetelheid en verlies verken word. Waansin bly nie uitgesluit nie en kry onder meer gestalte in die impromptu-verjaardagpartytjie wat die skyn van uitgelatenheid en ’n “good time” moet hê.

Benewens Van der Merwe se kragtoer is dit Jacobs as die eenvoudige bokser/posman wat beïndruk. Hy wek deernis en met knap tydsberekening bied hy dikwels verposing in ’n emosioneel gelade verhoogstuk.

Odendaal se interpretasie van tyd, verlore tyd en die paniek wat minderwordende tyd tot gevolg het, word deurgaans soos ’n sekondêre spanningslyn volgehou.

Hoewel Fugard in dié drama by tye diep delf is die stuk geen tragedie nie – dis eerder tragikomies. En hoewel die lewe van gewone mense (soos Don dit uitdruk) soms absurd is, is dit Milly se uitbundige lag wat ’n mens bybly wanneer die ligte verdoof.

Kaartjies is hier beskikbaar teen R130 per persoon.

8 Oktober om 13:00, 9 Oktober om 19:00 en 10 Oktober om 09:00.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.