[Resensie] Aardklop: ‘Siener’ se Tjokkie bly in jou kop agter

Foto: Facebook

Foto: Facebook

Die bekende teaterstuk Siener in die Suburbs deur PG du Plessis wat vandeesweek by die Clover Aardklop Nasionale Kunstefees te sien is, is ʼn produksie waarin die mooi en die lelik van die mens vergestalt word. Dit vertel die verhaal van ʼn armoedige gesin in ʼn voorstad van Johannesburg met hul eie intriges en dinamika. Elke lid van dié gesin stoei met iets, en is op soek na hul eie antwoorde. Vir elke karakter is daar iets om te wen, en iets om te verloor. Hul antwoorde lê opgesluit in Tjokkie, die seun wat met die helm gebore is, en sy vermoë om te “sien”. Tjokkie sien dié “vermoë” as ʼn gawe van God wat deur ander mense misbruik word.

Wat dié produksie so treffend maak, is die feit dat ʼn universele verhaal vertel word – die mens se soeke na betekenis en wat hy alles sal doen om dit te kry en te behou. Temas soos liefde, skuldgevoelens (spesifiek by Tjokkie en sy ma) en die droom om iets van jou lewe te maak en om uit te styg bo omstandighede verseker dat elkeen wat die stuk sien, daarmee kan identifiseer.

Dié drama kom uit PG du Plessis se pen, en is die eerste keer opgevoer deur die Transvaalse Raad vir die Uitvoerende Kunste op 12 Augustus 1971, met Francois Swart as regisseur. Die rolverdeling het Tine Balder, Louis van Niekerk, Don Lambrecht, Sandra Prinsloo, Marius Weyers, Annette Engelbrecht en George Ballot ingesluit.

Siener in die Suburbs het die reggekry om die toets van die tyd te deurstaan, en is vandag steeds relevant. Volgens prof. Hans du Plessis, navorsingsgenoot by die Noordwes-Universiteit se Navorsingseenheid vir Taal en Letterkunde, kan dit toegeskryf word aan die goeie storie en ongelooflike karakters. “Jy sal vandag nog sulke karakters kry.” Hoewel die dialoog eenvoudiger voorkom, moet dit nie onderskat word nie, sê hy. “Dis daardie ding oor die kompleksiteit van die eenvoud. Die dialoog lyk lig, maar die boodskap is nie so lig soos wat dit lyk nie.”

Met die sterk rolverdeling, word elke karakter so goed vertolk dat ʼn mens meegesleur word deur die komplekse verweefdheid van emosies. Dit is juis waarom Siener in die suburbs ʼn mens aangryp en baie diep raak.

Hierdie produksie los die teaterganger met baie vrae omdat die karakters se toekoms steeds onseker is teen die einde, maar dit is ook ʼn stuk wat ʼn diep indruk maak en wat lank nadat dit gesien word, steeds by ʼn mens bly.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae