[Resensie] Aardklop: Son. Maan. Sterre.

Tinarie van Wyk-Loots en Louis van Niekerk in "Son. Maan. Sterre". Foto: Anton de Jager

Tinarie van Wyk-Loots , Louis van Niekerk  en Lida Bothain “Son. Maan. Sterre”. Foto: Anton de Jager

In dié debuutwerk van die Britse dramaturg Alice Birch takel sy kindermolestering as onderwerp. Die oorspronklike Many Moons is deur Saartjie Botha knap vertaal en die rolverdeling bestaan uit Wilhelm van der Walt, Greta Pietersen, Tinarie van Wyk-Loots, Louis van Niekerk en Lida Botha.

Aanvanklik kom dié stuk voor as ’n reeks monoloë waarin vier van die vyf karakters besin oor onder meer die liefde. Namate die stuk vorder word die kyker bewus van konneksies tussen die karakters.

Daar is Oliver, die Oxford-opgeleide astrofisikus, meesterlik vertolk deur Van der Walt. Dan is daar Bubbles Botha, vertolk deur Greta Pietersen. Sy is ’n ontvangsdame in ’n spreekkamer en beliggaam een van die talle verwysings na Ingrid Winterbach se roman Die benederyk in Botha se vertaalde weergawe van Birch se stuk.

Megan, vertolk deur Tinarie van Wyk-Loots, is ’n swanger vrou met ’n skeermesbek wie se tirades soveel meer om die lyf het as net woede. Sy word tekenend van ’n geslag gewetenloses wat op sosiale media links en regs kan “name and shame” in die naam van geregtigheid.

Louis van Niekerk vertolk die rol van Robert, ’n man wat droom van ’n grafsteen wat hom kan verontskuldig. Sy vrou, June, vertolk deur Lida Botha, ly aan ’n vorm van demensie en stoei teen woordeloosheid. In die Britse weergawe is daar slegs verwysing na June. Sy verskyn nie op die verhoog nie.

Son. Maan. Sterre is een van daardie produksies wat sy tande in jou vleis inslaan en weier om te laat gaan. Dié onthutsende drama het ’n ouderdomsbeperking van 16.

Die regisseur is Christiaan Olwagen.

Kaartjies is hier beskikbaar teen R130 per persoon.

10 Oktober 09:00.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.